Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Te min tyd vir kommentaar oor ‘entstof-fonds’

Daar is kommer oor die kort tydperk waarin die publiek kommentaar kan lewer oor ’n vergoedingsfonds vir beserings weens Covid-19-inentings.

Ter illustrasie. Foto: Argief

Die regering wil hierdie vergoedingsfonds kragtens regulasies van die Wet op Rampbestuur oprig en het net vier dae aan die publiek gegee om kommentaar te lewer.

Die drukgroep Dear SA sê die wysigings aan die regulasies om vir so ’n fonds voorsiening te maak, is van groot belang vir alle Suid-Afrikaners omdat dit entstofvervaardigers in ’n mate vrywaar van enige aanspreeklikheid vir moontlike beserings weens Covid-19-entstowwe. Hy wil minstens drie weke se kommentaartyd hê.

Beserings is anders as newe-effekte en veroorsaak permanente, wesenlike en ernstige skade aan ’n persoon se gesondheid of lei tot die dood.

Die wysigings is op 15 April uitgereik en die sluitingsdatum vir kommentaar is die einde van die werksdag Maandag 19 April.

Dear SA is ’n organisasie sonder winsbejag met 750 000 lede. Dit is opgerig om openbare deelname oor beleid en wetswysigings aan te moedig. Besoek sy webtuiste hier.

Dear SA het verlede week ’n dringende prokureursbrief aan dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, gestuur om te vra dat die kommentaartyd met minstens drie weke verleng word. Sy is gevra om voor die einde van die werkdag op 19 April te reageer.

“Vier dae is heeltemal onaanvaarbaar vir openbare deelname hieroor. Dit is uiters belangrik dat Suid-Afrikaners inspraak kry oor die vergoedingsfonds vir entstofbeserings,” sê Rob Hutchinson van Dear SA.

Hy sê belastingbetalers gaan opdok vir die vergoedingsfonds.

“Dit verskuif ’n eis teen die entstofvervaardiger na die belastingbetaler. Dit is ’n growwe skending van die reg op regverdige optrede.”

Daniël Eloff, regsverteenwoordiger van Dear SA van Hurter Spies Ink., sê in die brief dié stap behoort alle Suid-Afrikaners baie bekommerd te maak, veral omdat dit ’n mate van “geen aanspreeklikheid” skep vir entstofvervaardigers.’

Die wysiging aan die regulasies kragtens die Wet op Rampbestuur wat voorsiening maak vir ’n vergoedingsfonds indien mense ’n entstofbesering opdoen.

Hy sê die aard van wetgewing of die besluitneming wat betrokke is, asook die belangrikheid van die betrokke wetgewing en die impak daarvan op die publiek, moet oorweeg word wanneer bepaal word of die tydperk vir openbare deelname redelik is.

“Dear SA is van mening dat die tyd wat toegelaat word vir openbare deelname, onredelik kort is. Gevolglik, in die lig van die belangrikheid van die onderwerp, is die vier dae wat toegelaat word, ’n growwe skending van die reg op regverdige administratiewe aksie en is dus onwettig, onredelik en prosedureel onbillik.”

Die wysiging maak voorsiening vir ’n vergoedingsfonds wat onder die beskerming van die nasionale departement van gesondheid opgerig word.

Dit word beskryf as ’n noodsaaklike deel van die inentingsprogram. “Die doel hiervan is om vinnige en maklike toegang tot vergoeding te gee vir persone wat ’n entstof-besering as gevolg van die Covid-19-entstof opdoen,” lui die voorgestelde wysiging.

Dit hou verband met Covid-19-entstowwe wat deur die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte Beheerraad (Sahpra) goedgekeur is en aangekoop en versprei word deur die nasionale regering.

Dit behels dat die minister van gesondheid in oorleg met die kabinetslid verantwoordelik vir finansies riglyne kan uitreik oor wie in aanmerking kan kom vir eise; watter tipe beserings gedek word; die spesifieke entstowwe wat gedek word; plekke waar inenting amptelik gedoen word; die tydperk waaronder ’n entstof gedek sal word; en hoe eise ingestel moet word.

Die minister moet ook in konsultasie met die minister van finansies riglyne uitreik wat die bedrae van vergoeding spesifiseer.

Dit bepaal dat ’n “eis vir skadevergoeding deur ’n hofproses wat spruit uit ’n entstofbesering wat na bewering veroorsaak is deur die gedrag van ’n entstofvervaardiger, nie teen die vervaardiger nie, maar slegs teen die nasionale regering ingedien kan word”. Dit hou verband met die vrywaring wat die regering aan vervaardigers verleen het ingevolge die entstofaankoopprogram.

Meer oor:  Dear Sa  |  Nkosazana Dlamini-Zuma  |  Covid-19  |  Entstowwe  |  Vergoedingsfonds  |  Entstof  |  Kommentaar  |  Entstofprogram
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.