Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Tekort aan dokters, verpleërs: NGV dalk goeie nuus?

Die plan waarmee die ministeriële taakspan oor mensehulpbronne vir die gesondheidsektor na vore moet kom, gaan nie stof vergader soos die voriges waarvan niks gekom het nie.

Verpleging
Suid-Afrika het ’n groot tekort aan verpleërs. Foto: iStock
iStockphoto.com

Só het prof. Eric Buch, ondervoorsitter van die taakspan, Woensdag in Kaapstad op die jaarlikse konferensie van die Hospitaalvereniging van Suid-Afrika (Hasa) belowe.

Buch het deelgeneem aan ’n paneelbespreking oor die tekorte aan gesondheidspraktisyns in die land en die wanbalanse tussen die private en staatsektor.

Deel van fase een van die Nasionale Gesondheidsversekeringsplan (NGV) is om die staatsektor te verbeter. Dit sluit in om die infrastruktuur op te knap en om die personeeltekort in die gesondheidsektor te takel. Fase een het in 2017 begin en moet tot 2022 duur.

Prof. Lungile Pepeta, dekaan van die fakulteit van gesondheidswetenskappe van die Nelson Mandela-Universiteit in Port Elizabeth meen die probleem met personeel is dat die staat geen strategie het nie. Hy het verwys na vorige verslae oor die probleem wat nog nie gefinaliseer of in werking gestel is nie.

NGV dalk goeie nuus?

Buch meen as NGV goed in werking gestel word, gaan dit implikasies vir personeelgetalle inhou.

“NGV, afhangend of dit goed in werking gestel kan word, behoort te verseker dat daar ’n beter vertoning uit die staatsektor kom omdat jy prestasiekontrakte gaan kry en daar gaan nie so baie ruimte vir korrupsie wees nie.

“Op die oomblik, of jy goed vaar of sleg vaar, kry jy volgende jaar ’n 8%-groter begroting en jou werk is verseker. Maar, met NGV, as jou hospitaal swak vaar en jy nie genoeg pasiënte kry nie en jy daarom nie genoeg geld inkry nie, kan jy nie jou personeel betaal nie.”

Hy het gesê NGV gaan ook die oorbediening in die private hospitale hanteer, want “wat gaan jy doen as jou NGV-kontrak jou toelaat om ’n maksimum van 20% keisersneë te doen?”

Hy het gesê die NGV moet meer geld in die stelsel inbring.

“Meer geld in die stelsel gaan per definisie meer poste beteken.”

Buch het gesê daar was ten minste drie vorige verslae oor planne wat sedert 2001 oor die onderwerp uitgereik is.

Volgens hom het ’n situasie-ontleding deur die taakspan “baie dinge getoon wat veronderstel was om te gebeur, maar wat nie het nie”.

“Dit is duidelik dat daardie planne op die rak gebly het en stof vergader het en dat daar nie voldoende monitering oor die vordering met inwerkingstelling plaasgevind het nie.”

Volgens hom gaan die taakspan spesifiek fokus op hoe die strategie se inwerkingstelling gedryf moet word en die verbintenisse wat daarvoor nodig is. Die strategie sal ’n gedetailleerde plan vir monitering en evaluering bevat.

“Ons soek na nuwe manier om die probleme aan te pak.”

Die taakspan begin reeds die konsepverslae terugkry van die vyf werkgroepe wat werk op spesifieke onderwerpe gedoen het. Dit sluit watter behoefte aan personeel bestaan, die koste om personeel op te lei, watter opleiding, leierskap en bestuur benodig word, werkstoestande wat van die personeeltekorte veroorsaak, en die monitering van navorsing en inligting oor die onderwerp.

Volgens hom gaan terugvoering oor die konsepverslae in September op ’n nasionale konsultasiedag met belangegroepe verskaf word.

