Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tot jou diens
Tot Jou Diens: Met gehuurde motor in botsing

Tot Jou Diens is ’n kampvegter vir verbruikers. Stuur klagtes aan totudiens@beeld.com  en onthou om die kontakbesonderhede van die betrokke onderneming in te sluit.

Dit kos toe niks nie

  

Carl Barnard van Langebaan het vir ons geskryf oor ADT se diens.

“Ek het in 2016 in my huis ingetrek en sedert dag een was ADT vir die alarm verantwoordelik.

“ ’n Derde party het egter vroeër vanjaar die monitering van hierdie stelsel oorgeneem.

Die probleem het gekom toe die stelsel nuwe komponente moes kry en die installeerder nie toegang tot die stelsel se sagteware kon kry nie.

“Die vermoede is dat een van ADT se personeellede in ’n stadium die stelsel se kode verander het.

“Die gevolg is dat die stelsel teen ’n koste teruggestel moet word.

Ek voel onder die omstandighede dat ADT vir die koste moet pa staan, maar tot dusver het ek nog nie positiewe terugvoering van hulle gekry nie.”

Tot Jou Diens het ADT se aandag op Barnard se klagte gefokus.

Hulle sê Barnard se inligting was nie korrek nie en dat daar inderwaarheid geen koste vir sy sak sal wees vir die werk wat aan sy alarmstelsel gedoen moet word nie.

Hoe dit ook al sy het hulle hom vir die ongerief om verskoning gevra.

Telkom laat pensioenaris wag

  


Die 93-jarige Dries Keulder van Pretoria het met Telkom koppe gestamp.

“Ek moes onlangs in my aftreeoord van een kamer na ’n ander trek en het Telkom gevra om my telefoonlyn na my nuwe kamer te verskuif.

“ ’n Geruime tyd het nou al verloop en daar is nog geen taal of tyding van Telkom oor wanneer hulle die lyn gaan skuif nie.”

Tot Jou Diens het Telkom gevra om Keulder te help. Hy het laat weet sy telefoonlyn is nou wel geskuif.

Absa sloer lank met kansellasie

Rita Smaal het lank gesukkel om haar Absa-kredietkaart gekanselleer te kry.

“Nadat ek vir ’n hele rukkie nie meer my Absa-kredietkaart gebruik het nie, het ek besluit om dit te kanselleer.

“Die rekening het op die punt gekom waar die bankkoste hoër was as die rente wat ek daarop verdien het.

“My eerste versoek om dit te kanselleer is reeds drie jaar gelede ingedien. Absa het dit nie uitgevoer nie en het ook nie op my opvolgende versoeke gereageer nie.

“In ’n stadium het ek moed opgegee, maar ek het verlede maand weer probeer om die kansellasie af te handel.

“Ná vele oproepe het ek by ’n bestuurder uitgekom wat my vir sekere dokumentasie gevra het. ’n Week later het ek ’n boodskap van ene Theresa op my foon gekry. Sy het my gevra om Absa te bel of om die plaaslike tak te besoek.

“Ek is wel na die plaaslike tak, waar hulle niks van die bestuurder se reëlings geweet het nie.

“Voorts kon hulle niks aan die saak doen nie. Ek is nou moeg vir hoe Absa my in sirkels rondstuur.”

Pluimpie

Hennie Gouws sê Audi Nelspruit lewer puik diens.

“Ons was verlede maand met ons kar by Audi Nelspruit se werkwinkel nadat dit in die Krugerwildtuin onklaar geraak het.

“Laetitia en die personeel het ons vriendelik ontvang. Henry, die tegnikus, het dadelik vermoed wat fout is.

“Nadat hy sy vermoede bevestig het, is die nodige onderdeel bekom en ons motor herstel.”

Ons het Absa gevra om ondersoek in te stel. Hulle het met Smaal kontak gemaak en ’n oplossing is vir haar probleem gevind. Sy het hulle hiervoor bedank.

