Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tot jou diens
Tot Jou Diens: Koffie bly nie meer warm nie

Tot Jou Diens is ’n kampvegter vir verbruikers. Stuur klagtes aan totudiens@beeld.com en onthou om die kontakbesonderhede van die betrokke onderneming in te sluit. 

   

Koffie bly nie meer warm nie

     

               

Stephan Geyer het probleme ondervind met ’n koffiemasjien wat hy by Takealot gekoop het.

“Ek het in Desember 2016 ’n koffiemasjien by Takealot gekoop.

“Hierdie masjien het aanvanklik goed gewerk, maar teen April 2017 het twee probleme opgeduik. Die pypie wat skuim moet uitblaas, het net melk deurgepomp en die koffie was baie gou koud.

“Laasgenoemde het gebeur alhoewel die masjien se temperatuur op die maksimum gestel was. Ek het ander melk probeer, maar ook dit het nie gehelp nie.”

Geyer het die vervaardiger van die masjien gekontak om vir hulp te vra.

“Hulle het gesê die masjien is nog onder waarborg en ek moet dit vir moontlike herstelwerk inneem. Ek het so gemaak, maar byna 16 weke later het ek nog niks verder gehoor nie.

“Verskeie e-posse aan die vervaardiger en die maatskappy wat die herstelwerk moes doen, was vergeefs.

“In Oktober het ek Takealot gevra om my te help. Hul antwoord was dat ek die masjien vir hulle moes teruggestuur het en dus gaan hulle my nie help nie. Ek sit steeds sonder my koffiemasjien en niemand help my nie.”

Tot Jou Diens het Geyer se klagte vir Takealot gestuur. Hulle sê hulle was bewus van Geyer se klagte. Hy het inderdaad nie volgens hul voorwaardes opgetree nie en dis hoekom hy hulp geweier is.

Takealot sê egter hulle wil Geyer ’n gelukkige kliënt hou en het namens hom in verbinding getree met die masjien se vervaardiger wat ingestem het om vir Geyer ’n nuwe masjien te gee.

Geyer sê hy is verheug en hy het reeds die nuwe masjien gekry.

    

Kaart werk toe nie vir brandstof

    

Johan van Tonder meen Kiaranix se diens aan hom kon beter gewees het.

“Kiaranix verkoop ’n kaart waarmee ’n mens afslag op brandstofaankope kan kry. ’n Bedrag word vooraf aan Kiaranix oorbetaal vir hoeveel brandstof ’n mens beplan om aan te koop.

“Ek was as makelaar vir Kiaranix aangestel en het een van hul kaarte aan iemand verkoop. Die kliënt het R5 000 op sy kaart gelaai. Ongelukkig het daar iets met Kiaranix se verhouding met die brandstofverskaffer skeefgeloop en die persoon aan wie ek die kaart verkoop het, kon nooit sy brandstof kry nie.”

Van Tonder het Kiaranix gevra om te help.

Pluimpies

Rina van Tonder praat met lof van die diens wat sy by Lategan en Van Biljoens gekry het.

“Ek het ’n paar jaar gelede ’n wasmasjien by Lategan en Van Biljoens gekoop en uitstekende diens van die personeel daar gekry. Toe ek ’n rukkie later ’n stoof wou koop, is ek terug na Lategan en Van Biljoens en het weer fantastiese diens by onder andere PW gekry.

“Ongelukkig het bogenoemde wasmasjien probleme ontwikkel. Ek het PW hieroor gekontak en hy het dadelik moeite van die saak gemaak. Alhoewel daar van die vervaardiger se kant af ’n oponthoud was, het Lategan en Van Biljoens my gereeld op die hoogte gehou met wat aan die gang is.

“Dié masjien was nog onder waarborg en uiteindelik het Lategan en Van Biljoens gesê ek kan ’n ander wasmasjien by hulle kom kies. PW en Alwyn het my ná die tyd gekontak om te hoor of ek tevrede is met die nuwe masjien.

Hierdie soort vriendelikheid en behulpsaamheid word opreg waardeer. Ek sal verseker aanhou om Lategan en Van Biljoens te ondersteun.”

“Kiaranix het gesê hulle wag vir ’n terugbetaling van die brandstofverskaffer voordat ’n terugbetaling aan die kliënt gemaak kan word. Die terugbetaling sou binne twee maande gemaak word.

