Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Staatspasiënte dalk gou in private hospitale
Al Mediclinic, Life Healthcare en Netcare se hospitale kan gevalle van Covid-19 hanteer.

Private hospitale sal waarskynlik binnekort kan begin om staatspasiënte met Covid-19 in te neem om die druk op die openbare hospitale te verlig.

Melanie Da Costa, direkteur van strategie en gesondheidsbeleid van Netcare, het bevestig die departement van gesondheid en private hospitale het ’n ooreenkoms oor die opneming en die behandeling van staatspasiënte in private hospitale aangegaan.

Netwerk24 het Dinsdag berig dat dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, in die Paarl op ’n mediakonferensie gesê het dat die regering dié aand die onderhandelings met die private sektor oor die pryse vir die gebruik van hospitaalbeddens in private hospitale behoort te finaliseer.

LEES OOK: Private hospitale sal help as beddens min raak – Mkhize

Dr. Stefan Smuts, hoof- kliniese beampte van Mediclinic Suider-Afrika, het gesê die minister het inderdaad Dinsdagaand ’n vergadering gehou met die private sektor waar die hospitaalgroepe en verteenwoordigers van doktersverenigings teenwoordig was.

“Die beoogde beginsels vir samewerking tussen die openbare en private sektor is aangekondig, asook die voorgestelde pryse vir toegang tot die private sektor,” het Smuts gesê.

Volgens hom is Mediclinic oor die algemeen gemaklik met die voorgestelde beginsels, maar die groep besef ook dat daar “sekere aspekte is wat verdere aandag benodig”.

Hy het nie uitgebrei oor wat dít behels nie.

Mkhize het Dinsdag gesê niemand sal weggewys word by private hospitale as hulle leë beddens het en die staatshospitale vol is nie. Hy is veral bekommerd oor die Wes-Kaap.

Business Day het verlede week berig dat ’n ernstige tekort aan beddens in waakeenhede in Kaapstad ondervind word.

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondag op ’n vergadering met die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum gesê die land het 25 000 beddens in waakeenhede nodig. Daar is tans net 3 500. Hy het gesê hy sal persoonlik aandag skenk aan die kwessie, waarskynlik met verwysing na die staatshospitale se beddens.

Geen winsbejag

Dr. Ronnie van der Merwe, uitvoerende hoof van die internasionale Mediclinic-groep, het Dinsdag op ’n mediakonferensie oor die groep se resultate gesê Mediclinic het nog altyd gesê hy het geen begeerte om wins te maak uit staatspasiënte nie en dat dit op ’n grondslag van kosteverhaling sal werk.

Netcare het ook onlangs gesê hy is daartoe verbind om staatspasiënte op ’n niewinsgewende grondslag te behandel, het Business Day berig.

Provinsies moet nou ooreenkomste aangaan

Mkhize het Dinsdag gesê sodra die ooreenkoms beklink is, sal die provinsiale gesondheidsdepartement met private hospitale oor die gebruik van hul beddens kan onderhandel.

Smuts het op die navraag of hospitale soos Mediclinic in Kaapstad, Panorama en Stellenbosch nou sal mag begin om staatspasiënte in te neem, gesê die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement en die hospitale is nog in die proses om dit te finaliseer.

“Ons is baie ver gevorderd met die finalisering van die ooreenkoms.”

Individuele kontrakte moet met elke hospitaalgroep aangegaan word.

Dokters ook betrek

Smuts het gesê dit is egter ook belangrik dat daar ’n ooreenkoms met rolspelers soos dokters, radioloë, patoloë en ander is. Volgens hom is die onderhandelinge hieroor nog nie gefinaliseer nie. Dit blyk wel dat dié gesprekke ook in ’n gevorderde stadium is.

Of ’n sekere persentasie beddens in ’n private hospitaal opsygesit gaan word vir staatspasiënte, het hy gesê die departement van gesondheid gaan pasiënte verwys waar hulle druk op hul hulpbronne ervaar en waar private hospitale en private dokters die kapasiteit het om hulp te verleen.

Dit is nie seker of die onderhandelings oor die pryse afgehandel is nie.

“Ons is nie in die posisie om enige kwessie oor pryse in die openbaar te bespreek nie.”

Volgens hom hou dit met die Mededingingswet verband wat verbied dat pryse kollektief onderhandel word. Die bedryf het nie tans vrystelling daarvan nie, het hy gesê.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.