Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tot jou diens
Tot Jou Diens: FNB se lounge skielik nie gratis

Tot Jou Diens is ’n kampvegter vir verbruikers. Stuur klagtes aan totudiens@beeld.com en onthou om die kontakbesonderhede van die betrokke onderneming in te sluit

Absa betaal uiteindelik wel

       

Vincent Abbott het by Absa ’n bloutjie geloop.“Tydens ’n swaar storm is daar skade by my huis aangerig. Ek het die dag daarna ’n eis by Absa-versekering ingedien. In die storm is ’n gedeelte van my huis se dak weggewaai.

“Elders het bome op die dak en die muur geval en dit beskadig en my watertenk is ook weggewaai. Die huis se alarm, kamerastelsel en die heining is onherstelbaar beskadig.”

Absa se assessor het Abbott besoek om te bepaal hoeveel skade aangerig is.

“Die assessor het my eis vir R10 000 goedgekeur, maar dit sou my veel meer kos om al die skade te herstel. Ek het Absa gevra om weer somme te maak.

“’n Tweede assessor het my besoek en hy was stomgeslaan oor die omvang van die skade. In daardie stadium het ons self begin opruim en hy het gesê ons moet alle kwitansies vir werk wat gedoen word, behou In die huis het hy foto’s geneem en volgens hom was die huis nie veilig om in te bly nie.

“Die assessor het my aangeraai om so gou moontlik ’n kwotasie vir die herstelwerk van die sekerheidstelsel by my diensverskaffer te kry om die huis veilig genoeg te kry om in te bly.

“Daar was reeds ’n insident by die agterdeur, maar gelukkig het my hond en die personeel van die sekerheidsmaatskappy die inbreker afgeskrik.

“Dis nou al twee maande later en Absa het my steeds nie gekontak oor die eis nie. My navrae aan hulle vind geen gehoor nie.”

Tot Jou Diens het Absa gevra om met Abbott in verbinding te tree. Hy sê met die vriendelike hulp van Paul, Mapule en Charmaine is die eis nou afgehandel.

Sanral sloer met sy rekening

Deon van Deventer was nie gelukkig met die Nasionale Padagentskap (Sanral) se diens nie.

“Ek het al verskeie kere aan Sanral geskryf oor my e-tolrekening, maar ek sukkel die laaste rukkie om reaksie by hulle te kry. Ek stuur altyd vir hulle ’n e-pos as ek die e-tolpaaie gebruik het om uit te vind wat ek skuld. Daarna betaal ek dan so gou moontlik my rekening.

“Gewoonlik antwoord Sanral vinnig, maar ek kry nou nie meer gereelde terugvoering van hulle nie. Tot ’n paar maande gelede het ek nog ’n kredietsaldo by hulle gehad en ook SMS’e van hulle gekry wat sê my betalings is ontvang.

“Ek het onlangs R200 aan hulle oorbetaal, maar dit wys ná ’n geruime tyd nog nie op my rekening nie. Om die waarheid te sê is my rekening nou al nagenoeg vier maande agter. My navrae aan Sanral bly steeds onbeantwoord.”

Tot Jou Diens het Van Deventer se klagte onder Sanral se aandag gebring. Hy sê hulle het hom gekontak en sy rekening is op datum gebring.

Volgens die Aarto-wet kan jy die volgende binne 32 dae doen wanneer jy ’n kennisgewing van ’n oortreding kry:

  • Jy kan kennis gee dat jy ’n dispuut teen die boete wil aanteken.
  • ’n Ander bestuurder benoem.
  • Aansoek doen om die boete teruggetrek te kry.
  • Reëlings tref om die boete in paaiemente te betaal.
  • Kennis gee dat jy vir aanklag in die hof wil verskyn. 

FNB se Lounge skielik nie gratis 

Jana Steyn sê FNB se diens was teleurstellend.

