Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Soveel kos ondersoek na rassisme by mediese fondse

Die onafhanklike ondersoek na rassisme deur mediese fondse ten opsigte van die betaling van rekeninge, gaan die Raad op Mediese Skemas (RMS) sowat R10 miljoen uit die sak jaag.

Kabane
Dr. Sipho Kabane, registrateur van mediese skemas. Foto: Nellie Brand-Jonker

Daarby gaan ’n ondersoek van die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) na aantygings oor wanadministrasie by die RMS sowat R4,6 miljoen kos.

Dr. Sipho Kabane, registrateur van mediese skemas, het die koste van dié ondersoeke verlede week aan die portefeuljekomitee oor gesondheid bekend gemaak.

Die RMS se inkomste vir sy bedryfsbegroting kom hoofsaaklik van die heffings wat die hooflede van mediese fondse betaal. In die pasafgelope boekjaar tot einde Maart het dit R144,2 miljoen beloop.

Die RMS kry net R8 miljoen van die nasionale departement van gesondheid, terwyl nog R7,5 miljoen gekry word uit die akkreditasie en registrasie van ondernemings wat die RMS reguleer.

Die RMS het die ondersoek na rassisme begin nadat ’n betreklik nuwe organisasie – National Health Care Professionals Assocation (NHCPA) – beweer het swart dokters word op grond van ras deur mediese fondse benadeel.

Die ondersoek handel oor die toepassing van art. 59 van die Wet op Mediese Fondse, wat handel oor die eise van gesondheidsorgverskaffers en hoe dit gehanteer word. Subart. 3 handel oor geld waarop ’n verskaffer nie geregtig is nie of geld wat ’n mediese fonds verloor weens diefstal, bedrog, nalatigheid of ’n misdryf. Dié geld mag afgetrek word van enige voordeel wat aan die verskaffer betaalbaar is.

Die RMS het aanvanklik gesê die finale verslag sou op 1 November uitgereik word. Maar Kabane sê die reaksie op die ondersoek was groter as verwag. Die ondersoekers het gevra om die spertyd tot einde Januarie uit te stel wanneer ’n konsepverslag uitgereik sal word.

Kabane sê dit is nog nie bekend wanneer die SOE se ondersoek afgehandel sal wees nie. Volgens hom betaal die RMS vir die SOE se ondersoek.

Netwerk24 het middel Julie berig die SOE se ondersoek na aantygings van wanadministrasie by die RMS het begin. Dit kom ná klagtes van onbehoorlike optrede deur amptenare van die RMS.

Die RMS het op 8 Februarie in ’n verklaring gesê 'n afdelingshoof is geskors hangende ’n ondersoek na ernstige wangedrag.

Die RMS het ’n anonieme wenk ontvang dat die persoon na bewering ’n korrupte verhouding het met die organisasies wat die RMS reguleer. Hy het na bewering onder meer die RMS doelbewus mislei dat hy finansieel vergoed is om besluite in die guns van die betrokke buite-organisasies te neem.

Kabane het nie gesê wat die RMS se eie ondersoek gaan kos nie. Hy sê daar gaan bykomende koste wees omdat nog amptenare geskors is.

“Dit sal beslis bykomend tot die R14,6 miljoen wees, maar ons het nie op die oomblik ’n raming oor wat dit gaan kos nie.”

Die RMS het in September aangekondig vyf van sy amptenare is geskors, waaronder twee afdelingshoofde.

LEES OOK: 5 geskors by waghond oor mediese fondse

Volgens Kabane hou dit verband met bewerings teen die betrokke amptenare oor onetiese gedrag en korrupte verhoudings met mense in die bedryf, onreëlmatighede met kontrakte, en die betrokkenes se leefstyle wat nie in pas is met hul inkomste nie.

Kabane sê die ondersoek begin eersdaags en hulle werk ten nouste saam met die SOE.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.