Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Só kom Netcare nou vereistes oor bemagtiging na

Netcare glo hy voldoen nou aan die vereistes van die hersiene kodes van goeie praktyk oor breë swart ekonomiese bemagtiging (BSEB) ten opsigte van hoe swart aandeelhouding gemeet word.

Netcare se Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad.

Die hospitaalgroep het Woensdag nadat die beurs gesluit het in ’n verklaring gesê wysigings is aan die trustakte van sy bemagtigingskema aangebring om “volle nakoming van die nuwe voorgeskrewe vereistes van die hersiene kodes oor BSEB asook die interpretasie van die BSEB-kommissie daaroor te verseker”.

Dit is wysigings aan die Health Partners for Life-bemagtigingskema, wat in 2005 aangegaan is en in 2015 herstruktureer is.

Netwerk24 het in 2017 berig Netcare is een van talle maatskappye wat vir moontlike skynbemagtiging deur die kommissie ondersoek word.

LEES OOK: MTN, Netcare ook vir skynbemagtiging ondersoek

Die departement van handel en nywerheid het in Augustus 2017 aangekondig die kommissie het met talle ondersoeke begin om te bepaal of die ondernemings die wet oortree ten opsigte van die swart aandeelhouers wat hulle aanvoer hulle het. Ten opsigte van Netcare wou die kommissie bepaal of die eienaarskap wat deur Health Partners for Life plaasgevind het en wat uit vier trusts bestaan, die wet nakom.

Netcare het Vrydag in reaksie gesê daar is nie ’n bevinding teen hom van die kommissie nie en die wysiging aan sy bemagtigingskema hou dus nie verband daarmee nie.

“Hierdie transaksie hou verband met ’n inisiatief wat direk verband hou met ons breër transformasiedoelwitte,” het Peter Warrener, direkteur van menslike hulpbronne, gesê. “Dit hou nie met nie-nakoming verband nie.” 

Hy het gesê die transaksie hou verband daarmee om swart eienaarskap te verbeter deur ’n transaksie om bestaande personeel te bevoordeel. Hy het gesê ’n verandering is aangebring aan die trustakte van ’n aandeleskema vir personeel wat deel van die bemagtigingskema is.

“Dit verseker nou dat die trustakte aan al die vereistes voldoen om te kwalifiseer vir eienaarskap volgens die hersiene kode oor goeie praktyk.”

Die wysiging behels onder meer ook dat die begunstigdes hul eienaarskap behou selfs al verlaat hulle Netcare of tree af.

Netcare sê ná die wysigings kon die trustees en die direksie van die hospitaalgroep toewysings van aandele aan personeel van die groep maak (uitgesluit senior bestuur). Dit is so gedoen dat die eienaarskapsgedeelte waarvoor die hospitaalgroep ’n telling ingevolge die hersiene kodes kry, verbeter.

Die toewysing sal Netcare in staat stel om sy breë swart eienaarskap te verhoog en sal sy algehele gradering tot vlak 4 verhoog (van vlak 5 in 2018 en vlak 8 in 2017), lui die verklaring.

Dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof van Netcare, het onlangs aan beleggers gesê voordat die kodes verander is, was die hospitaalgroep die voorste gesondheidsorgverskaffer ten opsigte van bemagtiging en is ’n vlak 2-gradering bereik.

Netcare het 160 miljoen aandele wat R1 miljard werd is aan die trusts versprei wat deel van die Health Partners For Life-trusts is.

Die Patient Care and Passionate People-trust is tot voordeel van Netcare se personeel gestig. Die trust het aandele aan personeel toegewys en het nog 61 miljoen aandele oorgehad wat nie toegewys is nie, plus 19,9 miljoen aandele wat as begunstigde van die Physician Partnerships-trust ontvang is. Laasgenoemde trust is geskep tot voordeel van dokters, verpleërs en ander mediese personeel.

Netcare en die trustees het nou ’n besluit goedgekeur om die 61 miljoen aandele toe te wys aan 20 350 permanente personeellede, waarvan 80% swart is. Die meeste van die swart personeel wat die aandele kry, is vroue.

Elkeen kry 3 000 aandele teen ’n 20%-afslag. Die begunstigdes sal van die dag van die toewysing af geregtig op 20% van die dividende op die aandele wees.

Die toewysing word gefinansier deur skuld en daar is ’n wagtyd van tien jaar voordat die aandele minus die uitstaande skuld aan die begunstigdes oorhandig sal word.

Die toewysing bring ’n eenmalige nie-kontantkoste van sowat R349 miljoen vir Netcare mee.

In Netcare se jongste jaarverslag word aangedui dat die hersiene kodes ’n teiken vir aandeelhouding vir swart Suid-Afrikaners van 25% plus een aandeel voorskryf. Nog ’n teiken is dat 10% in swart vroue se hande moet wees.

Afhangend van die mate waarin ’n maatskappy aan die teiken voldoen, word ’n telling ontvang.

Einde September was die stemreg wat deur swart mense gehou is 19,5%. Swart vroue het 8,6% van die stemreg gehou.

In sy jaarverslag vir die boekjaar tot einde September 2018 is getoon die afgelope twee jaar is onderskeidelik R21 miljoen en R49 miljoen aan die begunstigdes van die Health Partners For Life-trusts versprei.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.