Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tot jou diens
Tot Jou Diens: Poskantoor-pakkie vat 'n ewigheid

Tot Jou Diens is ’n kampvegter vir verbruikers. Stuur klagtes aan totudiens@beeld.com en onthou om die kontakbesonderhede van die betrokke onderneming in te sluit.  

‘Kabelprobleem’ duur sewe weke

Dorothy Maartens was nie tevrede met die diens wat sy by Telkom gekry het nie.

“Dis al geruime tyd wat my telefoonlyn nie werk nie. Ek is al sedert 2000 ’n Telkom-kliënt en het nog altyd goeie diens van hulle gekry. As daar ooit ’n probleem was, het Telkom dit binne ’n dag of twee reggestel.

“Ongelukkig het dit nie hierdie keer só gebeur nie. Dis nou al sewe weke wat ek nie my Telkom-lyn kan gebruik nie. Ek het Telkom al ’n klomp kere oor die situasie gekontak, maar sover kan ek nie enige vordering sien om iets aan die probleem te doen nie.

Volgens die inbelsentrum is daar ’n kabelprobleem en ek word telkens belowe dat hulle daaraan werk. Dan sê hulle ’n tegnikus sal my kontak, maar dit gebeur ook nie.”

Tot Jou Diens het Maartens se klagte vir Telkom gestuur. Sy het laat weet haar klagte is intussen opgelos.

      

Builders verhaal bedrag 2 maal

   

Magda Grundling het die volgende klagte oor Builders Warehouse, Woodlands, Pretoria, onder ons aandag gebring.

“Ek het vroeër vandeesmaand aankope by Builders Warehouse gedoen. Ek het met my debietkaart betaal. Onmiddellik was daar ’n SMS van my bank om te sê die betaling is van my rekening verhaal.

’n Dag later het ek nog ’n SMS van my bank ontvang wat aandui Build­ers Warehouse het dieselfde bedrag ’n tweede keer van my rekening verhaal. Ek het Builders Warehouse hiervan ingelig, maar nog nie terugvoering van hulle oor die saak gekry nie.”

Ons het Builders Warehouse oor Grundling se klagte gepols. Hulle sê daar was wel per ongeluk ’n dubbele verhaling van haar rekening. ’n Reëling is met haar getref om die geld aan haar terug te betaal. Grundling sê die saak is reeds bevredigend opgelos.

     

Poskantoor-pakkie vat 'n ewigheid

     

Melanie Steyn het by Tot Jou Diens vir hulp kom aanklop nadat ’n pakkie wat vir haar by die Poskantoor gepos is, soek geraak het.

“Ek is desperaat om ’n pakkie op te spoor wat met die Suid-Afrikaanse posdiens van Kaapstad na Johannesburg gestuur is.

“Ek moet dié pakkie spoedig kry. Wanneer ek die Poskantoor bel, sê hulle hulle kan nie met die sporingstelsel help nie en ek moet ’n ander nommer probeer. Die alternatiewe nommer lui net sonder dat iemand dit beantwoord.

“Ek het al e-posse aan die Poskantoor gestuur om die pakkie te probeer opspoor, maar dit het ook nie gehelp nie.

“As ek my verwysingsnommer op hul sporingstelsel intik, lyk dit wel of die pakkie nog in die Poskantoor se besit is, maar soos ek beskryf het, weet niemand presies waar dit is nie.”

Tot Jou Diens het die Poskantoor gevra om ondersoek in te stel. Hulle het bevestig Steyn se pakkie is by die Brixton-poskantoor. Sy het dit reeds daar gaan afhaal en het hulle vir die hulp bedank.

Gewaarborgde dak lek en roes

Martie van Zyl het by Steelworks ’n bloutjie geloop.

“Ek het in Mei verlede jaar ’n kwotasie by Steelworks gekry om ’n afdak by my huis op te rig. Die werk is dieselfde maand afgehandel. Ek het wel gemerk daar is ’n stukkie naby my braaiplek wat nie geseël is nie.

Ek het dit sommer self geseël en Steelworks vir hul werk betaal.”