“Ses maande later het dit egter nog nie gebeur nie. Ek het die kliënt uit my eie sak vergoed en Kiaranix het ingestem om die terugbetaling direk aan my te maak.

“Ek het my bankrekeningbesonderhede aan hulle verskaf met die belofte dat ek die geld binne ’n week sou kry. Niks het van dié belofte gekom nie.

“Weer het ek Kiaranix gekontak en hierna was daar verskeie vergeefse beloftes oor wanneer ek die geld sou kry. Later het hulle nie meer my oproepe beantwoord nie. Nou weet ek nie meer watter kant toe nie.”

Tot Jou Diens het Kiaranix oor Van Tonder se klagte gepols. Hy het nou sy geld teruggekry.

    

SmartShopper-punte terugbesorg

     

Rita Coetzee was geskok nadat sy die punte op haar Pick n Pay SmartShopper-kaart kwyt is.

“Ek spaar seker al amper drie jaar aan die punte op my SmartShopper-kaart. Daar was nog nooit enige sprake dat die punte in die een of ander stadium sal verval nie. Onlangs het ek egter gemerk ’n klomp van my punte is weg.

“Ek het hieroor navraag gedoen en blykbaar het hulle in Desember ’n e-pos uitgestuur om te sê my punte gaan verval. Ek het nie altyd tyd om al my e-posse te lees nie en ek voel dis onregverdig dat ek my punte verloor het.”

Ons het Pick n Pay op Coetzee se klagte bedag gemaak. Hulle sê kliënte se SmartShopper-punte verval wel binne ’n jaar. Pick n Pay het as gebaar van welwillendheid die punte wat Coetzee verloor het op haar kaart teruggesit.

       

Chubb kanselleer ná maande wel

      

Wouter Myburgh sê Chubb het gesloer om sy kontrak met hulle te kanselleer.

“Ek was uiters teleurgesteld met Chubb se diens en het in Augustus 2017 ’n e-pos aan hulle gestuur om my kontrak met hulle te kanselleer.

“Hul aanvanklike terugvoering was dat my versoek aan die verkeerde e-posadres gerig is.

My dogter het my versoek aan die korrekte e-posadres gestuur. Desondanks kry ek nog elke maand ’n rekening van Chubb.”

Myburgh het Chubb gebel om te hoor hoekom. “Ek was verbaas toe Chubb sê ek gaan die rekenings moet betaal. Volgens hulle gaan my alarms soms af, ’n noodsein word dan na hul beheerkamer gestuur en dis hiervoor wat ek moet betaal. Ek stem nie saam nie. Chubb sê bloot ek moet maar betaal.”

Ons het Chubb gevra om ondersoek in te stel. Hulle sê Myburgh se versoek om kansellasie is wel in Augustus 2017 ontvang. Hulle het hom om verskoning gevra dat sy versoek nie gouer afgehandel is nie.

Myburgh se versoek om kansellasie is nou afgehandel en sy rekening op datum gebring.

      

Absa sloer met boedel oor wapens

      

Marion van Rooyen het namens haar ma ’n brief oor Absa se diens aan ons gerig.

“My pa is op 15 Julie 2015 oorlede. Absa is as eksekuteur van die boedel aangestel. Vir amper twee jaar is my pa se boedel nie afgehandel nie. In April 2017 het my ma oor die boedel navraag gedoen.

“ Absa het toe gesê die rede hoekom hulle nog nie klaar is nie, is omrede hulle ’n verslag van die polisie moes kry oor vuurwapens wat my pa besit het. Hy het egter hierdie vuurwapens al 15 jaar gelede by die polisie ingegee.

“Met ’n volgende navraag het Absa gesê daar is nog een geweer op my pa se naam oor wat die oponthoud veroorsaak. Hulle het gesê hulle is besig om die geweer verwyder te kry. Ons voel egter Absa het nou al genoeg tyd gehad en is al totaal moedeloos.”

Tot Jou Diens het Van Rooyen se skrywe onder Absa se aandag gebring. Hulle het Van Rooyen se ma gekontak en haar gesê die betrokke geweer is van haar oorlede pa se naam verwyder. Die finale stappe om die boedel af te handel is nou aan die gang.

