Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tot jou diens
Tot Jou Diens: Lugversorger lek twee keer

Tot Jou Diens is ’n kampvegter vir verbruikers. Stuur klagtes aan totudiens@beeld.com en onthou om die kontakbesonderhede van die betrokke onderneming in te sluit.

     

Lugversorger lek twee keer

    

     

Vincent Lennox het probleme gekry met die lugversorger wat hy by Makro, Alberton, gekoop het.

“Ek het omtrent ’n jaar gelede ’n lugversorger by Makro bekom. In Januarie het ek ’n probleem met die toestel by hulle aangemeld. Ek het met verskeie personeellede gepraat voordat ek by die bestuurder uitgekom het. Ek het aan hom verduidelik die lugversorger maak nie die lug so koud as wat dit veronderstel is om te doen nie. Dit het ook water gelek.”

Makro se verskaffer het ’n paar dae later ’n tegnikus gestuur.

“Die tegnikus het gesê die herstelwerk kan nie by my huis voltooi word nie en hy is met die eenheid na hul werkswinkel toe. ’n Week later moes ek eers bel voordat ek my lugversorger, met ’n paar krappe op, teruggekry het.

“Dit het steeds water gelek. Ek het die saak weer met Makro opgeneem. Hulle het belowe om aandag aan die saak te gee, maar dit lyk of die saak tussen hulle en die verskaffer doodgeloop het.”

Tot Jou Diens het Makro se kommentaar gevra. Hulle het Lennox om verskoning gevra omdat dit vir hom gevoel het asof hy swak diens van hulle kry.

Volgens hul inligting het hy die lugversorger al in 2016 gekoop. Dis verkoop met ’n tweejaar-waarborg. Hul verskaffer het Lennox as welwillendheidsgebaar besoek en die herstelwerk gedoen.

Wat sy terugvoering hierna aanbetref, het Makro ingestem om seker te maak sy lugversorger werk soos dit moet en dat enige kosmetiese skade herstel word.

Lennox het bevestig die nodige is reeds gedoen.

    

‘Buitensporige lesing nie reg nie’

    

Hannes Wagenaar was nie beïndruk met die diens wat sy by die Tshwane-munisipaliteit gekry het nie.

“My jongste Tshwane-rekenings is nie korrek nie en ek het hulle al verskeie kere gevra om aandag daaraan te gee. Daar was nog nie reaksie nie.

“Ek betaal altyd my hele rekening ten volle, maar met die laaste rekening was daar ’n buitensporige lesing vir krag- en watergebruik. Ek dink die fout is dat hulle verkeerde lesings vir openingsbalanse gebruik het. Ongelukkig kry ek hulle nie sover om my punt in te sien nie.”

Tot Jou Diens het die Tshwane-munisipaliteit oor Wagenaar se klagte gepols. Hy sê ’n verteenwoordiger van die munisipaliteit het hom gekontak en sy klagte is nou opgelos.

    

Nog ’n DStv-tydskrif soek

     

Danie Smith was soos ’n paar ander lesers teleurgesteld met MultiChoice se diens nadat hy nie meer sy DStv-tydskrif gekry het nie.

Pluimpies

Tertius du Plessis was beïndruk met die diens wat hy by die MacNeil-hardewaregroep gekry het.

“Ek het ’n stortkop by MacNeil gekoop. Die stuk wat aan die waterpyp vasdraai, is van plastiek gemaak.

“Met die vasdraai is die skroefdraad beskadig en die stortkop het gelek. Volgens my is die ontwerp nie goed nie en ek het dit op MacNeil se webwerf vermeld.

“’n Dag later het een van hul personeellede my gekontak en gereël om die stortkop te vervang. Die nuwe stortkop is by my huis afgelewer.

“Vir my is dit uitsonderlike diens dat ’n maatskappy so vinnig op ’n skrywe op hul webwerf reageer.

“My ondervinding is dat maatskappye omtrent glad nie op kommentaar op hul webwerwe reageer nie.”

