Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tot jou diens
Tot Jou Diens: MTN sloer met nuwe foon

Tot Jou Diens is ’n kampvegter vir verbruikers. Stuur klagtes aan totudiens@beeld.com en onthou om die kontakbesonderhede van die betrokke onderneming in te sluit.

   

Probleme met versekering ná kanker

     

Aletta Holder het by Absa ’n bloutjie geloop.

“Keelkanker is in 2012 by my man gediagnoseer. Hierna het ons ’n uitbetaling ontvang wat ons by Absa op ons huislening inbetaal het. Niemand het ons gesê dat ons die versekering op die lening moet kanselleer nie.”

Holder se man is in 2013 oorlede.

Pluimpies

Pieter Esterhuysen praat met lof van die diens van Etienne Lewis, Montana, Pretoria.

“Ek het ’n probleem met ’n matras gekry, maar danksy Rose by Etienne Lewis is dit spoedig vervang.

“ ’n Groot dankie aan Rose en die res van die personeel vir die fantastiese diens.”

“In 2014 het ek ’n rekening van Absa ontvang wat lui ek skuld meer as R12 000 vir die versekering op die huislening. Ek was nogal omgekrap aangesien ons die lening in 2012 heeltemal afbetaal het.”

Holder het besluit om ’n plaaslike Absa-tak te besoek om vir hulp te vra.

“Ek het Absa gesê ek sal die bedrag betaal mits hulle kan bevestig dit sal die laaste betaling op die lening wees. Die Absa-konsultant het my versoek na hul versekeringsafdeling deurgegee. Ek het aanvaar dis die einde van die saak.

“Tot my verbasing het ek weer in 2016 ’n brief van Absa gekry wat sê ek skuld hulle nou nagenoeg R17 000 op die huislening.

“Ek is terug na die plaaslike Absa waar hulle belowe het die nuutste ‘skuld’ sal teruggeskryf en die lening finaal gesluit word.

“Ook sou ek hierna vir die huis se dokumentasie kon aansoek doen. Ongelukkig was dit steeds nie die einde van die saak nie. Vroeër vanjaar het ek weer van Absa gehoor.

“Wraggies het hulle weer geld vir die lening by my gesoek. Intussen het ek met Mpumi en Nomfundu by Absa gepraat en albei sê ek skuld Absa beslis nog geld. Laasgenoemde kon geen bewys van my versoek om die lening finaal te sluit op Absa se stelsels kry nie.

“Sy het gesê sy volg bloot die voorgeskrewe stappe en ek sal maar moet betaal.

“Ek dink Absa se optrede is onregverdig en hulle moes lankal die lening gesluit en die tweede bedrag wat hulle wou hê, teruggeskryf het. Ek is glad nie gelukkig met die stand van sake nie.”

Tot Jou Diens het Holder se klagte onder Absa se aandag gebring en hulle gevra om ondersoek in te stel. Hulle het direk met haar kontak gemaak en die saak bespreek. Volgens Holder was daar ’n misverstand oor hoe presies sy te werk moet gaan om die lening te kanselleer. Sy het nou die nodige dokumentasie voltooi en die saak is volgens haar wense afgehandel.

  

MTN sloer met nuwe foon

  

    

Adri King het by MTN vasgebrand.

“Ek het ’n maand gelede my kontrak met MTN opgradeer. Tot nou toe het ek nog nie die nuwe selfoon gekry nie. In die verlede het MTN nog altyd my nuwe fone by my kantoor kom aflaai. Ek het al klomp kere geskakel, maar kry geen terugvoering nie.

“Al wat ek sover uit hulle gekry het, is ’n reeks verwysingsnommers. MTN se personeel belowe elke keer om moeite van die saak te maak, maar dit vorder nooit verder as dit nie. Ek het selfs al aangebied om my nuwe foon by die plaaslike MTN-winkel te gaan haal. MTN kon dit egter ook nie gereël kry nie.”

