Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tot jou diens
Tot Jou Diens: Ligte uit, Standard Bank help nie

Tot Jou Diens is ’n kampvegter vir verbruikers. Stuur klagtes aan totudiens@beeld.com en onthou om die kontakbesonderhede van die betrokke onderneming in te sluit. 

       

Bel en e-pos WVF 33 keer

      

     

    

Elsie Visser het by die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) vasgebrand.

“Ek het verlede Junie ’n eis by die WVF ingedien. Volgens hul terugvoering sou my eis binne 35 werksdae afgehandel word.”

Visser het ’n saaknommer gekry en het die vordering van haar eis op die WVF-webwerf probeer volg.

“Op die WVF-webwerf kon ek geen vordering sien nie. Ek het oor ’n tydperk van ’n paar maande die WVF 15 keer gebel en 18 e-posse aan hulle gerig. Telkens moes ek aan iemand anders my storie verduidelik.

Hulle het eers my bankbesonderhede verkeerd op hul stelsel gehad en toe was dit weer die verkeerde soort rekening vir hulle om betalings in te maak.

“Ek het ’n alternatiewe rekening se besonderhede aan die WVF verskaf, maar steeds was dit nie die einde van die probleem nie.

“Ek het wel een betaling ontvang, maar daarna het iets weer skeefgeloop aangesien my bankbesonderhede nie op hul stelsel aangepas is nie.”

Hierna het Visser ’n SMS van die WVF ontvang waarvolgens sy binne sewe tot 10 werksdae ’n volgende betaling te wagte kon wees.

“Die betaling wat die WVF belowe het, het nooit gekom nie. Ek het hulle gebel en met iemand gepraat wat belowe het om ondersoek in te stel en my daarna te kontak.

“Ook van hierdie belofte het niks gekom nie. Met my volgende navraag het die WVF gesê my versoek vir betaling is gekanselleer. Ek is nou moeg gesukkel.”

Tot Jou Diens het Visser se klagte onder die WVF se aandag gebring. Haar eis is nou verwerk en sy sê haar probleme is nou op ’n einde.

     

Wasmasjien maak klere groen

      

Brian Howe het by die Fynbos-gholflandgoed in Eersterivierstrand ’n bloutjie geloop.

“Ons het in April verlede jaar ’n huis deur die Fynbos-gholflandgoed gehuur. Hulle was toe in beheer van die betrokke huis.

Die huis het ’n wasmasjien ingehad. Op ons eerste dag daar het ons ’n bondel wasgoed in die masjien gesit en dit aangeskakel. Daar was geen instruksies vir die masjien nie en ons het soos gewoonlik waspoeier ingegooi.

Halfpad deur die siklus het die masjien gestop.”

Howe het by die Fynbos-skoonmaker navraag gedoen hoe om die masjien te gebruik.

“Sy het voorgestel dat ons eerder ’n ander wassiklus gebruik. Ons kies toe ’n ander program en is daar weg. Toe ons later terugkom, was ons klere oortrek met ’n groen laag van wie weet wat.

Pluimpies

Etta Marais het ’n pluimpie vir Wonderboom Car Service in Pretoria.

“Ek wil graag ’n pluimpie gee vir Albie en sy personeel van Wonderboom Car Service.

“Ek moes onlangs my motor vir dringende herstelwerk na hulle neem.

“Hulle het voorheen herstelwerk aan my motor gedoen.

“Die waarborg daarop het reeds verval.

“Tot my verbasing het hulle die onderdele gratis vervang en ek is hoogs tevrede daar weg sonder om ’n verdere sent te betaal.

“Hul vriendelike, professionele diens het my regtig beïndruk.

“Ek kan hulle beslis aanbeveel.”

“Ons het die klere die aand ’n klomp keer met die hand uitgespoel, maar kon nie van die groen laag ontslae raak nie.

“Die skoonmaker het gereël om ons klere in ’n ander masjien te was. Sy het later gesê ons klere is onherstelbaar beskadig en ons moet die saak met die bestuur opneem.

