Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tot jou diens
Tot Jou Diens: Foon meer as 'n jaar kapoet

Tot Jou Diens is ’n kampvegter vir verbruikers. Stuur klagtes aan totudiens@beeld.com en onthou om die kontakbesonderhede van die betrokke onderneming in te sluit.

Foon meer as ’n jaar kapoet

   

    

Giel van den Heever meen Telkom se diens kan verbeter.

“Ons telefoon gee al van November 2016 af probleme. Ons het die saak al herhaaldelik onder Telkom se aandag gebring. Hul tipiese antwoord is dat die saak aandag kry en hulle binnekort daaraan sal aandag gee.

“’n Tegnikus het by geleentheid hier opgedaag en vasgestel dat die probleem nie by ons telefoon is nie, maar elders. Hy het belowe om elders hulp te kry en binne ’n week terug te kom.”

Van den Heever sê hulle het nooit weer van die tegnikus gehoor nie.

“By tye werk die foon wel, maar daar is soveel geraas op die lyn dat dit in elk geval nutteloos is. Die volgende wat ons van Telkom gehoor het, was dat daar netwerkprobleme is. Hoe dit ook al sy, ons telefoon is steeds buite werking.”

Tot Jou Diens het Van den Heever se klagte onder Telkom se aandag gebring.

Hy het laat weet sy foon is nou herstel.

  

Outsurance sloer met betaling

    

Gerrie van der Merwe meen Outsurance se diens kan verbeter.

“Ek dink Outsurance mislei die publiek.

“Ek het verskeie kwotasies vir versekering ingewin en Outsurance was nie die goedkoopste nie.

“Hulle belowe as hulle nie ’n mededinger se kwotasie kan klop nie, sal hulle ’n mens R800 gee.

“Ek het hulle vir die R800 gevra en nadat ek vir ’n week elke dag daaroor navraag gedoen het, opgegee, want al wat Outsurance ooit sê, is iemand sal my kontak.

“Dit het egter steeds nie gebeur nie en daar is nog geen sprake van die R800 nie.”

Ons het Outsurance oor Van der Merwe se klagte gepols. Hulle het Van der Merwe vir die ander kwotasies gevra en het intussen R800 aan hom oorbetaal.

  

Geskenkbewys kwyt ná hy bedank

    

Hendrik Roestorff het ’n brief vir ons gestuur oor Apcan Risk Management.

“Ek het vir vier jaar vir Apcan gewerk.

“By verlede jaar se jaareindgeleentheid het ek ’n geskenkbewys as prys vir goeie diens ontvang. Hierdie geskenkbewys geld van Februarie tot November 2018.

’n Ander werkgewer het my genader en werk aangebied wat ek aanvaar het.”

Roestorff het sy bedanking by Apcan ingedien.

“Ek wou ná my bedanking die geskenkbewys gebruik, maar Apcan weier dit nou omdat ek nie meer in hul diens is nie.

“Volgens die kontrak wat ek met hulle gehad het, kan ek geen rede sien hoekom ek nie meer die geskenkbewys kan gebruik nie.”

Tot Jou Diens het Apcan Risk Management vir kommentaar gevra.

Hulle stem saam met Roestorff se weergawe van gebeure, maar sê wel die geskenkbewys is net geldig vir persone in hul diens.

Hiervan sê hulle was Roestorff wel bewus. Ongelukkig het Roestorff dus die geskenkbewys verbeur.

  

Roestorff is steeds nie gelukkig nie, maar het besluit om die saak daar te laat.

Absa kan wel verduidelik

    

Lizette Pretorius het namens haar bejaarde ma ’n klagte oor Absa in Lephalale ingestuur.

“Absa het verkeerde inligting aan my ma verskaf toe sy oor haar beleggings navraag gedoen het.

“Onder meer het haar vaste belegging in Februarie verval waarna sy dit wou opeis, maar nou is dit klaarblyklik reeds te laat en is dié geld weer belê.

“Toe my ma oor hierdie geld navraag gedoen het, is daar vir haar gesê sy het 30 dae om ’n besluit daaroor te neem.