Tot Jou Diens het King se klagte onder MTN se aandag gebring. Sy sê sy het uiteindelik ná omtrent twee maande haar nuwe foon gekry.

  

Kry finale aanmaning ‘per abuis’

  

Janine le Roux het Tot Jou Diens gevra om haar te help met ’n probleem wat sy met Khwela Power Metering gekry het.

“Ons kry gereeld ’n rekening by Khwela Pow­er Metering ná ek reeds my rekening betaal het. Hierdie maand was dit weer so. Net ná ons R2 500 aan Khwela betaal het, het ons ’n rekening vir R3 700 van hulle ontvang. Toe ons hieroor navraag doen, het Khwela gesê dit het iets met ’n nuwe meter te doen. Ons het reëlings getref om die verskil te betaal, maar toe kry ons sommer ’n finale aanmaning van hulle. Nou weet ons nie meer watter kant toe nie.”

Ons het Khwela Power Metering vir ’n verduideliking gevra. Hulle sê Le Roux woon sedert April vanjaar in ’n eenheid met ’n Khwela-meter. Volgens Khwela se inligting het Le Roux gereeld haar rekening laat betaal of nie ten volle vereffen nie.

Voorts is die watermeter by haar woning in Oktober vervang omrede die lesings daarop onduidelik was. Nadat hierdie meter vervang is, is die hoër rekening aan Le Roux uitgereik aangesien die opsigter van die kompleks wat vir die lesings verantwoordelik is, moontlik voorheen met die onduidelike lesings fouteer het.

’n Afbetalingsopsie is wel aan Le Roux beskikbaar gemaak waarna ’n aanmaning per abuis aan haar gestuur is.

Khwela erken hul kommunikasie met Le Roux kon beter gewees het, maar dat haar rekening beslis korrek is. Hulle het haar om verskoning gevra vir die aanmaning wat uitgestuur is.

Le Roux sê haar rekening is nog altyd betyds betaal, maar het Khwela Power Metering se verduideliking aanvaar.

  

Santam kanselleer polis eensydig

  

Emma Vollgraaff se skrywe aan ons handel oor Santam.

“Ek het in 1990 ’n beskermingsplan by Aegis uitgeneem. Santam het later by Aegis oorgeneem. Santam het onlangs eensydig hierdie polis gekanselleer.”

Vollgraaff het Santam gebel en vir ’n verduideliking gevra.

“Nerina het gesê sy het soortgelyke klagtes van ander Santam-kliënte ontvang, maar sy kon nie ’n bevredigende verduideliking verskaf nie. Sy sou wel my klagte deurgee aan ’n bestuurder wat my later oor die saak sou kontak. Hierdie bestuurder het my nooit gekontak nie.”

Vollgraaff het intussen die bewoording van haar polis nagegaan.

“Daar is wel ’n klousule in die polis wat Santam toestemming gee om dit te kanselleer. Ek voel egter dit is onregverdig aangesien die polis getrou elke maand betaal is.”

Tot Jou Diens het Santam oor Vollgraaff se klagte gepols. Hulle sê nuwe wetgewing het in werking getree wat korttermynversekeraars verbied om die soort polis wat Vollgraaff gehad het te behartig. Onder hierdie omstandighede het hulle voorgestel Vollgraaff moet liefs alternatiewe dekking oorweeg.

Sy het Santam se antwoord aanvaar.

  

Jammer, jou kontrak is lewenslank

  

Manie Steyn was ongelukkig met die diens wat hy by Quality Vacation Club (QVC) gekry het.

“Ek het aanvanklik 40 punte by QVC bekom, maar dit was later 120. Ek was altyd baie gelukkig met hul diens, maar soos hul tariewe meer geword het, het ek besef ek kan dit nie meer bekostig nie.”

Steyn het ’n versoek aan QVC gerig om sy lidmaatskap te beëindig.