Lena van Wyk het ook ’n klagte oor Absa aan Tot Jou Diens gerig.

“My beursie, waarin my Absa-kaart onder meer was, is onlangs by die winkels uit my handsak gesteel.

“Ek het die Absa in dieselfde winkelsentrum besoek om hulle van die gesteelde kaart in te lig. Voordat ek nog by die tak van Absa in die sentrum gekom het, is daar R1 000 uit my rekening onttrek. My kaart is toe wel gestop en Absa het belowe om ondersoek in te stel.”

Van Wyk het ’n verwysingsnommer van Absa gekry.

“Nadat Absa hul ondersoek afgehandel het, het hulle gesê hulle gaan my nie vir die verlies terugbetaal nie.

“Ek het al drie keer hieroor by Absa gekla, maar dit lyk nie of hulle van plan gaan verander nie.”

Ons het ook Van Wyk se klagte vir Absa gestuur en gevra of hulle haar kan tegemoet kom. Hulle het ’n aanbod vir ’n terugbetaling aan Van Wyk gemaak, wat sy aanvaar het.

Met gehuurde motor in botsing

  

Marcel Roux het by Budget-motorhuur ’n bloutjie geloop.

“Ek het met ’n onlangse besoek aan Zürich ’n motor op die lughawe deur ’n derde party by Budget gehuur.

“Ek was met hierdie kar in ’n ongeluk betrokke en het ’n versekeringseis ingedien.

“Toe ek die motor weer by die derde party ingee, het hulle meer as R30 000 van my kredietkaart verhaal as voorsiening vir hul voorlopige skadebepaling. Hierna moes ­Budget sekere dokumente aan die derde party voorsien alvorens ’n terugbetaling aan my gemaak kon word.

“Die derde party sê hulle het nog nie die nodige dokumente by Budget gekry nie. Ek het hierdie dokumente van Budget in Suid-Afrika aangevra, maar ook nie hier reggekom nie.”

Ons het Budget op Roux se klagte bedag gemaak. Die nodige dokumente is aangestuur en hy sê ’n uitbetaling is nou aan hom gemaak.

Vodacom-premie toe hemelhoog

  

Herman Lombard was nie gelukkig met Vodacom se diens nie.

“Ek het in April vanjaar my Vodacom-kontrak opgradeer. Die maandelikse premie is op R139 vasgemaak. Hierby ingesluit is R110 se lugtyd.

“In Mei en Junie het Vodacom my rekening vir onderskeidelik R787,97 en R875,40 gedebiteer. Ek het Vodacom gevra hoekom die premie nie soos afgespreek was net R139 is nie en volgens hulle was daar aftrekkings vir iets genaamd WASPA.

“Ek het geen idee wat dit is nie. Onder hierdie omstandighede het ek hulle gevra om my geld terug te gee, maar die saak vorder nooit verder as hulle wat belowe om ondersoek in te stel nie. Hierdie belofte is al drie keer aan my gemaak sonder dat ek enige geld teruggekry het.”

Tot u Diens het Vodacom oor Lombard se klagte gepols. Hy sê hulle het hom gekontak en kon hom bevredigende antwoorde op al sy vrae gee.

Capitec blok sy rekening 

Paul Kuypers het Capitec se diens as teleurstellend bestempel.

“Soos by ’n vorige geleentheid het Capitec my rekening vir die een of ander onverstaanbare rede geblok. Dit volg ná ’n betaling van R500 van iemand met ’n FNB-rekening wat blykbaar weens bedrog ondersoek word.

By die vorige geleentheid wat my rekening geblok was, moes ek nagenoeg R400 se oproepe maak voordat Capitec weer my rekening geaktiveer het.

“Ek wou nie weer hierdie paadjie met Capitec stap nie en het besluit om die plaaslike tak te besoek om vir hulp te vra. Die personeel hier het gesê FNB het ’n bedrogklag ingedien wat eers ondersoek moet word voordat ek weer betalings uit my rekening sou kon maak.”