“In November het FNB vier aftrekkings vir die gebruik van hul Slow Lounge by die lughawe van my rekening gemaak. Volgens my was dit ’n fout aangesien ek op ’n FNB-pakket is waarvolgens ek gratis van die Lounge mag gebruik maak.”

Steyn het FNB oor die kwessie gekontak.

“Die konsultant Netha Mahlomane het my in kennis gestel dat FNB se beleid oor die gebruik van die Slow Lounge verander het. Ek was geskok en het aan die konsultant verduidelik dat ek nie bewus was van die verandering nie.

Pluimpie
Maarten Fouché se pluimpie is vir Outsurance, Centurion.
“Tydens ’n donderstorm het ’n weerligstraal skade aan my huis aangerig. ’n Klomp toerusting is in die proses beskadig. Ek het ’n eis by Outsurance ingedien en Daniël Mzi is aangewys om met my saak te werk. Hy het op ’n meesterlike wyse die verskillende skade-areas hanteer en die eis is blitsvinnig in sy geheel afgehandel. Daniël se vriendelike hulp en professionele optrede was fantasties. Hy is ’n groot bate vir sy werkgewer.”

“Ek sou beslis nie van die geriewe gebruik gemaak het as ek geweet het ek sal daarvoor moet betaal nie. Mahlomane het gesê FNB sal verder ondersoek instel en kyk of hulle my kan tegemoet kom. Hulle sou my weer oor twee of drie dae kontak.

Ek het nie van hulle gehoor nie en het weer navraag gedoen. FNB het gesê ek sal nie terugbetaal word nie.”

Steyn het haar misnoeë met die situasie weer aan FNB te kenne gegee.

“Ek dink FNB moes my van die verandering in hul beleid in kennis gestel het en aangesien hulle nie het nie, kan hulle ’n vergunning aan my maak. Weer het hulle gesê hulle doen ondersoek en ek het ’n verwysingsnommer gekry. Die saak het nog nie verder gevorder nie.”

Ons het FNB oor Steyn se klagte gepols. Hulle het aangebied om die helfte van die bedrag wat Steyn vir die gebruik van die Slow Lounge betaal het aan haar terug te gee. Sy het hul aanbod aanvaar. 

Regent hou aan premies verhaal

    

Jan Bloem het Tot Jpu Diens gevra om hom te help om ’n klagte oor Regent-versekering op te los.

“Ek het ’n versekeringspolis by Regent. Ek het gemerk hulle trek elke maand ’n bedrag van net minder as R100 van my bankrekening af wat nie vir my reg lyk nie.

“Ek het hieroor navraag gedoen en toe blyk dit versekering te wees op ’n motor wat ek al in 2009 verkoop het. Onder hierdie omstandighede het ek Regent gevra om ’n terugbetaling aan my te maak. Ene Amelia het belowe ek sal my geld terugkry.

“Dis nou al amper twee maande later en ek het steeds nie ’n sent van Regent teruggekry nie.”

Ons het Regent gevra om ondersoek in te stel. Bloem sê ’n terugbetaling is nou aan hom gemaak.

2017-beloftes nou uitgevoer 

Tot Jou Diens het verlede jaar oor Jaco van der Merwe se klagte oor die Quality Vacation Club (QVC) berig. Hy het laat weet sy punte is aan ’n derde party verkoop en dat hy die nodige dokumente onderteken het om die saak finaal af te handel.

Herklaas Meyer het ons in 2017 gekontak om hom te help om weer die DStv-tydskrif van MultiChoice te kry. Hulle het belowe om die aflewerings te hervat en ’n koerier het nou inderdaad die aflewerings by Meyer se huis hervat.

 Standard Bank vat 'n ewigheid om rekening te sluit

Zanell Janse van Vuuren het namens haar ouers ’n klagte oor Standard Bank se diens aan ons gerig.

“My ouers het ’n gesamentlike kredietkaart by Standard Bank. Hulle probeer die rekening al geruime tyd sluit. Twee bedrae is aan die bank oorbetaal om die uitstaande skuld af te betaal sodat die rekening daarna gesluit kon word.

