Die regering verwag ’n enorme stroom klagtes oor Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), want die NGV-fonds sal ingevolge die wetsontwerp ’n hele burokrasie skep om klagtes te hanteer.

’n Tribunaal gaan klagtes oor NGV bestuur, soos ’n hof.
Dr. Anban Pillay, adjunkdirekteur-generaal van gesondheid, het in die parlement verduidelik die fonds sal ’n meganisme stig waardeur klagtes ingedien kan word.
Appèlle sal ingedien mag word, en dit moet binne 60 dae behartig word nadat ’n beslissing oor ’n klagte gemaak is.
Daar sal ook ’n appèltribunaal wees. Dit sal bestaan uit vyf mense wat deur die minister van gesondheid aangestel moet word.
Die tribunaal sal soortgelyke gesag as ’n hof hê.
Amptenare van die staatsregsadviseurs het Donderdag
moeite gedoen om aan te voer die wetsontwerp oor NGV, wat op 8 Augustus uitgereik is, voldoen ten volle aan grondwetlike beginsels.
Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, ’n sterk span van sy departement asook ’n paar werknemers van die staatsregsadviseurs het Donderdag die parlement se portefeuljekomitee oor gesondheid oor die wetsontwerp toegespreek.
Eers as die NGV-fonds ten volle in bedryf is, sal die minister van gesondheid regulasies uitreik wat uitwys wat die voordele is waarvoor die fonds nie sal betaal nie, wat mediese fondse sal mag dek, het Pillay aan die parlementslede gesê.
Hy het stap vir stap deur al die klousules van die wetsontwerp gewerk.
Dit maak onder meer voorsiening vir ’n sentrale kantoor vir gesondheidsorg-produkaankope.
Dit sal ’n gesentraliseerde funksie wees wat die aankoop van gesondheidsorgprodukte sal koördineer.
Spesialiste en hospitale sal volgens ’n prestasiegebaseerde stelsel vergoed word.