Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Staat wil self jou pille maak

Die regering wil ’n staatsbeheerde farmaseutiese maatskappy begin as deel van ’n plan om die gesondheidsektor reg te ruk.

Farmaseutiese maatskappye is nie gekant teen die idee van ’n staatsmaatskappy wat met hulle meeding nie.

Dit is een van die ingrypings wat voorgestel word in die verslag oor die gesondheidsberaad wat die afgelope week uitgereik is.

Die ANC het by sy 2007-kongres besluit daar moet so ’n maatskappy wees, maar daar het dadels van gekom.

’n Aanvoorprojek, Ketlaphela, is teen 2011 begin om vennootskappe met die private sektor te ontwikkel om aktiewe bestanddele vir onder meer antiretrovirale middels en medisyne vir tuberkulose te vervaardig.

Business Day het Maart verlede jaar berig Ketlaphela het weer tenders gepubliseer om ’n vennoot te kry.

Maar die idee van ’n volskaalse staatsbeheerde onderneming is nou weer terug op die tafel.

Volgens Forbes kan dit tot $11 miljard (R155 miljard) se beleggings verg om ’n farmaseutiese produk te ontwikkel, na te vors en na die mark te bring.

Dr. Konji Sebati, uitvoerende hoof van die Innovative Pharmaceutical Association of South Africa (Ipasa), wat vervaardigers soos Bayer, Pfizer, Roche, Novartis en Novo Nordisk verteenwoordig, sê hulle is nie gekant teen die idee van ’n staatsmaatskappy wat met hulle meeding nie.

Sy sê die regering moet egter eers antwoorde gee oor Ketlaphela en waarom daar nog geen vordering was nie.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid.

“Meer plaaslike vervaardiging om die risiko te verminder wat verband hou met hoëvolume-invoer van Indië en China, is ’n briljante inisiatief, en Ipasa steun dit ten volle.”

Ipasa sê hulle het baie om te bied in samewerking met die regering, maar dit is twyfelagtig of die regering die nodige geld het om self produkte te ontwikkel.

Die Suid-Afrikaanse regering het sedert die inwerkingtreding van die Wet op Patente in 1978 nog nie ’n enkele verpligte lisensie uitgereik, soos die Wêreldhandelsorganisasie toelaat nie.

Verpligte lisensies laat ’n farmaseutiese maatskappy toe om ’n generiese produk van ’n ander maatskappy te vervaardig teen vergoeding aan die oorspronklike ont­wik­kelaar, al het die ontwikkelaar se patent nog nie verstryk nie.

Dit kan gedoen word in die openbare belang, soos byvoorbeeld antiretrovirale middels wat op groot skaal nodig is.

Ander ontwikkelende lande vervaardig wel generiese middels op dié manier.

Die vakverbond Cosatu sê hulle ondersteun die idee van ’n staatsbeheerde farmaseutiese maatskappy en wil weet waarom Ketlaphela nog niks opgelewer het nie.

Sizwe Pamla, Cosatu-woordvoerder, sê so ’n maatskappy sal baie help om die land se gesondheidsorg te verbeter, onder meer omdat dit die koste van medikasie sal verlaag met mededinging en ook pryse laer sal dwing deur grootmaataankope.

Maar nie almal stem hiermee saam nie.

Jasson Urbach, hoof van die Vryemarkstigting se eenheid vir gesondheidsbeleid, sê ’n staatsbeheerde maatskappy is ’n absurde idee en mense hoef net na ander ondernemings soos Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens te kyk om te weet waarom.

Hy sê belastingbetalers se geld kan veel beter aangewend word. Die staat het reeds die voordeel dat hy sekere medikasie teen laer pryse kan bekom – in gevalle tot so laag soos 10% van die koste in die private sektor.

Ander voorstelle

Ander voorstelle wat in die verslag vervat is, sluit in:

  • Dringende opgraderings van bestaande hospitale en klinieke. Die deelnemers aan die beraad het dié koste op meer as R50 miljard geskat.
  • Kritieke poste moet gevul word, onder meer deur probleme met die registrasie van buitelandse dokters op te los.
  • Die staat moet op sentrale grondslag alle aankope doen, soos die nasionale gesondheidsversekering (NGV) voorsien.
  • Meer geld moet aan provinsies bewillig word. Sowat 75% van hul begrotings word tans aan salarisse bestee.
  • Die omstrede “behoefte-sertifikate” moet geïmplementeer word.

Die laaste voorstel hieroor was dat dokters eers ’n sertifikaat moet bekom om te bevestig daar is ’n behoefte aan hul diens in ’n betrokke gebied.

Dit is om seker te maak dokters praktiseer nie net in die ryk gebiede nie.

Die meeste dokters is erg gekant hierteen omdat hulle vrees hulle sal net in gebiede lisensies kan kry waar pasiënte hulle nie kan betaal nie.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama), het by navraag gesê die verslag is nog nie die finale plan nie.

Verskillende taakspanne moet nou aan die voorstelle werk.

Sama is bemoedig deur die debatte oor die behoeftesertifikate. “Daar is nou ’n ander benadering.”

Coetzee sê dit lyk of die regering nie dokters wil uitsluit om in sekere plekke te praktiseer nie, maar eerder met aansporings lok na plekke waar daar groot nood is.

Die plan was dat daar al ’n ooreenkoms met finale besluite onderteken moes wees aan die einde van Desember, maar daar was meningsverskille tussen die rolspelers.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het Dinsdag gesê daar is nege verskillende taakspanne wat nou die besonderhede gaan uitpluis.

Daarna sal die finale ooreenkoms opgestel word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2185,94 (918)
  • Top 40 50077,78 (-5644)
  • All Share 56123,83 (-9658)
  • Resource 10 43758,63 (-5410)
  • Financial and Industrial 30 76079,11 (-10135)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.