“Toe sy dit wou opeis, was dit nog binne die 30 dae.

“Klaarblyklik was die 30 dae nie die korrekte inligting nie en kon sy dus nie die geld kry nie. Nou is die geld vir nog ’n jaar nie beskikbaar nie en sy is nie gelukkig nie.”

Tot Jou Diens het Absa gevra om ondersoek in te stel. Absa het Pretorius se ma gekontak en aan haar verduidelik wat haar opsies is.

Pretorius sê haar ma is tevrede en dat sy baie beïndruk was deur Yolande Viljoen se diens.

   

Pick n Pay-punte teruggegee

    

Elsa Cornelius is nog ’n leser wat die punte op haar Pick n Pay Smartshopper-kaart kwyt was.

“Ek was soos ’n paar ander Beeld-lesers geskok toe daar ewe skielik ’n klomp van die punte op my Pick ’n Pay Smartshopper-kaart weg was.

“Eers daarna het ek ’n SMS van Pick n Pay gekry wat my waarsku dat my punte gaan verval.

“Ek het hul kliëntediensafdeling oor die saak probeer kontak, maar hul fone lui net en niemand antwoord nie.”

Pluimpies

Liezel Yssel praat met lof van die diens van Outsurance en BB Motors in Menlyn.

“Ek het onlangs ’n probleem met ’n pap motorbattery gehad.

“Ek kon niemand in die hande kry om te kom help nie en bel toe Outsurance om uit te vind of padbystand deel van my polisdekking is.

“Binne minute het ’n tegnikus my gebel en minder as ’n halfuur later was ek weer op die pad.

“Ek en my man is al amper 18 jaar kliënte van Outsu­rance en ons sal vir nog baie jare kliënte wees. Dankie, Outsurance, vir jul flinke en professionele diens.”

Sy sê BB Motors het hulle ook baie beïndruk toe hulle ’n motor het. “Van die oomblik dat ons daar ingestap het totdat ons ontvangs van die voertuig geneem het, was die diens ongelooflik.

“Baie dankie aan Jaco Oosthuizen en Bennie Erasmus vir jul eerlikheid en goeie raad. Sien julle beslis wanneer ons weer ’n voertuig koop.”

Ons het Pick ’n Pay gevra of hulle Cornelius kan help. Hulle het die verlore punte aan Cornelius teruggegee en haar gevra om dit so gou moontlik te gebruik.­

Antoinette Reynders het ’n soortgelyke klagte aan Tot Jou Diens gestuur.

“Ek doen gereeld ná aankope by Pick ’n Pay navraag oor hoeveel punte ek op my Smartshopper-kaart opgehoop het.

“Oor ’n tydperk van nagenoeg twee jaar het ek nogal ’n klomp punte opgehoop en ek was nogal opgewonde om dit die een of ander tyd te gebruik.

“Onlangs toe ek my koopstrokie nagaan, het ek egter gesien my punte is ewe skielik baie minder as wat dit was en ek het dit nog nie gebruik nie.”

Hieroor het Reynders navraag gedoen.

“Volgens wat ek kon uitvind, is punte nog van 2016 na 2017 oorgedra, maar nie van 2017 na 2018 nie. Hiervan het ek nie geweet nie.

“In die proses het ek meer as R200 verloor.

“Ek is ’n pensioenaris en moet my uitgawes mooi beplan. Ek is nie gelukkig met wat gebeur het nie.”

Tot Jou Diens het ook Reynders se klagte onder Pick ’n Pay se aandag gebring.

Hulle sê Smart­shopper-punte verval elke jaar.

As gebaar van welwillendheid het Reynders haar punte teruggekry.

Soos in die geval van Cornelius het Pick ’n Pay Reynders gevra om haar punte so gou moontlik te gebruik om te verhoed dat dit weer verbeur word.

    

Moedeloos oor Woolworths se kliëntediens

       

MoChanel Binneman het by Woolworths ’n bloutjie geloop.