In Augustus het Van Zyl gemerk die afdak se pale begin roes en dat die dak by een van die skroewe lek.

Pluimpies

Erika Munz het ’n pluimpie vir Checkers, Menlyn, Pretoria, vir ons gestuur.

“Ek sê graag dankie aan die personeel van Checkers, Menlyn, vir hul fantastiese diens. Veral Albie Marais, die bestuurder wat op diens was, verdien ’n pluimpie vir wat hy alles vir my gedoen het.

Alhoewel dit aan die einde van die maand was en hy sekerlik baie besig was, het hy geen moeite ontsien om my te help nie. Ek waardeer dit baie.”



“Ek het Steelworks per SMS van die probleme ingelig. Daar was geen terugvoering van hulle nie. My seun het Steelworks ’n paar dae later gebel, waarna hulle belowe het om die volgende dag te kom ondersoek instel.

“Hulle het ook verduidelik dat hul kwotasie net vir ’n onderlaag voorsiening gemaak het. Ek was beslis nie hiervan bewus nie.”

Van Zyl sê Steelworks het nie vir hul afspraak opgedaag nie.

“Ek het gevra wat gebeur het en Steelworks het gesê hulle sal die volgende week ’n draai by my kom maak. Weer het hulle nie opgedaag nie. My seun het hulle weer gebel, maar hierdie oproep het onaangenaam geraak.

“Steelworks se werk het ’n agt-jaar-waarborg so ek voel hulle moet ’n plan maak om te help.”

Ons het Steelworks se aandag op Van Zyl se klagte gefokus. Hulle sê die verfwerk word nie onder die waarborg gedek nie, maar dat ander afdakke waar hulle ’n tweede laag verf aangebring het, nie onder roes deurloop nie.

Steelworks onthou die oproep waarna Van Zyl in haar skrywe verwys en sê haar seun het dit nie vir hulle maklik gemaak om te help nie.

Eerder as om in ’n moddergooiery betrokke te raak het die partye die strydbyl begrawe en is die herstelwerk by Van Zyl se huis nou gedoen. Sy het aangedui sy is tevrede met Steelworks se werk.

Pa besin oor vakansieklub

Lorette Greyling het ’n brief namens haar bejaarde pa vir ons gestuur om oor die diens van Vacation Hub International (VHI) te kla.

“My pa het die fout gemaak om verlede jaar by VHI aan te sluit nadat hy na een van hul aanbiedings gaan luister het. Hy het R14 300 aan hulle oorbetaal. Twee dae later het hy oor sy besluit besin en besluit om die kontrak te kanselleer.

“ Hy kon dit nog binne die vyf-dae-afkoeltydperk doen.”

Greyling se pa het VHI gebel om sy kansellasieversoek aan hulle te rig.

“Elsabe Labuschagne het belowe om die nodige vorm vir my pa te stuur dat hy sy kansellasieversoek kan indien.

“Uiteindelik moes hy VHI ’n klomp kere bel voordat hy die vorm gekry het. Hy het dit dadelik ingevul en vir hulle teruggestuur. Labuschagne het bevestig sy het die vorm ontvang, maar daarna het my pa nie weer van haar gehoor nie.

“In ’n stadium het VHI gesê my pa se kontrak word wel gekanselleer, maar ons het steeds nie ’n bevestiging hiervan ontvang nie.”

Tot Jou Diens het VHI oor Greyling se skrywe gepols. Hulle sê Greyling se pa het wel die regte prosedure gevolg om die kontrak te kanselleer, maar dat hulle gedurende die Desembervakansie baie besig was en daar dus ’n oponthoud was om ’n terugbetaling aan hom te maak. Hy het intussen sy geld teruggekry.

Slim Expert lewer nie produkte af na betaling

Lizé Ferreira het ’n klagte oor Slim Expert vir ons gestuur.

“Ek het in September verlede jaar ’n bestelling vir drie bottels van Slim Expert se produkte geplaas. Ek het R1 200 in die agent se rekening oorbetaal.

