Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Staat wil stééds voorskryf waar dokters mag werk

Dokters is ontsteld omdat die staat se plan met “behoeftesertifikate” onverwags ’n terugkeer gemaak het.

covid
Die regering wil met behoeftesertifikate reguleer waar private medici mag werk.

Ná ’n stilte van ses jaar het die departement van gesondheid die regulasies wat met die behoeftesertifikate te doen het, in Junie in die Staatskoerant vir kommentaar uitgereik.

Die regulasies handel oor bepalinge van die Nasionale Gesondheidswet dat ’n behoeftesertifikaat benodig word om ’n gesondheidsinstelling te bestuur, te vestig, te koop, te bou of te wysig.

Ingevolge die regulasies moet alle mediese praktisyns aansoek doen vir ’n sertifikaat voordat hulle mag praktiseer. Hiervolgens sal gesondheidspraktisyns dan voorgeskryf word waar en hoe hulle mag praktiseer.

Solidariteit noem dié regulasies “drakonies” en beloof dit gaan ten sterkste teengestaan word.

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) sê die regulasies gaan die grondwetlike regte van dokters beperk en moet dringend herroep word.

Volgens Sama is die behoeftesertifikate ’n omstrede onderwerp en is die regulasies stilletjies gepubliseer.

“Eerstens is ons teleurgesteld oor die skielike, onderlangse wyse waarop die regulasies sonder kennisgewing gepubliseer is,” sê dr. Angelique Coetzee, voorsitter van Sama.

Ons glo dit gaan die onbedoelde gevolg hê om dokterspraktyke onnodig te sluit en ’n uittog van dokters uit die land tot gevolg hê.
Dr. Angelique Coetzee van Sama

Boonop was net ’n maand vir kommentaar toegelaat. Ná kritiek daaroor is die spertyd tot 15 Augustus uitgestel.

Sama het verder ook kommer oor die implikasies van die wetgewing.

“Ons glo dit gaan nadelig wees vir die verskaffing van gesondheidsdienste in ’n land wat reeds sukkel om die dienste op doeltreffende wyse te lewer,” sê sy.

“Ons glo dit gaan die onbedoelde gevolg hê om dokterspraktyke onnodig te sluit en ’n uittog van dokters uit die land tot gevolg hê.”

Die regulasies is nie net op dokters van toepassing nie, maar ook op private hospitale.

Wat die skok soveel groter gemaak het, is dat die wetsartikels ingevolge waarvan die regulasies uitgereik word, voorheen nietig verklaar is.

Verloop van gebeure

’n Groot bohaai het in 2014 losgebars oor behoeftesertifikate nadat sekere wetsartikels van die Nasionale Gesondheidswet (van 2003) deur proklamasie in werking gestel is toe oudpres. Jacob Zuma dit onderteken het.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging. Foto: Deon Raath

Die departement het kort daarna advies van die staat se regsadviseurs gekry dat die proklamasie van die wetsartikels teruggetrek moet word.

Die enigste uitweg vir Zuma was om die konstitusionele hof te nader met ’n aansoek om die wetgewing nietig te laat verklaar, wat in 2015 gedoen is.

Die wetgewing het bepaal dat elke reeds bestaande gesondheidsdiensverskaffer in die land van voor af aansoek moes doen vir ’n behoeftesertifikaat.

In die hofsaak het dit aan die lig gekom dat die wetsartikels foutiewelik deur die president in werking gestel is omdat die regulasies wat uitvoering daaraan moes gee, nog nie geskryf is nie.

Henru Krüger, sektorhoof van die beroepsgilde van Solidariteit, sê die probleem was dat die staat die wetgewing wou deurdruk wat sê ’n sertifikaat moet gekry word, maar dis nie saam met die regulasies gepubliseer oor hoe aansoeke sou werk nie.

“Die konstitusionele hof het gesê dis irrasioneel.”

Die voortydige inwerkingstelling van die wetgewing sonder die regulasies het tot gevolg gehad dat gesondheidsorgverskaffers van 1 April 2014 tot 27 Januarie 2015 in werklikheid onwettig gepraktiseer het, is voorheen berig.

Wat nou gebeur

Wat nou gebeur, is andersom, want die regulasies is uitgereik voordat die wetsartikels die lig sien, volgens Krüger.

“Die regulasies sê hoe en hoekom aansoek gedoen moet vir ’n sertifikaat. Sodra dit deur is, gaan die wetgewing wat voorheen deur die konstitusionele hof nietig verklaar is, weer deurgedruk word,” meen hy.

Die sertifikate is niks minder as die effektiewe oorname van gesondheidspraktisyns se praktyke nie.
Henru Krüger van Solidariteit

Hy verwag dat die president volgende die inwerkingstelling van die wetsartikels sal aankondig.

Volgens hom is die idee dat die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (wat tans ’n konsepwetsontwerp is) die wetsartikels gaan vervang.

Regte aangetas

“Die sertifikate is niks minder as die effektiewe oorname van gesondheidspraktisyns se praktyke nie,” sê hy.

Solidariteit meen die regulasies is ongrondwetlik omdat dit gesondheidspraktisyns en pasiënte se grondwetlike regte van vryheid van professie én vryheid van assosiasie misken.

“Ons glo dat die grondwetlike regte van individuele mediese dokters, soos vryheid van beweging en verblyf, vryheid van handel, beroep en werk, die reg op eiendom en die reg op menswaardigheid negatief beïnvloed sal word. Ons kan eenvoudig nie die voorstelle aanvaar nie, en dit moet dringend herroep word,” sê Coetzee.

Krüger sê die implikasies vir mediese sorg en die mediese beroep is verreikend.

“Die staat kan nie die totale mediese professie in die land beheer nie. Hulle beskik nie oor die vaardighede of die finansiële hulpbronne nie. Ons het reeds gedurende Covid-19 gesien hoe ver die staat se onbevoegdheid en korrupsie strek.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.