Kuypers het Capitec se ondersoekspan in die hande probeer kry.

“Ek kon glad nie by die persone wat die ondersoek behartig, uitkom nie en al inligting wat ek by Capitec kon bekom, is dat die ondersoek nog nie afgehandel is nie.

Volgens wat Capitec vir my gesê het, kan die ondersoek tot en met vyf werksdae neem, maar dis nou al veel langer as dit en daar is nog geen terugvoering van Capitec se ondersoekspan nie.

“Wat my die meeste omkrap, is dat ek al 14 jaar by Capitec ’n kliënt is en sonder enige waarskuwing deur hierdie proses moet gaan ná enigiemand wat daarna voel hierdie soort klag kan indien.

“Ek meen daar moet ’n regverdiger manier wees om die saak aan te pak. Om alles te kroon moet ek nog vir ’n nuwe bankkaart ook aansoek doen en dit kos my elke keer R55.

“Hierdie is ’n groot verleentheid vir my en ek verstaan ek is nie die enigste Capitec-kliënt wat op hierdie wyse deurgeloop het nie. Ek is dankbaar dat Capitec sekuriteit ernstig opneem en my probeer beskerm, maar ek vra net dat hulle dit op ’n ander manier doen.

“Ek moet wel noem dat Yolandé Mouton van Capitec by ’n vorige geleentheid baie gedoen het om my te help.”

Tot Jou Diens het Kuypers se klagte onder Capitec se aandag gebring.

Hulle het sy rekening weer geaktiveer en ook ’n terugbetaling aan hom gedoen vir die koste wat hy moes aangaan om die situasie te probeer oplos.


Wenke wat werk

Volgens Roy Bregman van Bregman-prokureurs kom ’n kontrak tot stand nadat een party ’n aanbod aan ’n ander een maak en laasgenoemde dit aanvaar.

“Vir ’n kontrak om bindend te wees, moet die twee partye saamstem oor wat aangebied word,” sê Bregman. “Die partye moet ook vrywillig tot die kontrak toetree.”

Bregman maan dat in die geval waar een party wetend sekere inligting van die ander weerhou, die kontrak nietig verklaar kan word.

’n Kontrak sal ook nietig verklaar word waar iemand geboelie word om die kontrak te onderteken.

Uit ’n regsoogpunt moet die partye geregtig wees om ’n kontrak te kan sluit. Een van die vernaamste bepalings is dat ’n mens 18 of ouer moet wees om ’n kontrak te mag sluit.

“Kontrakte kan mondelings of op skrif aangegaan word,” sê Bregman. “Daar is egter sekere kontrakte wat op skrif moet wees.”

Die verkoop van vaste eiendom, soos ’n huis of erf, huwelikskontrakte en ’n mens se testament moet met ’n skriftelike kontrak gedoen word.

Bregman sê ’n skriftelike kontrak is ’n beter opsie as ’n mondelingse een omdat dit makliker is om die bestaan van ’n skriftelike kontrak te bewys, dit gee ’n mens ’n wettige dokument wat die betrokke partye se verwagtinge uiteensit en dit sit uiteen wat gedoen moet word as die een party nie die kontrak sou nakom nie.

’n Kontrak kan op die volgende maniere beëindig word:

’n Kontrak kan vir ’n vaste tydsduur aangegaan word. ’n Huurkontrak word gewoonlik só opgestel;

’n Skriftelike kontrak moet op skrif gekanselleer en ’n mondelingse een kan mondelings gekanselleer word; en As die een party nie sy of haar deel van die kontrak nakom nie, kan die ander party, nadat sekere stappe gedoen is, die kontrak beëindig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1036,35 (-1197)
  • Top 40 50987,15 (58996)
  • All Share 57164,25 (61745)
  • Resource 10 43731,91 (12908)
  • Financial and Industrial 30 76406,35 (116772)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.