Die Mediclinic-hospitaalgroep sê wanneer ’n hospitaal vol is, sal ambulanse ’n paar uur lank herlei word na ander hospitale waar daar wel plek is.

Gesondheidswerkers Maandag by ’n ambulans in die parkeerterrein van die Steve Biko- Akademiese hospitaal in Pretoria. Foto: Reuters
Dié protokol word gevolg wanneer hospitale nie nog pasiënte in hul waak- en hoësorgeenhede kan inneem nie.
“Dit word gedoen sodat mense se sorg nie agterweë bly nie. Dié beleid sal net ’n kort tyd in werking gestel word – ’n maksimum van vier uur – om ’n opeenhoping van pasiënte te voorkom,” sê dr. Gerrit de Villiers, hoof van kliniese prestasie van die groep.
Sy beleid oor die herleiding van ambulanse is op soortgelyke praktyke in Amerika, Brittanje en Australië gegrond.
“Omdat die situasie landwyd vloeibaar is, word die besluit voortdurend hersien en gestaak sodra ’n eenheid weer pasiënte kan ontvang.”
Die hospitaalbestuur neem dié besluite nadat die situasie in die hospitaal geëvalueer is.
’n Versoek sal dan aan plaaslike nooddienste gestuur word om vervoer na die hospitaal vir ’n sekere tydperk te staak.
Die hospitaalgroep sê gedurende sulke tye sal sy noodeenhede alle lewensbedreigende gevalle stabiliseer.