Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Só wil staat private hospitale, dokters gebruik
Al Mediclinic, Life Healthcare en Netcare se hospitale kan gevalle van Covid-19 hanteer.

Die regering het ’n spesiale regulasie uitgevaardig om die private sektor se hospitale, dokters, verpleërs en toerusting te kan gebruik in die bekamping van die Covid-19-uitbreking, het Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, Donderdag aangekondig.

Hy het op ’n mediakonferensie gesê die regering het deur die nasionale departement van gesondheid met die private gesondheidsektor geskakel om deel van die gekoördineerde poging te word om die virus te bekamp.

LEES OOK: Virus: ‘Private hospitale sal deure moet open’

Volgens hom is die regulasies ingevolge die Mededingingswet afgekondig om die nodige samewerking moontlik te maak.

Die regulasies sal “private gesondheidsorgverskaffers in staat stel om hul optrede te koördineer as deel van die pogings van die nasionale departement van gesondheid”, het hy gesê.

Dit sluit in om geriewe, beddens, mediese voorraad, verpleegkundiges en dokters tussen verskillende ondernemings en die regering “te deel”.

Volgens hom dek die regulasies hospitale, mediese verskaffers, mediese spesialiste, radioloë, patoloë, laboratoriums, apteke en gesondheidsorgfinansiers (mediese fondse, administrateurs en gesondheidsorgbestuurders).

Die regulasies is onder nuwe bepalinge van art. 10 (10) van die Mededingingwysigingswet uitgereik wat in 2018 deur die parlement goedgekeur is en verlede jaar wet geword het.

Die doel van die regulasies is om vrystelling van wetsartikels vir ’n “kategorie van ooreenkomste en praktyke in die gesondheidsektor te gee” in reaksie op Covid-19 wat as ’n nasionale ramptoestand afgekondig is.

Luidens die regulasies sal dit “gesamentlike optrede bevorder” om te voorkom dat uitbreking vererger en om die impak daarvan te versag en te beheer.

Die regulasies sal toegang tot gesondheidsorg bevorder en uitbuiting van pasiënte voorkom.

Die doel is om die “deel van gesondheidsgeriewe, bestuur van kapasiteit en verlaging van pryse” moontlik te maak.

Die vrystelling geld vir hospitale sodat hulle ooreenkomste kan aangaan:

  • om te verseker dat pasiënte tussen hospitale toegewys word op die doeltreffendste wyse moontlik en dat die onderskeie hospitale se kapasiteit “doeltreffend gebruik word”;
  • oor hoe intensiewe sorg en isolasiekamers gebruik moet word;
  • vir die aankoop van hospitaalgoedere en farmaseutiese produkte sodat pasiënte behoorlik behandel kan word en dat dit “op die doeltreffendste wyse moontlik aangekoop kan word”;
  • oor hoe dienste, mediese beroepsmense en verpleërs onder die verskeie hospitale gedeel kan word;
  • oor hoe verpleërs en mediese praktisyns van een hospitaal na die ander verskuif kan word soos nodig;
  • sodat protokols vir die gehalte van versorging gestandaardiseer kan word; en
  • sodat mediese voorraad en toerusting verskuif kan word.

Die vrystelling sal mediese skemas help om ooreenkomste onder mekaar aan te gaan om te verseker dat die koste van diagnose, toetse en behandeling verminder.

Die regulasies stel ook ooreenkomste vry wat tussen die “private gesondheidsektor en die departement van gesondheid gesluit word met die uitsluitlike doel om bykomende kapasiteit by gesondheidsgeriewe aan die staat beskikbaar te stel en om genoegsame mediese voorraad aan die staat te verseker”.

Meer oor:  Ebrahim Patel  |  Covid-19  |  Hospitale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.