Van links is Muneeb Chohan, hoof van bedryfsbestuur van Melomed Hospitals, prof. Lungile Pepeta, dekaan van die fakulteit van gesondheidswetenskappe van die Nelson Mandela-Universiteit op Port Elizabeth, dr. Anchen Laubscher, mediese direkteur van die Netcare-groep en prof. Eric Buch, ondervoorsitter van ministeriële taakspan oor menslike hulpbronne in die gesondheidsektor.

Private sektor

Van die vraagstukke waarmee die taakspan worstel, is of private hospitale in staat gestel moet word om dokters en ander gesondheidspraktisyns teen ’n vaste vergoeding in diens te neem.

Die vraag is of dit ’n manier is om die probleme op te los wat tans veroorsaak word deur die vergoeding van dokters op ’n betaal-per-diens-grondslag en die oorbediening wat dit meebring.

Nog ’n vraagstuk waarvoor daar ’n oplossing gesoek word, is hoe dokters in die platteland gehou kan word.

Buch sê as met die NGV toegelaat word dat private hospitale spesialiste in diens kan neem en die hospitaal se kontrak betaal word op grond van betaling per prosedure vir die pasiënte wat na hulle verwys word, sal die hospitale hul vergoeding só kan struktureer dat dié dokters na die platteland gelok kan word.

“Dan kan mense dalk deeltyds op die platteland wees of ’n paar dae per week daar bestee.”

Die ander groot vraagstuk handel oor hoe groepspraktyke benut kan word. “Ons moet wegkom van die idee dat elke gesondheidsberoep in ’n silo moet werk.”

Private werk

Die taakspan kyk ook hoe die situasie beter bestuur kan word van heeltydse staatsdokters wat werk in die private sektor doen.

Die situasie van verpleërs wat vir die staat werk en hul inkomste aanvul deur ook in die private sektor te werk, word ook bekyk. “

Ons kan nie voortgaan met die situasie waar iemand sewe nagte in die private sektor en sewe dae in die staatsektor werk nie.

Daar moet maniere wees om verpleër-agentskappe verantwoordelik te hou en seker te maak daar bestaan ’n verstandhouding oor hoe verpleërs werk in die private sektor doen om hul inkomste aan te vul.”

Dr. Anchen Laubscher, mediese direkteur van die Netcare-groep, meen multidissiplinêre spanne en groepspraktyke sal help om mediese regseise en die koste wat daarmee verband hou, te verlig omdat dit die gehalte van sorg sal verbeter en pasiëntveiligheid sal verbeter.

Multidissiplinêre spanne sal verseker dat spesialiste en dokters 24 uur per dag vir sewe dae van die week in hospitale aan diens is. “Ons weet omdat dokters nie voltyds in die hospitale is nie, het dit implikasies vir die veiligheid van pasiënte en die gehalte van uitkomste.

“Wanneer dokters in die huidige struktuur huis toe gaan, is dit anders as in die staatsektor, waar die pasiënt aan ’n ander spesialis of ander dokter se sorg oorgelaat word. Pasiënte word in die hande van verpleërs gelaat.

“Dit is nie reg of billik teenoor die verpleërs of die pasiënt nie. Die volgende oggend is daar nie konsekwentheid van sorg nie.”

Mengsel van vaardighede

Buch het ook gesê die taakspan worstel ook met die vraagstuk oor wat die regte mengsel van vaardighede vir die land is.

“Al die strategieë, ingesluit dié wat nie in werking gestel is nie, en internasionales, praat van die belang van middelvlak-gesondheidswerkers.”

Volgens hom is dit byvoorbeeld waar optometrie-verpleërs katarak-operasies doen teen baie laer pryse en op soortgelyke gehalte as ’n optometris.

Dit kan ook wees ’n fisioterapeut-assistent wat twee jaar studeer om roetinewerk te doen onder leiding van ’n fisioterapeut wat meer komplekse opleiding ontvang wat die konsultasie van die pasiënt, die beplanning van die sorg en toesighouding doen.

“Ons moet die mengsel van kwalifikasies beduidend verskuif om gesondheidsorg bekostigbaarder te maak, sodat meer waarde gekry word sonder dat gehalte ingeboet word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.