“Verlede jaar het ek ewe skielik nie meer die DStv-tydskrif gekry nie. Niemand het my ooit geraadpleeg om te hoor of ek nog die tydskrif wil ontvang nie. Intussen kontak MultiChoice my gereeld om een of ander nuwe produk, wat ek nie wil hê nie, te adverteer, maar oor die tydskrif wat ek wel wil hê, hoor ek niks nie.”

Ons het MultiChoice gevra om Smith se klagte te ondersoek. Hulle sê daar was ’n probleem met sy adres op hul stelsel en dat dit nou reggestel is.

MultiChoice gee die volgende wenke om meer oor hul programme uit te vind:

Besoek kanaal 100 op jou dekodeerder.

Gebruik die DStv Now-app om skedules te sien.

Kry die DStv-tydskrif in pdf-formaat op DStv.com of kry relevante inligting oor hul programme op dieselfde webwerf.

Teken in op DStv se weeklikse nuusbrief om e-posse met inligting oor programme te ontvang.

     

Telkom se kabel gee probleme

      

Elsje Prinsloo het met Telkom koppe gestamp.

“Ek bly in Pretoria en het al in November ’n probleem met my telefoonkabel by Telkom aangemeld. Ek het ’n verwysingsnommer gekry, maar my probleem het nooit aandag gekry nie.

“Intussen volg ek omtrent weekliks met Telkom op om te hoor of daar enige vordering is, maar my telefoon werk steeds nie.”

Ons het Prinsloo se klagte onder Telkom se aandag gebring. Sy sê Telkom het haar lyn binne drie dae van Tot u Diens se skrywe aan hulle herstel en sy is ook vir die ongerief om verskoning gevra.

   

Haar voordele was reeds uitgeput

  

Izanne Potgieter se skrywe aan ons het oor die mediese fonds vir staatswerkers (Gems) gehandel.

“Ek is op ’n swangerskapprogram geregistreer en het onlangs met die vroedvrou wat my met die geboorte gaan help kontak gemaak.

“ Ek het Gems gevra of ek dekking vir hierdie vrou se dienste geniet en ook as daar komplikasies tydens die geboorte is of hulle vir ekstra rekenings sal pa staan.

“’n Gems-konsultant het bevestig die vroedvrou sal uit my daaglikse voordele betaal word, maar toe ek haar rekenings aan Gems gee, het hulle net gedeeltelik daarvoor betaal.

“Ek was natuurlik nie gelukkig nie en het hulle hieroor uitgevra. Volgens hulle sou hulle wel alles betaal het as die vroedvrou self haar rekenings aan hulle gestuur het, maar omrede ek dit ingestuur het, betaal Gems nie die volle bedrae nie.

“Ek verstaan nie hierdie redenasie nie. Met doktersbesoeke eis ek ook self en hiervoor betaal Gems wel ten volle.”

Tot Jou Diens het Gems vir ’n verduideliking gevra. Hulle sê die rekenings waarna Potgieter verwys is nie ten volle betaal nie omrede haar voordele vir die jaar uitgeput was, nie omdat sy self die eise ingedien het nie. Sy het hul verduideliking aanvaar. 

     

Smartshopper-punte verval

       

Maria Hattingh het haar misnoeë oor Pick n Pay se diens aan ons te kenne gegee.

“Ek was geskok toe ek aan die einde van Januarie met punte op my Pick n Pay Smartshopper-kaart wou aankope doen en vind dat daar aansienlik minder op my kaart is as wat ek gedink het daar behoort te wees.

“Ek het ’n navraag op hul webwerf ingedien en ook met die personeel by die plaaslike winkel hieroor gepraat, maar nie antwoorde gekry nie.”

Ons het Hattingh se klagte vir Pick n Pay gestuur. Hulle sê Smartshopper-punte verval elke jaar, maar het as vergunning die punte wat Hattingh verloor het op haar kaart teruggesit. Sy het hulle vir hierdie gebaar bedank.

   

Skuldinvorderaars vat haar kar

     

Lieb Buitendach het ’n klagte oor Motor Finance Company (MFC) vir Tot Jou Diens gestuur.