“QVC het gesê my kontrak is lewenslank, maar dat hulle my punte kan probeer verkoop. Die verkoop sou volgens QVC nie noodwendig maklik wees nie. My tarief vir hierdie jaar is egter betaal, so ek voel hulle moet my kontrak beëindig.”

Tot Jou Diens het QVC gevra of hulle Steyn kan tegemoetkom. Hulle het sy versoek om die kontrak te beëindig toegestaan. Hy het skriftelike bevestiging hiervan ontvang.

  

Hy wag lank vir Volkswagen-kabel

  

Hendrik Oosthuizen het met Volkswagen Centurion koppe gestamp.

“Ek het amper twee maande gelede ’n bestelling vir ’n handremkabel by Volkswagen Centurion geplaas en hierdie onderdeel steeds nie gekry nie.

“My voertuig is ’n 1998-model en met my besoek aan Volkswagen het ek gepraat met Foster Maluleke, wat gesê het hulle het nie voorraad van hierdie onderdeel nie.

“Aanvanklik sou dit ongeveer ’n maand geneem het om die kabel te bekom. Die kabel wat tans op my voertuig is, werk omtrent nie meer nie en dreig om enige oomblik heeltemal die gees te gee.

“Ek het weer met Maluleke probeer kontak maak, maar ek kon hom nie in die hande kry nie.

“Ek het later ook met Louisa gepraat, wat haar bes probeer het om te help, maar ook nie vir my ’n datum kon gee van wanneer ek die kabel kan verwag nie. Uiteindelik het ek Volkswagen Suid-Afrika vir hulp gevra. Hulle het belowe om na my terug te kom, maar hulle het nie.”

Ons het Volkswagen se aandag op Oosthuizen se klagte gefokus.

Hulle sê hulle waarborg die verskaffing van onderdele vir hul voertuie tot tien jaar nadat dit vervaardig is en dus was daar ’n oponthoud om die kabel vir Oosthuizen te verkry.

Hy het dit nou gekry.

Wenke wat werk: Beskerm jou só teen ID-diefstal

Die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) het die volgende wenke om jou teen identiteitsdiefstal te beskerm:

  • Moenie jou persoonlike besonderhede oor die internet of telefonies gee tensy jy weet aan wie jy dit gee en waarvoor dit aangewend gaan word nie;
  • Gebruik wagwoordbeskerming op al jou elektroniese toestelle;
  • Vermy die gebruik van dieselfde wagwoord op verskillende toestelle en rekenings;
  • Probeer voor die hand liggende wagwoorde vermy;
  • Verander wagwoorde gereeld;
  • Installeer sagteware op jou toestelle om dit teen virusse te beskerm;
  • Wees versigtig met inligting wat jy op sosiale media bekend maak. Jy kan moontlik inligting beskikbaar maak wat jou ’n maklike teiken vir identiteitsdiefstal maak;
  • Dra net een vorm van identifikasie saam met jou rond tensy jy meer as een nodig het. Los die res op ’n veilige plek by die huis;
  • Bewaar dokumentasie op ’n veilige plek tuis. Dokumente wat in die verkeerde hande beland, kan dit vir iemand anders moontlik maak om inligting wat vir identiteitsdiefstal aangewend kan word te bekom. Versnipper eers dokumente voordat jy dit weggooi;
  • As jy ’n bankkaart verloor of dit gesteel word, laat weet jou bank dadelik daarvan;
  • Sluit enige ongebruikte rekenings;
  • Verwyder alle sensitiewe inligting van elektroniese toestelle voordat jy so ’n toestel van die hand sit;
  • Fotokopieer bankkaarte en dies meer sodat jy inligting hiervan gou kan bekom in die geval waar jy die kaart verloor of dit gesteel word.


Meer oor:  Tot Jou Diens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1045,57 (1578)
  • Top 40 50219,76 (2284)
  • All Share 56381,29 (8265)
  • Resource 10 43075,79 (10792)
  • Financial and Industrial 30 75226,26 (1943)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.