Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Vitality vs Multiply – wie beloon jou die beste?
Multiply probeer kliënte by Vitality afrokkel. Foto: iStock

Hoe het jou mediese fonds jou dié maand vir jou ondersteuning beloon?

Het hy vir jou koffie gekoop, ’n vliegtuigkaartjie betaal of dalk gehelp om kruideniersware goedkoper te kry?

Met die ekonomie wat knyp, is dit ’n lekker meevaller om afslag op iets te kry met jou beloningsprogram. En verskaffers van veral mediese en langtermynversekering fokus toenemend op dié soort voordele om kliënte te lok.

Business Insider berig Momentum onderneem nou om kliënte wat van Discovery na hom skuif, se Vitality-status na sy Multiply-program oor te dra sodat hulle onmiddellik voordele hieruit kan put.

Discovery was die eerste mediese fonds wat kliënte beloon het om gesond te bly. Dit is later uitgebrei na sy versekeringsafdeling waar hy mense beloon as hulle goed bestuur en hy beplan ook om goeie finansiële gedrag te beloon wanneer sy digitale bank sy virtuele deure open.

Vitality is veral bekend om sy afslag by gimnasiums en lugdienste en sy gratis koffie of “smoothies” vir lede wat elke week hul fiksheid- of bestuurmylpale bereik.

Multiply is ’n effens minder bekende program, maar werk op dieselfde beginsel.

Netwerk24 het dié twee programme getoets en ook gekyk hoe hul belonings vergelyk. (Sien ook grafika heel onder.)

    

Jy moet werk vir jou belonings

   

Afslag gaan in geen kliënt se skoot val bloot omdat hy of sy lid is van so ’n program nie.

Albei die produkte bied verskillende statusse waardeur ’n kliënt kan beweeg gegrond op sekere teikens. Hoe meer punte jy verdien, hoe hoër is jou status en hoe groter is die voordele wat jy geniet.

   

Só verdien jy punte

Vitality én Multiply ken punte toe as die lid gereeld oefen – in ’n gimnasium of met ’n fiksheidsbandjie – of ’n jaarlikse gesondheidsoorsig laat doen.

Albei produkte gebruik ook tegnologie om te bepaal hoe veilig ’n persoon bestuur. By Vitality geld dit vir kliënte wat hul voertuig by hom verseker. ’n Spesiale nasporingseenheid word in die motor geplaas om gedrag te meet.

Multiply gebruik die lid se selfoon om outomaties met behulp van satelliettegnologie bestuursgedrag na te volg.

   

Kontant en belonings

   

Kliënte word in albei programme aangemoedig om of ’n kredietkaart, of lidmaatskap by ’n reeks winkels of aanlyn portale te gebruik.

Die afslag of beloning waarvoor die kliënt kwalifiseer, word dan of onmiddellik aangebied of word later op verskeie maniere terugbetaal.

In die geval van Discovery word kontantterugbetalings maandeliks gedoen in ’n bankrekening wat die kliënt spesifiseer. Die kontant kan dan na goeddunke bestee word en die kliënt is nie gebind om dit te bestee by ’n winkelgroep wat deel van die program is nie.

Dit kan selfs in ’n aparte spaarrekening betaal word en dan later gebruik word om mediese uitgawes te dek wanneer die spaarrekening van die mediese fonds self uitgeput is.

Waar punte vir goeie gedrag verdien word, kan dit in die Discovery-app in belonings omgeskakel word. Daar kan onmiddellik deur die app vir die produk of diens betaal word.

Multiply betaal sy belonings in ’n digitale beursie. Die kliënt moet ’n tweede app installeer waar die geld in kontant omgeskakel word, maar dié geld kan net bestee word by winkels wat deel van die Multiply-program is.

   

Die app

   

Vitality val onder die oorhoofse Discovery-app. Jy kan jou vordering deur die onderskeie statusse dophou en ook regstreeks uit die app betaal met jou belonings.

As jy verkies dat jou kontantterugbetalings by jou Discovery-kredietkaart inbetaal word, kan jy maklik sien wat jy ontvang het.

Discovery gebruik wel ’n afsonderlike app vir sy versekeringsprodukte. Die inligting trek egter outomaties oor van die een app na die ander.

Multiply se app is baie eenvoudig met min inligting, wat dit moeilik maak om gereeld na jou vordering te kyk.

Nog ’n app, Multiply Money, moet gelaai word om jou kontantterugbetalings van een digitale beursie na ’n ander oor te dra voordat jy dit kan bestee.

Dié app is so onbekend dat Netwerk24 aan ’n kassier in van die winkels waar betalings wel aanvaar word, moes verduidelik hoe dit werk én dat dit in dié winkel gebruik kon word.

Die betaling het daarna wel seepglad gewerk.

   

Die uitslag

   

Albei programme het hul voor- en nadele.

Sien meegaande grafiek vir ’n vergelyking van hul belonings as die kliënt die betrokke program se hoogste status bereik het. Let wel, dit is nie wat kliënte outomaties verdien wanneer hulle hul by die program aansluit nie.

Netwerk24 se bevinding is dat Vitality baie makliker is om te gebruik en die kliënt op ’n meer sigbare en praktiese manier beloon.

Consulta se nasionale indeks van verbruikerstevredenheid (Sacsi) oor dié soort programme, wat in November 2018 gepubliseer is, wys verbruikers is beduidend meer tevrede met Vitality (70,6 indekspunte) as met Multiply (66,4 indekspunte).

Die sektorgemiddelde is 60,6 indekspunte.

Sacsi het Sanlam se Reality-program ook by die indeks ingesluit. Reality het 71,9 indekspunte.

Multiply se punt is dus heelwat onder die gemiddelde. Volgens Consulta word die minste klagtes oor Vitality ontvang en die meeste oor Reality Rewards.

Multiply kry meer as die gemiddelde getal klagtes, maar hy los probleme die beste op, luidens Sacsi.

vitality, multiply

Meer oor:  Momentum  |  Discovery  |  Multiply  |  Oefening  |  Mediese Fondse  |  Vitality
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.