Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tot jou diens
Tot Jou Diens: Bed breek glo oor nalatigheid

Tot Jou Diens is ’n kampvegter vir verbruikers. Stuur klagtes aan totudiens@beeld.com en onthou om die kontakbesonderhede van die betrokke onderneming in te sluit.

      

Bed breek glo oor nalatigheid

     

Manie van der Merwe het ons gevra om hom met ’n klagte oor Restonic te help.

“Ek het in 2014 by ’n winkel in Modimolle ’n Restonic-bed gekoop. Die bed is verkoop met ’n aanvanklike waarborg van ’n jaar met ’n verdere ses jaar hulp daarna. In Desember 2017 het die bed se basis gebreek.

“Die planke in die basis was stukkend. Ek het die plaaslike winkel daaroor gaan spreek en hulle het gesê ek sal met Restonic in verbinding moet tree.”

Van der Merwe het Restonic gebel om hulp. “Restonic wou hê ek moet met die plaaslike winkel kontak maak. ’n Personeellid van die winkel het die saak namens my met Restonic gehanteer.

“Restonic het my gevra vir ’n bewys van my aankoop van die bed en ek het dit vir hulle gestuur. Dieselfde middag het iemand gebel en gevra vir foto’s van die bed, wat ek ook aangestuur het.

Nog ’n dag later het hulle gesê hulle gaan nie vir enige skade aan die bed pa staan nie. Volgens hulle het my nalatigheid tot die skade gelei. Ek stem nie saam nie.

“Ek het dit so aan hul verteenwoordiger genoem en hy sou my weer kontak. Dit het nog nie gebeur nie.”

Pluimpies

Heidi Bisschoff sê die diens by die Safari-kwekery in Pretoria is fantasties.

“Ons het onlangs ’n babatee by die Safari-kwekery gehou. Joseph en sy span het alles vir ons maklik gemaak. Die eetgoed was heerlik en genoeg.

Dit was ’n warm dag en daar was geen probleme om ekstra drinkgoed te kry nie. ’n Paar ekstra gaste het op die nippertjie besluit om te kom en Safari se personeel het blitsig nog tafels vir ons reg gehad.

Die hele geleentheid het seepglad afgeloop.

Tot Jou Diens het Restonic gevra om ondersoek in te stel. Hulle sê daar was ’n gebrek aan kommunikasie en die verteenwoordiger wat met Van der Merwe se klagte gewerk het, was nie seker wat hy van hulle wil hê nie.

Nadat Restonic weer Van der Merwe se foto’s bekyk het, het hulle ingestem om wel sy bed se basis te vervang. Die nuwe basis is afgelewer by die winkel waar hy oorspronklik die bed gekoop het.

     

Gems het nog ’n dokument nodig

       

Thea Horn het vir Tot u Diens ’n klagte oor die mediese fonds vir staatswerkers (Gems) gestuur.

“Ons wag al maande om ’n eis van meer as R10 000 wat ons by Gems ingedien het, afgehandel te kry. Die eis is vir gehoortoestelle vir my man en ’n loopring vir my. Hy is daarop geregtig om elke drie jaar nuwe gehoortoestelle te kry. Ons het al talle kere opgevolg, maar Gems is tjoepstil oor die eis.”

Ons het Gems gevra om kommentaar te lewer. Hulle sê daar was ’n dokument uitstaande wat daartoe gelei het dat Horn se eis gesloer het. Dis nou by Horn bekom en die eis uitbetaal.

Hettie Erasmus het ook by Gems vasgebrand.

“Ek wag al ses maande vir ’n verduideliking van Gems oor ’n hospitaalrekening wat hulle nog nie betaal het nie. Die rekening is vir ’n prosedure waarvoor magtiging vooraf bekom is. Ek het hulle talle kere oor die saak uitgevra, maar ek kry nie antwoorde nie.”

Tot Jou Diens het Gems gevra om ondersoek in te stel. Hul ondersoek het getoon die betrokke rekening is met die verkeerde kode ingedien en is dus nie betaal nie. Die regte kode is nou gebruik en die rekening is betaal.

