Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Verbod op dié mediese planne kan in hof draai

Rolspelers in die bedryf vir mediese versekering doen aanvoorwerk vir hofgevegte ná die skokbesluit dat hospitaal-kontantplanne en ander versekeringsprodukte verbied gaan word.

Lede van mediese fondse moet deurlopend die veranderinge in voordele, bybetalings, perke en medisynelyste nagaan. Foto: Pixabay

Neil Kirby, ’n direkteur by Werksmans, sê sekere rolspelers wat deur die besluit geraak word, win regsadvies in omdat hulle meen die Raad op Mediese Skemas (RMS) se eensydige besluit skend Suid-Afrikaners se grondwetlike regte.

Rapport het verlede week berig die RMS het uit die bloute aangekondig dat alle hospitaal-kontantpolisse teen Maart 2021 onwettig gaan wees. Dit lewer honderdduisende mense uit aan staatshospitale.

Boonop het die RMS in nóg ’n skok­wending sy dekade lange planne van ’n laekoste-opsie vir mediesefondsdekking in die asblik gegooi. Dit sou miljoene mense die geleentheid gebied het om private gesondheidsorg te kry. Dit alles is oënskynlik gedoen ter voorbereiding van die regering se droom vir ’n Nasionale Gesondheidsversekering (NGV).

Kirby sê daar is waarskynlik regsgronde om die RMS te takel omdat belangegroepe nie vooraf in die besluit geken is nie. Nog ’n argument kan wees die uitwerking wat die besluit kan hê op mense wat afhanklik is van die laekoste-voordeelopsie en wie se toegang tot gesondheidsorgdienste ontneem sal word as die voordele geskrap word.

Richard Blackman, uitvoerende hoof van die versekeraar Day 1 Health, sê die RMS se besluit om hul produkte te verbied raak die meerderheid van die bevolking. Die produkte bied primêre gesondheidsorg en private hospitaalvoordele aan derduisende mense buite die mediesefondsbedryf. “By gebrek aan ’n lewensvatbare alternatief, sal dit ’n growwe skending wees van hul fundamentele grondwetlike reg tot toegang tot gesondheidsorgdienste.”

Hy sê dit sal ook hul reg skend om nie van hul eiendom ontneem te word nie, soos vasgelê in die Grondwet en wat volgens talle uitsprake in die konstitusionele hof kontraktuele regte insluit.

Kirby sê die RMS stel in sy omsendskrywe van 4 Desember voor dat begunstigdes van die polisse eerder na volwaardige mediese skemas moet oorskakel wat ’n hersiene primêre gesondheidsorgpakket (PHC) sal bied. Hy twyfel egter of so ’n proposisie moontlik is omdat dit aanneem die PHC-pakket sal goedkoper wees as die laekoste-voordeelopsie.

Boonop is die PHC-pakket pas vir kommentaar gepubliseer en geen kosteberamings is nog gedoen nie.

Kirby sê as die begunstigdes nie kan bekostig om by mediese fondse aan te sluit nie, beteken dit die RMS het hulle ontneem van toegang tot gesondheidsorg – ’n reg wat in art. 27 van die Grondwet gewaarborg word.

Dr. Sipho Kabane, registrateur van die RMS, het met die aankondiging van die stap gesê produkte wat op lae-inkomsteverdieners gemik is, bied die “geleentheid vir minderwaardige voordele” en word daarom geskrap.

Kirby twyfel of die produkte inderdaad minderwaardige voordele bied. Dit is eerder belangrik omdat dit ’n groot groep verbruikers wat histories van private mediese sorg uitgesluit was, toegang tot gesondheidsorg bied. In die huidige moeilike ekonomiese klimaat waar huishoudings se finansies onder druk is, kan die produkte selfs aantrekliker raak vir meer verbruikers.

Die RMS sê ’n bykomende verslag met besonderhede oor hoe die geaffekteerde produkte vaar, word later vandeesmaand verwag.

André Jacobs van die Vereniging vir Finansiële Tussengangers (FIA), wat meer as 1 800 finansiëlediensteverskaffers verteenwoordig, sê FIA-lede wag op dié verslag om volledig kommentaar te lewer.

Hy sê hul lede voldoen aan die unieke behoeftes van miljoene mense en bied ook die nou verbode primêre gesondheidsprodukte en hospitaalkontantpolisse aan omdat dit ’n belangrike gaping vul vir huishoudings wat nie lidmaatskap van mediese fondse kan bekostig nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.