Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Solidariteit dreig met regstappe oor NGV-fonds

Die vakbond Solidariteit het ’n aanmaning aan die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid gestuur om hom kans te gee om ook ’n voorlegging aan dié komitee oor die wetsontwerp oor Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te doen.

Onder die vrese oor NGV is vir korrupsie met miljarde rande se bydraes vir gesondheidsorg.

Solidariteit voer aan hy word deur die komitee geïgnoreer.

Die openbare verhore in die parlement het op 18 Mei begin en het reeds op 11 dae plaasgevind.

Talle organisasies wat in die mediese en gesondheidsbedryf bedrywig is, het deelgeneem. Elkeen kry 45 minute om ’n voorlegging te doen en die parlementslede kry ’n kans om vrae te vra.

Baie van die partye het tot dusver kommer uitgespreek oor die wetsontwerp in sy huidige vorm nie genoeg maatstawwe instel om die reusagtige NGV-fonds teen korrupsie en bedrog te beskerm nie.

Daar is ook kommer oor die groot magte wat die minister van gesondheid het met die aanstellings – van direksielede tot die bestuur en komiteelede wat advies moet gee oor die voordele van die fonds.

Vandeesweek het organisasies soos die Vryemarkstigting en Business Unity South Africa (Busa) ook ’n kans gekry.

LEES OOK: Duisende dokters wil emigreer oor NGV

Solidariteit sê in die prokureursbrief aan die komitee hy het verskeie kere telefonies en skriftelik kontak probeer maak om ’n geleentheid te kry om ’n mondelinge voorlegging te doen.

Blykbaar is daar verlede week vlugtig per e-pos gereageer dat alle partye wat ’n mondelinge voorlegging wil doen, die geleentheid sal kry.

In die prokureursbrief van Hurter Spies word gesê Solidariteit sal nie huiwer om stappe te doen as hy ’n geleentheid geweier word om ’n voorlegging te doen nie.

As die komitee nie teen 9 Julie reageer nie, sal Solidariteit met ’n regsproses begin.

Connie Mulder, hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut, sê dit is “van kardinale belang dat elke belanghebbende wat aangedui het dat hy deel van die proses wil wees, die tyd en geleentheid gegun moet word om sy voorlegging te maak”.

“Dit is belaglik dat Solidariteit geïgnoreer word. Die regering kan nie net kies na wie hy wil luister na gelang van ideologie nie. Die hele land se gesondheidsektor is op die spel,” sê hy.

LEES OOK: Mediese fondse se bates ‘móét NGV toe skuif’

Hy sê as verteenwoordiger van verskeie dokters en ander mediese personeel dring Solidariteit daarop aan dat hy die geleentheid gegun word om sy insette tydens die verloop van die openbare verhore te lewer.

“Dit is duidelik dat die ANC-regering bloot gaan probeer om die NGV op die publiek af te dwing, soos wat die komitee probeer om die proses nou te stoomroller,” sê Mulder.

Solidariteit sê sy hofstukke is al lankal reg en enige pogings om die NGV af te dwing, sal met litigasie begroet word.

“As die entstofprogram se volslae mislukking ons een ding geleer het, is dit dat die regering wat nie die ligte kan aanhou nie, so ver as moontlik van gesondheid af moet bly,” sê hy.

Anton van der Bijl, hoof van regsdienste van Solidariteit, sê hul insette wat reeds skriftelik gelewer is, maak dit duidelik dat die NGV Suid-Afrika oor die afgrond gaan stuur.

Die komitee het nie gereageer op ’n versoek om kommentaar wat per e-pos gestuur is nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.