“Nadat my ma die tweede betaling self in die bank gemaak het, het sy Standard Bank se kaartafdeling gekontak om die rekening te sluit. Standard Bank het gesê my ma kan nie die rekening sluit sonder dat my pa by is nie.”

Janse van Vuuren se ouers het die plaaslike Standard Bank-tak op ’n Saterdag besoek om weer te probeer om die betrokke rekening te sluit.

“My pa werk 12-uur-skofte en ’n Saterdag was dus hul enigste opsie vir hul besoek aan Standard Bank. Daar aangekom het die personeel gesê hul versoek kan nie op ’n Saterdag deurgevoer word nie.

“My pa moes toe ’n dag se verlof insit om op ’n weekdag by die bank uit te kom. Tebogo het by die bank namens my ouers die kaartafdeling gebel om hul versoek in te dien. Daar is aan hulle gesê nog ’n bedrag van amper R90 moet nog inbetaal word. My ma het dit betaal en die rekening sou die volgende dag gesluit word.

My ma het Tebogo vir ’n verwysingsnommer gevra en ook hoe sy sou weet wanneer die versoek afgehandel is. Volgens Standard Bank sou my ouers ’n SMS ontvang wanneer die rekening gesluit is.”

Janse van Vuuren se ouers het ’n geruime tyd gewag, maar nie ’n SMS van Standard Bank ontvang nie. “My ma het besluit om ’n ander Standard Bank-tak te besoek om te hoor of die rekening wel gesluit is.

Daar moes sy hoor die rekening is nog oop. Dis egter nie al nie, want daar was al weer koste wat op die rekening bygekom het. Nou weet ons nie meer watter kant toe nie, want Standard Bank het steeds nie my ouers se versoek afgehandel nie.”

Tot Jou Diens het Janse van Vuuren se brief vir Standard Bank gestuur. Hulle het haar ouers gekontak om hulle te verwittig dat die koste op die rekening teruggeskryf is en dat dit nou gesluit is.

Wenke wat werk

As jy oorweeg om ’n elektriese heining by jou woning aan te bring, sê Kristie Haslam van DSC Prokureurs, is daar ’n aantal bepalings wat jy in gedagte moet hou.

Die heining moet opgerig word op ’n muur wat minstens 1,5 meter hoog is;

As die heining op steunpasstukke (brackets) vasgemaak word, mag dit nie meer as 45 grade na buite lê nie.

Die steunpasstukke moet binne die muur aangebring word en waar dit tot binne ’n buurman se erf strek, moet hy eers toestemming gevra word voordat die heining opgerig word;

Die heining moet beveilig word sodat ’n mens of dier nie daarin verstrengel kan raak nie;

Pilare vir die heining mag nie meer as 3 meter van mekaar opgerig word nie;

Vir elke 30 meter wat die heining strek, moet drie geaarde ankers aangebring word;

Waar doring- of lemmetjiesdraad deel van die heining vorm, mag hierdie draad nie geëlektrifiseer word nie;

Geel waarskuwingstekens moet by alle hekke en ingange tot die eiendom aangebring word;

Waar ’n hek ’n deel van die elektriese omheining uitmaak, moet ’n mens dit kan oopmaak sonder om geskok te word;

’n Goedgekeurde diensverskaffer wat by die departement van arbeid geregistreer is, moet ’n sertifikaat aan jou uitreik wat bevestig die heining voldoen aan bogenoemde bepalings.

“As ’n elektriese heining wat nie aan hierdie bepalings voldoen nie iemand beseer, kan ’n eis ingedien word teen die persoon wat verantwoordelik vir die eiendom van die heining is,” sê Haslam.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1036,35 (-1197)
  • Top 40 50987,15 (58996)
  • All Share 57164,25 (61745)
  • Resource 10 43731,91 (12908)
  • Financial and Industrial 30 76406,35 (116772)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.