Mikrogolfoond gee die gees

Willie Adendorff het probleme ondervind met ’n mikrogolfoond wat hy by Makro in Centurion gekoop het.

“Ek het in 2015 ’n mikrogolfoond by Makro gekoop. In Desember 2016 het dit opgehou met werk en ek het dit by Makro vir herstelwerk ingegee.”

Adendorff se mikrogolfoond was toe nog onder waarborg.

“In Februarie van 2017 het ek my mikrogolfoond herstel teruggekry. In Desember het die mikrogolfoond weer ophou werk en aangesien dit steeds onder waarborg was, het ek dit weer na Makro geneem om die nodige herstelwerk te laat doen.

“Omtrent ’n maand later het ek Makro se inbelsentrum gebel om te hoor hoe hulle met die herstelwerk vorder.

Ene Mary het gesê my oond is nog by Makro se verskaffer. Ek het ’n e-pos aan die verskaffer gerig, maar nie terugvoering gekry nie.”

Toe Adendorff weer Makro kontak, het hy dieselfde antwoord as die vorige keer gekry.

“Makro se verteenwoordiger het gesê hul verskaffer kan so lank as ses weke vat om die herstelwerk te voltooi. In my opinie moes ek al my oond teruggekry het.”

Tot Jou Diens het Makro oor Adendorff se klagte gepols. Hulle het hom om verskoning gevra dat sy mikrogolf nie gouer herstel is nie.

Hulle het hom ’n krediet vir die oorspronklike aankoopprys van die oond aangebied en hy het besluit om dit te aanvaar.

   

Polis agterstallig, Avbob betaal nie

     

Andries Meyer het met Avbob koppe gestamp.

“My ma is in Januarie oorlede. Sy het ’n Avbob-begrafnispolis gehad wat sy in 2015 uitgeneem het.

“Vir ongeveer drie maande voor haar dood was my ma in en uit die hospitaal en nogal deurmekaar, dus het sy nie haar premies op die polis op datum gehou nie.

“Ons het Avbob oor die polis gekontak en volgens hul konsultant was my ma se betalings minder as twee maande agter en hy het nie voorsien dat daar probleme sou wees om ’n uitbetaling te kry nie.

“Ons het aangebied om die agterstallige premies in te haal, maar Avbob het gesê dit sal nie nodig wees nie.”

Hierna het Meyer sy ma se begrafnis met Avbob se hulp begin beplan.

“Twee dae voor die begrafnis het Avbob ewe skielik gesê hulle gaan nie meer die polis uitbetaal nie. Ons moes dringend ’n ander begrafnisondernemer vra om te help.

“ Ons moes hierdie begrafnisondernemer uit ons eie sakke betaal. Vir interessantheid het ons sy opinie oor die polis gevra en hy meen Avbob moes wel ’n uitbetaling gemaak het.”

Ons het Avbob se aandag op Meyer se klagte gefokus. Hulle het Meyer gekontak om ’n oplossing met hom te bespreek. Hy sê Azelea was baie vriendelik en het seker gemaak Avbob maak wel ’n uitbetaling op die betrokke polis.

  

Standard Bank sê lening is geldig

   

Karel van Tonder het by Standard Bank vasgebrand.

“Ek het onder druk toe ek siek was ’n ekstra lening by Standard Bank bekom. Onder hierdie omstandighede het ek Standard Bank gevra om die betrokke lening nietig te verklaar en ’n

terugbetaling vir die koste aan my te maak. Hiervan wil Standard Bank niks weet nie.”

Tot Jou Diens het Standard Bank vir ’n verduideliking gevra. Hulle sê die betrokke lening dateer van 2011.

Die nodige is gedoen om te bevestig dat Van Tonder die lening kan bekostig. Hy het ook voor hy vir die lening geteken het, bevestig dat hy alle voorwaardes verstaan.

Standard Bank sê die lening kan ongelukkig nie gekanselleer word nie. Van Tonder het dit so aanvaar.

   

Motor gee steeds probleme na herstelwerk

   

 Riana Lombaard se skrywe aan ons het oor BMW Menlyn Auto gehandel.