“Ek is moedeloos oor die reaksie wat ek van Woolworths se kliëntediensafdeling kry. Ek verwag hoë standaarde van Woolworths wat my teleurstelling net nog groter maak.

In Januarie het ek ’n bestelling op sy webwerf geplaas. As ’n Woolworths-kaarthouer het ek nogal ’n lae prys vir die breekware betaal.”

Binneman het deels met ’n geskenkbewys betaal en die res met haar kredietkaart.

“My bestelling en ’n voorlopige datum vir die aflewering is bevestig. Hierna het ek die geskenkbewys opgeknip en weggegooi. Twee dae later het Woolworths my ingelig hulle het nie voorraad van die items wat ek bestel het nie.

“Hulle sou die geld aan my terugbetaal, maar ek het hulle van die geskenkbewys wat ek gebruik het, gesê en dat ek vermoed dit gaan die terugbetaling moeilik maak.

“ ’n Hulpvaardige vrou het my verseker Woolworths kan ’n plan maak. Sy het gesê hulle sal sommer op hul stelsel die geskenkbewys se nommer kan opspoor.”

’n Week later het Woolworths weer met Binneman kontak gemaak. “Ewe skielik kon Woolworths nie meer die geskenkbewys se nommer opspoor nie. Hulle kon nie ’n nuwe een aan my uitreik totdat hulle die vorige een se nommer bekom het nie.

“Ek het ook nie geweet wat die nommer is nie. Ongelukkig kon ek hulle nie veel van die geskenkbewys vertel nie, aangesien ek dit present gekry het. Hierdie persoon kon nie onthou waar of wanneer dit gekoop is nie.

“Ek woon op die platteland en ek het vir Woolworths gesê ek vermoed die geskenkbewys is in ons dorp gekoop en dit moes rondom my verjaardag gewees het. Hulle sou ondersoek instel en my op die hoogte hou.

“Ek het geruime tyd niks van Woolworths gehoor nie en het weer ’n e-posboodskap gerig. Ek het darem intussen die items wat ek wou bestel in die hande gekry, maar van die geskenkbewys is daar nog nie nuus nie.”

Tot Jou Diens het Binneman se klagte onder Woolworths se aandag gebring.

Sy het per SMS ’n nuwe geskenkbewys gekry.

Wenke wat werk

Paul Stevens, uitvoerende hoof van Just Property, glo dit is ’n verouderde en oorvereenvoudige reël dat ’n mens nie meer as 30% van jou salaris aan huurgeld moet bestee nie.

“Begin met ’n realistiese begroting wat alle uitgawes insluit en vir ’n spaarplan voorsiening maak,” sê Stevens. “Dan sal jy ’n beter idee hê van hoeveel geld jy beskikbaar het om aan huur te betaal.

“’n Mens behoort ook minstens drie maande se huurgeld beskikbaar te hê indien jy dalk vir ’n tyd nie ’n inkomste het nie.”

Stevens meen ook om jou eie eiendom te koop en dit af te betaal eerder as om huurgeld te betaal, is ’n manier om op lang termyn ’n neseier op te bou.

“Baie mense neig om die beste blyplek wat hulle kan bekostig te huur, maar as jy minder huurgeld kan betaal, sal dit makliker wees om geld vir ’n deposito op jou eie blyplek te spaar,” sê Stevens.

“Om selfs meer geld te spaar moet diskresionêre uitgawes gesny word. Ontwerp jou eie droomplan op papier om ’n duidelike idee te hê van waarheen jy op pad is.”

As jy gelukkig genoeg is om jou eie blyplek te koop, sê Stevens, moet jy aanhou spaar waar jy kan en soveel moontlik geld in jou verband betaal.

“Die idee is om jou verband so gou as moontlik af te betaal, aangesien dit een van die doeltreffendste maniere van spaar is.”

Meer oor:  Tot Jou Diens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1141,62 (2006)
  • Top 40 46188,83 (33766)
  • All Share 52423,52 (32748)
  • Resource 10 39946,35 (23362)
  • Financial and Industrial 30 69346,7 (55842)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.