Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
‘Te veel mediese dienste gebruik’

Suid-Afrikaners gebruik gans te veel mediese dienste omdat hul dokters en hospitale hul eie beursies wil laat bult, sê die Mededingingskommissie.

Die Mededingingskommissie sê dis ’n probleem dat dokters die behandeling aanbeveel - en dit dan self verskaf. Foto: iStock

Die paneel wat private gesondheidsorgkoste ondersoek (HMI), het Donderdag ’n memo uitgereik oor sy voorlopige standpunte nadat hulle voorleggings van die land se dokters, hospitale en mediese fondse oorweeg het.

’n Seminaar wat fokus op verskaffer-gedrewe vraag (SID) word Vrydag gehou.

SID is een van die mees omstrede onderwerpe wat die HMI bekyk om ingrypings vir die private gesondheidstelsel te formuleer. In sy voorlopige verslag blameer die HMI in ’n groot mate die verskaffers se gedrag vir weghol-pryse.

Sedert die verslag laat verlede jaar gepubliseer is, gooi rolspelers wal.

Netcare en Discovery Health sê albei in hul voorleggings hoër hospitaalopnames en hoër vraag na private gesondheidsorg het te doen met die hoër voorkoms van sekere siektetoestande en ’n ouer bevolking.

Discovery sê verder data van Discovery Health- mediese skema (DHMS) tussen 2010 tot 2018 wys groter gebruik van mediese dienste is die hoofrede vir stygende mediese inflasie, maar hulle verskil dat dié groter gebruik deur die verskaffers gedryf word.

Hulle sê pasiënte dring aan op meer sorg en het bloot meer behoeftes.

Verskeie rolspelers bevraagteken ook die geldigheid van die HMI se studie oor SID.

Discovery sê byvoorbeeld die HMI het nie genoeg in ag geneem nie dat die gemiddelde lid van ’n mediese fonds ouer en sieker is as die gemiddelde Suid-Afrikaner.

As voorbeeld sê hulle 26,8% van die Suid-Afrikaanse bevolking is ouer as 40 jaar, maar 39,2% van mediesefondslede is 40-plussers.

Uit Donderdag se nota blyk dit die HMI is nie oortuig deur die voorleggings nie. Die paneel sê verskaffers van gesondheidsdienste, veral dokters, adviseer nie net pasiënte oor behandeling wat tot hul voordeel sal wees nie, maar verskaf ook dié behandeling.

Die HMI se standpunt is dat mediese fondse nie SID behoorlik bestuur nie. Mediese fondse doen dit tans deur bestuurde gesondheidsprogramme, protokolle vir behandeling, voorafmagtigings, netwerke vir dokters en hospitale en lyste van voorkeurmedisyne.

Die HMI sê dít is eenvoudig nie doeltreffend genoeg om SID te keer nie. Daarom gaan hulle voort met die formulering van voorstelle om SID in bedwang te bring. Dit sluit in:

  • Prysregulering van dienste en produkte;
  • ’n Enkele vergelykbare basiese mediesefondsopsie met ’n risiko-aanpassingsmeganisme om mededinging tussen skemas te verhoog,
  • Meer verantwoordbaarheid van dokters om te wys dat die behandeling nodig en doeltreffend was.

Die HMI sê Suid-Afrikaanse private tariewe is bo die wêreldnorm vir ses uit sewe siektetoestande soos rekonstruksie van kunsmatige gewrigte, keisersneë en mangelverwydering.

Suid-Afrika het ook die hoogste koers van noodsorg-opnames in die wêreld.

Die paneel sê hy sal op die seminaar graag ander voorstelle hoor oor wat gedoen kan word om SID in te kort.

Benewens Discovery word aanbiedings verwag deur die private groepe Mediclinic, Netcare en Life Healthcare, die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama), die Suid-Afrikaanse Vereniging van Narkotiseurs, individuele gesondheidsorgkenners en die staat se siekefonds, Gems.

Mediclinic sê in hul voorlegging die HMI-ontleding is nie akkuraat nie, want hulle kan byvoorbeeld nie met sekerheid sê of die verskaffing van dienste nodig of onnodig was nie.

Sama het onder meer ’n probleem met die paneel wat “diskresionêre dienste” beskou as enige diens wat nie-lewensbedreigend of ’n noodgeval is nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1375,9 (-3901)
  • Top 40 48427,67 (13755)
  • All Share 54423,55 (15232)
  • Resource 10 42754,47 (37147)
  • Financial and Industrial 30 72753,67 (6357)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.