“My voertuig se diensliggie het getoon dis tyd vir my motor om gediens te word. Ek het dit na BMW geneem, maar hulle het gesê die volgende diens is nog nie nodig nie.

“’n Paar dae later was daar ’n waarskuwingsliggie wat my genoop het om my kar weer na BMW toe te neem. Hulle het ’n olielek gevind en ek het hulle gevra om dit te herstel.

Dit het hulle ’n week geneem om die onderdele te bekom en die werk te doen. Die herstelwerk het my nagenoeg R9 500 gekos.”

Lombaard het haar motor by BMW gaan haal ná die herstelwerk voltooi is.

“Ek het huis toe gery en teen die tyd wat ek tuis was, het my motor se waterliggie gebrand. ’n Dag later het ek weer by BMW ’n draai gemaak en hierdie keer ’n kwotasie van meer as R12 000 vir die herstelwerk gekry.

“Vreemd genoeg was daar weer bedrae op die kwotasie vir olielekke wat herstel moet word.

“Ek het oor die olielekke navraag gedoen en hulle het ingestem om die kwotasie aan te pas om dit uit te sluit. Ek het op die einde R8 610 aan hulle oorbetaal ná my voertuig se verkoeler onder meer vervang is.”

Hierna het Lombaard vir ’n rukkie nie haar motor gebruik nie.

“Ek het ’n afstand van ongeveer 30 km gery en toe kook my kar. BMW het my motor by my kom haal en ’n leenvoertuig aan my beskikbaar gestel.

“Weer het hulle ’n olielek gekry, maar ek is nie seker hoe dit daartoe lei dat my kar kook nie. BMW het egter gesê hulle sal ondersoek instel.

“Ek het nog nie weer van BMW gehoor nie. Ek het in 1985 my eerste BMW aangeskaf en nog geen ander fabrikaat se voertuie daarna oorweeg nie aangesien my karre nog altyd uiters betroubaar was.

“Al wat ek nog moes vervang, was ’n battery of twee. Ek voel die manier wat BMW my tans behandel, is baie onregverdig.”

Tot Jou Diens het BMW gevra om aandag aan Lombaard se klagte te gee. Lombaard sê die nodige herstelwerk is voltooi en BMW het haar die versekering gegee haar motor sal nie gou weer probleme gee nie. Voorts het die verdere herstelwerk Lombaard niks gekos nie.

Wenke wat werk

Alcatel het die volgende wenke vir hoe kinders hul selfone veilig kan gebruik.

Vra eers die volgende vrae:

Mag jou kind sy selfoon skool toe vat?

Wat is ’n gesonde aantal ure vir jou kind om sy selfoon in ’n week te gebruik?

Is jou kind oud genoeg om self te besluit watter apps op sy of haar foon gelaai word?

Is daar kinderweergawes beskikbaar van die apps wat jou kinders wil gebruik?

Gaan jy jou kind toestemming gee om sosialemediaplatforms en kletsprogramme soos Facebook en WhatsApp te gebruik?

Wil jy enige moniteringsagteware op jou kind se foon installeer?

Wat om jou kind te leer:

Moet jou kind nie toelaat om met vreemdelinge te kommunikeer nie.

Help jou kinders om wagwoorde en antivirussagteware te gebruik.

Wys jou kinders hoe om apps van GooglePlay of iPhone App Store af te laai en keer dat hulle apps op ’n ander wyse op hul foon installeer.

Leer jou kinders om nie op verdagte kommunikasies te reageer nie.

Verduidelik aan hulle dat inligting en foto’s wat op die internet geplaas word, permanent daar sal bly.

Maak jou kinders daarvan bewus dat ’n mens nie op die internet anoniem kan bly nie.

Moedig jou kinders aan om met jou te praat en vrae te vra as hulle iets nie verstaan nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1121,56 (1291)
  • Top 40 45851,17 (-7786)
  • All Share 52096,04 (-5000)
  • Resource 10 39712,73 (24243)
  • Financial and Industrial 30 68788,28 (-23394)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.