Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
U-draai oor siekefondse
Private mediese fondse gaan straks nie verdwyn nie. Foto: Pixabay

Die regering het oënskynlik ’n ommeswaai gemaak oor nasionale gesondheidsversekering (NGV): Dis nou meer Obamacare en minder vyandigheid teenoor mediese skemas.

Precious Matsoso, direkteur-generaal van gesondheid, het op ’n vergadering met mediese skemas in dié rigting gepraat deur te sê die plan is nie meer om siekefondse uit te skuif nie, bevestig Graham Anderson, hoofamptenaar van Profmed, wat die vergadering bygewoon het.

Luidens die NGV-witskrif wat einde 2015 gepubliseer is, sou siekefondse in hul huidige vorm verbied word en net toegelaat word om “aanvullende” dekking te bied vir dienste wat nié deur die NGV gedek word nie.

Matsoso het op die vergadering gesê die departement het verskeie lande besoek om hul gesondheidsorgsektore te bestudeer. Daar is nie een land gevind waar nét die private of nét die openbare sektor na die gesondheidsbehoeftes van die bevolking omsien nie.

Anderson sê Matsoso het hulle gevra om met planne vorendag te kom oor hoe die private fondse die NGV kan help dryf.

“Dit klink asof alle skemas ’n soort NGV-opsie sal moet hê met die klem op omvattende maar kostedoeltreffende dekking.”

Hy sê die staat sal dit moet subsidieer vir mense wat dit steeds nie kan bekostig nie.

Dit klink asof alle skemas ’n soort NGV-opsie sal moet hê met die klem op omvattende maar koste-doeltreffende dekking.
Graham Anderson van Profmed

So ’n model is soortgelyk aan die omstrede Obamacare-stelsel in Amerika waar die meeste burgers gedwing word om aan private siekefondse te behoort wat ook spesiale opsies bied. Die redenasie is om premies laag te hou deur die risikopoel drasties te vergroot.

Soos met Obamacare word Suid-Afrikaanse skemas reeds verbied om enigiemand lidmaatskap te weier.

Mediese skemas is baie ingenome met die jongste uitlatings, maar dit is onseker wat die minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi, se standpunt is, sê Anderson. Die hersiene witskrif is dus dringend nodig om sekerheid te bied.

Cosatu omgekrap

Cosatu is nie beïndruk met die ontwikkeling nie.

“Die departement verander die NGV in ’n Suid-Afrikaanse weergawe van Obamacare, waar die voorkeur is om in die behoeftes van private gesondheidswinsjagters te voorsien pleks van dié van armes,” sê Sizwe Pamla, woordvoerder.

Dié vakverbond sê die ommeswaai na ’n openbare-private-vennootskap is “verraad teenoor die land se armes”.

Pamla sê die beginsel van ’n enkele fonds is vervat in die ANC se 2014-verkiesingsmanifes en hulle gaan daarop aandring.

Volgens Pamla is Cosatu gekant teen ’n stelsel van veelvul­dige betalers pleks van ’n sentrale fonds wat daarop gemik is om te verseker die rykes subsidieer die armes.

Die medieseskemabedryf ontlok dikwels kritiek omdat net sowat 8,8 miljoen begunstigdes (sowat 16% van die bevolking) nagenoeg 80% van die land se gesondheidsorgbesteding gebruik.

Dr. Kgosi Letlape, hoof van die Raad op Gesondheidsberoepe, het skemas selfs ’n “misdaad teen die mensdom” genoem.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid. Foto: Jaco Marais

Die alternatief van ’n enkele fonds, wat in die witskrif geopper is, was ­egter ook omstrede.

Byna elke voorlegging deur nieregeringsorganisasies oor die witskrif was kwetsend, het Rapport Sake vroeër berig.

Selfs Section27, ’n menseregte-organisasie wat van meet af aan betrokke was by die formulering van die NGV, het gewaarsku dat dit gaan misluk. Hulle het gesê Suid-Afrika het bloot nie die infrastruktuur en prosesse gereed om dit te laat werk nie.

“Dit is nie ons argument dat die gesondheidstelsel perfek moet wees voordat die NGV geïmplementeer word nie. Dit is natuurlik nie moontlik nie. Maar ons is baie ver van ’n funksionerende gesondheidstelsel.”

Michael Settas, direkteur van die gapingsdekkingversekeraar KaeloXelus, sê dit het geen sin dat die regering die NGV-roete sonder die private gesondheidsorgsektor wil aanpak nie.

Dié sektor is funksioneel en bied gehaltediens en -produkte. Al is daar koste-uitdagings, kan dít binne die regulatoriese raamwerk reggestel word.

Die Mededingingskommissie se ondersoek na private gesondheidsorg is nog onderweg en die spertyd is al telkemale verleng.

Settas meen ’n enkele NGV-fonds is nie ’n oplossing nie omdat dit nie die probleme van gebrekkige bestuur, vaardighede en swak dienslewering in groot dele van die openbare gesondheidsorgstelsel sal aanpak nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.