“Sy het voorts gesê ’n vorige besoeker het ’n groen oortreksel in die masjien gewas en dit is vermoedelik waar die kleur vandaan gekom het.”

Howe het wat gebeur het by Fynbos se bestuur gaan aanmeld. “Die personeel was nie juis vriendelik nie, maar hulle het ons aangeraai om ’n kwotasie te bekom om die klere te vervang en dan sou hulle die saak met hul versekering opneem.

“Ons het die kwotasie bekom en dit by die Fynbos-bestuur ingedien. Hierna het ons nie van hulle gehoor nie en het ná ’n rukkie weer opgevolg.

“Hulle het vir die oponthoud om verskoning gevra.

“Toe ons weer van hulle hoor, het hulle gesê die eienaar van die huis weier om vir die skade te betaal aangesien hy reken die skade was nie sy skuld nie. Dis vir ons onaanvaarbaar.”

Tot Jou Diens het die Fynbos-gholflandgoed oor Howe se klagte gepols.

Hulle sê Howe se bespreking is deur ’n derde party gemaak wat daartoe bygedra het dat die eis ’n tydjie geneem het om te verwerk. Voorts was daar ’n oponthoud met Howe se bank. ’n Betaling is intussen aan Howe gedoen.

    

Gems sloer met dokter se betaling

      

Renier de Meyer het ’n klagte oor die mediese fonds vir staatswerkers (Gems) vir Tot Jou Diens gestuur.

“Ek het verlede jaar my skildklier en die senuwee aan my stembande aan kanker verloor. Hierna is ’n senuwee uit my voet na my stembande oorgeplant. Ek het ’n eis vir hierdie operasie by Gems ingedien.

“Ses maande later is die betrokke dokter nog nie betaal nie.

“Ek het verskeie kere navraag gedoen, maar al wat ek sover uit Gems gekry het, is ’n klomp verwysingsnommers.

“Ek dink nie die dokter moet so lank vir sy geld hoef te wag nie.”

Ons het Gems oor De Meyer se klagte gepols. Die dokter se rekening is nou betaal.

   

Sukkel lank met waterdruk

   

Johan Pretorius het waterdrukprobleme by sy huis in Pretoria ondervind en het gesukkel om hulp by die Tshwane-munisipaliteit te kry.

“Ek sukkel al meer as ses maande met die waterdruk by my huis in Elarduspark, Pretoria.

“Ek het in Julie verlede jaar die eerste keer ’n klagte hieroor by die Tshwane-munisipaliteit ingedien.

Kort daarna het ek ’n verwysingsnommer gekry. Voorts het die munisipaliteit gesê die saak sal onder die regte departement se aandag gebring word.

“Niks het verder gebeur nie en my navrae het op dowe ore geval. Ek het dus weer in Januarie Tshwane gekontak en ene Nicole Bouwer wou weet of die waterdruk al verbeter het.

Ek het haar ingelig dat die druk steeds so swak soos voorheen was.

“Weer het niks hierna gebeur nie.”

Tot Jou Diens het Pretorius se klagte onder die Tshwane-munisipaliteit se aandag gebring. Hul tegnikus het Pretorius se huis besoek en twee knakke in ’n toevoerpyp na sy huis gevind. Dis herstel en die waterdruk is nou weer soos dit moet wees.

      

Ligte uit, Standard Bank help nie

       

Judith Dannhauser het ’n klagte oor Standard Bank by ons ingedien.

“Ons huis het in Desember onder ’n storm deurgeloop. Talle ligte is in die proses beskadig.

“Ons het telefonies ’n eis by Standard Bank probeer indien, maar ons kon nie regkom nie. My man het uiteindelik self ’n eis by die plaaslike Standard Bank-tak gaan indien. Hier het die personeel hom gehelp om by die regte afdeling uit te kom.

“Omtrent drie weke ná die storm het ’n verteenwoordiger van Standard Bank sy opwagting by ons huis gemaak om die ligte te herstel. Dieselfde aand was die ligte weer dood.