“Ek het finansiering vir my voertuig by MFC bekom. Ek het die paaiemente elke maand getrou betaal. Verlede jaar moes ek om mediese redes ophou werk, het ’n aantal maande nie ’n inkom­- ste gehad nie en moes op my pensioen wag. ”

Buitendach het MFC ingelig. “Ek het aan MFC verduidelik dat ek sal betaal soos ek geld beskikbaar het. Dit het gelyk of hulle tevrede is met dié reëling.

“Vroeër hierdie maand het skuldinvorderaars egter by een van my kinders se huis opgedaag om die kar terug te vat.

“Ek kon wel die uitstaande bedrag betaal om my voertuig terug te kry en het die volgende dag antwoorde by verskeie mense by MFC probeer kry, maar nie reggekom nie.

“Daarna het ek die skuldinvorderaars direk gekontak, maar nie deurgekom nie. Ek het ’n boodskap gelos. ’n Paar dae later het ek die skuldinvorderaars weer gekontak en by Suzette uitgekom.

“Sy het aangebied om namens my e-pos te stuur. Hierna het Naomi my gebel en aandagtig na my storie geluister.

“Sy het my na Noko verwys. Noko het my ingelig my voertuig is nie meer by die handelaar nie en dat ek nog R5 867 se koste moet betaal voordat ek dit sal kan terugkry.

“Ek was geskok, maar het aangebied om die uitstaande skuld af te betaal om my kar terug te kry. Noko was nie in ’n posisie om ’n reëling met my te tref nie.

“Ek is na Estelle verwys, vir wie ek ’n e-pos gestuur het om te verduidelik hoe ek die skuld sou afbetaal. Sy het nie hierop gereageer nie. Weer het ek met Noko kontak gemaak, maar tussen haar en Estelle het die saak nie juis gevorder nie.

“Uiteindelik het hulle nie my aanbod aanvaar nie en gesê ek moet teen 20 Februarie al die uitstaande skuld betaal om my kar terug te kry. Ek sou egter eers teen die 25ste die nodige geld beskikbaar hê en dus kon ek nie tot hul plan instem nie.

“Hierna het ek nog ’n aanbod van MFC gekry met nog koste ingereken. Nou weet ek nie meer watter kant toe nie.”

Tot Jou Diens het Buitendach se klagte onder MFC se aandag gebring. Hy sê hulle het ’n billike aanbod aan hom gemaak wat hy aanvaar het.

Wenke wat werk

’n Werknemer mag ingevolge Suid-Afrikaanse wetgewing ’n werknemer nie afdank sonder dat laasgenoemde eers dissiplinêr verhoor is nie.

Drie algemene redes wat aangevoer word wanneer ’n persoon afgedank word, is wangedrag, onbekwaamheid of bedryfsbehoeftes.

Wanneer ’n maatskappy ’n werknemer wil afdank, moet die redes vir die besluit aan die werknemer verskaf word en hy die geleentheid gebied word om sy kant van die saak te stel.

Die werknemer moet ingelig word oor die prosedures van die verhoor en wat sy regte in die verhoor is.

Die werknemer mag onder meer ’n kollega vra om hom te verteenwoordig en hy mag getuies inroep om sy kant van die saak te help stel.

’n Onafhanklike voorsitter moet aangestel word om die saak te besleg. Hy moet die prosedure bestuur en uiteindelik voorskryf watter dissiplinêre stappe gedoen moet word.

As bogenoemde stappe nie gevolg word nie en daar nie buitengewone omstandighede vir ’n onmiddellike afdanking is nie, kan die werknemer teen die afdanking appèl aanteken.

’n Mens het 30 dae om by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (CCMA) of die Bedingingsraad ’n klag in te dien.

’n Ander alternatief is om ’n arbeidskenner se raad te vra.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1080,73 (-281)
  • Top 40 45805,4 (-2780)
  • All Share 51999,45 (-11034)
  • Resource 10 39447,92 (-95050)
  • Financial and Industrial 30 68737,01 (53875)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.