“Hierna het ons seker so ’n week lank gekommunikeer, waarna dit van haar kant af stil geraak het. Volgens haar sou ’n koerier die pakkie binne twee dae by my aflewer, maar dit het nie gebeur nie.”

Ferreira het met ’n aantal e-posse die Slim Expert-agent gevra wat aan die gang is.

Weer het ons niks gekry nie, maar ook die eienaar het gesê sy het die aflewering deurgestuur.
Lizé Ferreira

“Die agent het gesê aangesien ek so lank moes wag dat daar twee gratis bottels van hul produk by my dogter afgelewer sal word. Slim Expert het my vir my dogter se adres gevra. Nog twee weke het verloop waarin nie ek of my dogter iets gekry het nie, maar volgens die agent is alles afgelewer.

Sy het gesê sy het die dokumentasie om te wys die aflewering is gemaak.

“Ek was verbaas en het gevra om met die eienaar te praat. Die eienaar was verbaas oor die toedrag van sake en het my vir my korrespondensie met die agent gevra.

“Ek het dit deurgestuur, waarna die eienaar gesê het sy sal seker maak my bestelling word aangestuur. Weer het ons niks gekry nie, maar ook die eienaar het gesê sy het die aflewering deurgestuur.

Ek het haar gesê ek het niks gekry nie, maar my navrae het onbeantwoord gebly.

“Hulle het my ’n nuwe nommer gegee om die eienaar te kontak aangesien haar foon gesteel is. Toe ek weer by haar uitkom, het sy weer belowe om die pakkies aan te stuur. Steeds het ons niks ontvang nie.

“Hierna het my man ’n afspraak met Slim Expert gemaak om self die produkte by hulle te gaan afhaal, maar toe hy daar aankom, was niemand beskikbaar om hom te help nie. Ek het nog niks van hulle ontvang nie.”

Tot Jou Diens het Slim Expert gevra om kommentaar te lewer. Hulle sê hulle het talle kere pakkies vir Ferreira gestuur en dat dit volgens die koeriermaatskappy wel afgelewer is. Slim Expert het nog ’n versending gemaak.

Hulle sê voorts hulle het baie ekstra onkoste aangegaan om haar te help.

Ferreira het nou haar bestelling gekry.


Wenke wat werk

Volgens die kredietwet het Suid-Afrikaners verskeie regte waarvan hulle dalk nie bewus is nie. Hier volg van die vernaamste regte wat dié wet jou gee:

’n Mens het die reg om vir krediet aansoek te doen. Elke volwassene mag vir krediet aansoek doen, hoewel dit nie noodwendig aan jou toegestaan hoef te word nie.

Die kredietwet beskerm jou teen diskriminasie van kredietverskaffers. ’n Kredietverskaffer mag nie onregverdig teen jou diskrimineer wanneer jy vir krediet oorweeg word nie.

Jy mag vra hoekom jy krediet geweier word. As jy ’n kredietverskaffer vra hoekom jy krediet geweier is, moet hy jou sê.

Sy antwoord moet op skrif wees en moet verduidelik hoekom jy byvoorbeeld minder krediet kry as waarvoor jy aansoek gedoen het, hoekom jou kredietlimiet nie verhoog word nie of hoekom jou kredietooreenkoms nie hernu word nie.

Kies jou taal. ’n Mens mag vir dokumentasie aangaande jou kredietreëlings in enige van die amptelike landstale vra.

Wanneer dokumentasie vir jou gestuur moet word, kan jy kies hoe jy dit wil ontvang. ’n Mens kan dokumentasie met gewone pos, geregistreerde pos, e-pos, faks of ’n webblad wat uitgedruk kan word, aanvra. Anders kan jy self die nodige dokumente by die kredietverskaffer se perseel gaan afhaal.

Jy mag appèl aanteken in die geval waar jy dink jou kredietgeskiedenis is verkeerd of waar jy vermoed van jou kredietinligting is nie korrek nie.

Meer oor:  Tot Jou Diens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1036,35 (-1197)
  • Top 40 50987,15 (58996)
  • All Share 57164,25 (61745)
  • Resource 10 43731,91 (12908)
  • Financial and Industrial 30 76406,35 (116772)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.