“Ons het hulle weer gevra om te help, maar as ons nie van een persoon na die ander deurgesit word nie, kry ons bloot nie antwoorde op ons e-posse nie.”

Tot Jou Diens het Standard Bank gevra om ondersoek in te stel. ’n Kontrakteur het Dannhauser besoek en die nodige herstelwerk is nou voltooi.

  

Sy skik met Pickfords ná skade

      

Lynette Posthumus meen Pickfords, Port-Elizabeth, se diens kan verbeter.

“Pickfords het ’n aantal waardevolle erfstukke vir my van Port Elizabeth na Bethal vervoer. Dié goed het in ’n treurige toestand hier aangekom. Sommige van die goed was duidelik in die son gelos en ander het waterskade gehad.

“Die gestoffeerde meubels was op plekke nog nat en selfs gemuf. Twee van die lampe se drade was sommer afgeknip en die lampskerms was flenters omdat dit bo in bokse ingedruk was.”

Posthumus het Pickfords vir ’n verduideliking gevra.

“Hulle het bloot gesê daar was baie reën die laaste rukkie in Port Elizabeth. Hulle het wel om verskoning gevra en ek is aangeraai om ’n versekeringseis in te dien. Ek is glad nie tevrede nie.”

Ons het Pickfords gevra om hul kant van die saak te stel.

Hulle sê ’n ondersoek het getoon hul vragmotor het op pad na Bethal skade opgedoen waar reënwater ingelek het.

Die bestuurder van die vragmotor was nie hiervan bewus nie. Voorts sê Pickfords Posthumus het wel ’n versekeringseis vir die skade ingedien.

Hulle het haar met hierdie proses gehelp en ’n uitbetaling van R3 900 van die R4 100 wat sy geëis het, is reeds aan haar gemaak.

Pickfords is jammer oor die skade aan Posthumus se eiendom, maar meen hulle het onder die omstandighede die beste moontlik oplossing gevind.

Posthumus sê Pickfords se kommunikasie kon beter gewees het, maar sy het besluit om hul aanbod te aanvaar en die hoofstuk af te sluit.

Wenke wat werk

Tshipi Alexander van Absa het die volgende wenke om jou teen aanlyn slenters te beskerm:

Vermy dit om jou persoonlike finansiële inligting oor die internet uit te gee.

Verander gereeld jou PIN en ander wagwoorde.

Moenie skakels in ’n e-pos volg wat sê dis van jou bank nie. Tik eerder die bank se webwerf self in as jy dit wil besoek.

Misdadigers maak ook van sosiale media gebruik om jou inligting te probeer bekom. Moenie te veel van jou inligting op hierdie platforms uitgee nie.

Maak gebruik van sagteware wat jou rekenaar teen virusse en indringerprogramme beskerm.

Moenie jou internetaankope en -banksake by ’n openbare rekenaar doen nie.

Hier kan misdadigers sagteware gebruik om jou persoonlike besonderhede uit jou toetsbordgebruik te bekom. Met hierdie inligting kan jou bankrekening dalk leeggemaak word.

Wanneer jy op ’n webwerf is, kyk of dit ’n geslote webwerf is. Daar behoort ’n ikoon bo of onder op die skerm te wees wat dit aandui.

Wanneer jy by jou rekenaar klaar is, maak al jou internetprogramme toe. Meld af van jou internetbankdienste elke keer as jy vir ’n tyd lank van jou rekenaar af gaan weg wees.

Stel jou bank dadelik in kennis as daar enige verdagte transaksies op jou bankkaarte of state verskyn.

Teken in op jou bank se kennisgewingstelsel wat jou laat weet as daar transaksies op jou bankrekenings plaasvind.

Meer oor:  Tot Jou Diens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1108,65 (2792)
  • Top 40 45929,03 (12363)
  • All Share 52146,04 (14659)
  • Resource 10 39470,3 (2238)
  • Financial and Industrial 30 69022,22 (28521)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.