       

VHI-kontrak nie deeglik deurgelees

       

Anna-Marie Reitz het vir ons geskryf oor haar ondervinding met Vacation Hub International (VHI).

“Ons het ’n bemarkingsgeleentheid van VHI bygewoon. Hulle het gesê ons kwalifiseer vir ’n gratis vakansie in Thailand. Ons het besluit om ’n kontrak met hulle aan te gaan. Volgens die verkoopsman sou ons vir R30 000 oor die volgende tien jaar omtrent soveel keer as wat ons wou, kan gaan vakansie hou.”

Reitz kon nie R30 000 in ’n enkelbedrag bekostig nie en het gereël om dit oor twee jaar te betaal.

“VHI wou hê ons moet R1 500 per maand betaal, maar dit kon ons ook nie bekostig nie. Hiervoor het hulle ’n oplossing gehad. ’n Mens kry ses gastesertifikate wat vir R9 000 elk verkoop kan word.

“ VHI het ingewillig om die sertifikate namens ons te verkoop en volgens hulle sou ten minste drie daarvan binne drie maande verkoop word.

“Die kontrak wat ’n mens onderteken, is redelik lank en ek het dit nie deeglik deurgelees nie.

“Daar was wel ’n afkoelperiode van vyf dae ter sprake, maar ons het die fout gemaak om steeds nie die kontrak binne daardie tydperk behoorlik onder die knie te kry nie.

“Ons het uiteindelik geld geleen om die lidmaatskap van die klub in een paaiement te betaal. Ons het darem afslag ontvang.”

’n Oproep wat Reitz later van VHI gekry het, het haar verras.

“VHI het gesê behalwe vir die enkelbedrag wat ons al betaal het, moet ons elke maand ledegeld betaal wat jaarliks verhoog.

“Ons het gevoel die verkoopsman het ons effens om die bos gelei en uit die kontrak probeer kom, maar VHI hou voet by stuk ons het ’n kontrak onderteken en dis nou maar so.”

Tot Jou Diens het VHI gevra om kommentaar te lewer. Hulle sê hulle is jammer Reitz is ongelukkig, maar dat die volledige kontrak tydens die voorlegging aan haar voorsien is.

Daarin kon sy sien waarvoor sy haarself inlaat en die maandelikse paaiemente is hierin uiteengesit. VHI sê Reitz het ’n geldige kontrak onderteken en sy sal daarmee moet voortgaan.

Reitz sê sy sal voortaan versigtig wees om soortgelyke voorleggings by te woon en ’n kontrak te onderteken voordat sy dit behoorlik deurgelees het.


Wenke wat werk

Roy Bregman van Bregman-prokureurs sê dis belangrik om voorbereidings vir die dag van jou dood te tref.

“Hoewel ’n mens dalk nie daarvan hou om aan jou dood te dink nie, moet jy die nodige voorbereidings daarvoor tref,” sê hy.

Bregman se voorstel is om ’n lêer of boks met belangrike dokumente op te stel. Hierdie lêer moet op ’n veilige plek gebêre word, maar so dat jou familie weet waar om dit te kry.

Bregman sê ’n mens moet onder meer die volgende dokumente, of kopieë daarvan, en ander inligting insluit:

Jou testament, versekeringspolisse, identiteitsdokument, geboorte-, huwelik- en belastingsertifikaat, paspoort, rybewys en registrasiedokumente van jou voertuie.

Verskaf ook kontakbesonderhede van jou prokureur, rekenmeester, dokter en werkgewer.

Stel ’n lys op van jou familie en vriende.

Sluit inligting oor jou bates in. Noem hier wat en waar dit is. Doen dieselfde vir jou laste.

Dink aan enige ander inligting wat dalk ná jou dood vir ander mense nodig sal wees.

Het iemand dalk jou wagwoorde nodig?

Waar bêre jy sleutels en dies meer?

Verskaf ook inligting oor jou begrafnisreëlings.

Meer oor:  Tot Jou Diens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1029,79 (2349)
  • Top 40 50196,92 (-24406)
  • All Share 56298,64 (-28324)
  • Resource 10 42967,87 (15763)
  • Financial and Industrial 30 75206,83 (-58661)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.