Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tot jou diens
Tot Jou Diens: Slaggat los hom in die bos

Tot Jou Diens is ’n kampvegter vir verbruikers. Stuur klagtes aan totudiens@beeld.com en onthou om die kontakbesonderhede van die betrokke onderneming in te sluit.

Slaggat los hom in die bos

       

    

Elsa Stoop het vir ons ’n klagte oor SA Underwriters (SAU) gestuur.

“My seun was van Pretoria na Potchefstroom op pad toe hy vir ’n gat in die pad uitgeswaai het. Die voertuig het begin tol en het uiteindelik in die veld tot stilstand gekom. Dit het ’n pap wiel gehad wat my seun deur die noodwiel vervang het.”

Die motor is ’n dag later by ’n bandehandelaar ondersoek en daar is bevind die as is in die ongeluk gebuig. Voorts was daar ook skade aan die motor se onderstel.

“Aangesien daar nie ander voertuie in die ongeluk betrokke was nie, het ons nie wat gebeur het by die polisie aangemeld nie. ’n Eis is by SAU ingedien. In hierdie stadium het ons wel ’n saaknommer by die polisie bekom om aan SAU te gee.

“SAU het ’n assessor uitgestuur om na die kar te kom kyk. Hierna het daar nie juis veel gebeur nie, aangesien SAU elke keer as ons navraag gedoen het nog iets by ons wou hê. Intussen staan die voertuig al byna drie maande by die duikklopper sonder dat die herstelwerk afgehandel is.”

Tot Jou Diens het SAU gevra om ondersoek in te stel. SAU het bevestig daar was telkens uitstaande inligting wat by Stoop gekry moes word wat tot die oponthoud gelei het. Die eis is goedgekeur en ’n uitbetaling is aan Stoop gemaak.

    

Tyd om na digitaal oor te skakel

    

Lydia Kirsten het by MultiChoice vasgebrand.

“MultiChoice het ons in kennis gestel dat ons dekodeerder vervang gaan word. Die rede hiervoor was om ons na digitaal oor te skakel. Nadat die nuwe dekodeerder geïnstalleer is, was die beeld op die TV nie na wense nie. Daar was strepe en golwende bewegings oor die TV.”

Hierdie probleem het Kirsten by MultiChoice aangemeld.

“Hierna was daar ’n nog ’n probleem wat ek ook by MultiChoice aangegee het. Hulle sou ’n tegnikus uitgestuur het om te kom ondersoek instel. Niemand het opgedaag nie.

“Ek het ’n e-posboodskap na ’n adres wat ek by hulle gekry het, probeer stuur om te kla, maar dit het nie deurgegaan nie. Omtrent ’n week later was daar glad nie meer ’n sein nie.

“Weer het ek die probleem telefonies by MultiChoice aangemeld. Ek het met ’n Freddie Williams gepraat en hy het namens my ’n e-posboodskap na die regte departement gestuur.

Twee dae later het MultiChoice gesê ’n tegnikus kan uitgestuur word, maar dat ek sal moet betaal.

Ek dink dis onregverdig, aangesien dit MultiChoice was wat van die begin af nie die nuwe dekodeerder korrek geïnstalleer het nie. Intussen betaal ek ’n maandelikse tarief vir ’n diens wat ek nie kan gebruik nie.”

Pluimpies

Gerhard Snyman het vir ons geskryf oor die uitstekende diens wat hy van Shere Con-
struc­tion in Pretoria gekry het.

“Ons moes verlede jaar aanbouings laat doen en gelukkig het ons Shere Construction vir die taak aangestel. Onder die altyd vriendelike en bekwame leiding van Abrie, Rhinus, Henry en Faan was die bouery eintlik ’n plesier. 

“Die beplanning van elke opeenvolgende stap in die konstruksie is uitstekend gedoen. Ver- soeke en probleme het gou en doeltreffend aandag gekry.

“Die areas waar gewerk is, was elke dag skoon voordat hulle die perseel verlaat het. 

“Ons kan steeds nie glo dat so ’n groot projek met baie spesifieke voorskrifte so glad kon verloop nie. ’n Baie groot pluimpie vir Shere Construction se bestuur en werkers.”

Tot Jou Diens het MultiChoice gevra om Kirsten te help. Hulle het haar om verskoning gevra en ’n tegniese span het haar probleme opgelos. Sy sê sy is nou tevrede.

MultiChoice skakel einde vandeesmaand oor na suiwer digitale uitsendings en hul aanbeveling aan persone wat nog analoog-dekodeerders gebruik, is om 011 289 2270, 021 508 2270 of 031 710 2270 te skakel om reëlings te tref om ’n nuwe digitale dekodeerder te bekom.

   

Hy wil eintlik tien kaartjies koop

    

Frans Coetzer het probleme met die Afrikaans is Groot-kaartjies wat hy by Computicket wou bekom.

“Daar was verlede jaar êrens ’n kinkel in die kabel met Afrikaans is Groot se kaartjies. Ek gaan elke jaar na hierdie konsert en hulle het vir my e-pos gestuur dat ek vir 2018 voorkeur sal kry wanneer ek tot en met tien kaartjies koop.

“ Ek het nie op die internet reggekom nie en het ’n plaaslike tak van Computicket besoek om kaartjies te koop.”

Hier het Coetzer se probleme begin.

“Computicket se stelsel het my aankope van kaartjies tot twee beperk. Ek wou egter tien kaartjies koop. ’n E-posboodskap is namens my aan Computicket se hoofkantoor gestuur en hulle het my gebel om te sê ek sal wel tien kaartjies kan koop.

“Twee dae later het hulle my weer gekontak en gesê ek kan met die aankope voortgaan mits ek ’n bewys vir die aankope van verlede jaar se kaartjies kan lewer. Dis nou die probleem, want ek het nie meer die nodige bewyse in my besit nie.”

Ons het Coetzer se klagte onder Computicket se aandag gebring. Hulle het die saak na die organiseerders van Afrikaans is Groot verwys en hy is in staat gestel om tien kaartjies te koop.

   

Voorraad is nou beskikbaar 

   

Neels Lourens meen Animal Gear se diens is teleurstellend.

“Ek het vroeg in Februarie ’n aanlyn bestelling by Animal Gear geplaas. Twee dae later het ek die volle betaling vir die bestelling gemaak.

“Op hul webwerf word steeds aangedui my bestelling word verwerk. Ná ’n ruk het ek navraag oor die bestelling begin doen, maar geen terugvoering op my e-pos gekry nie.

“Hul een foonnommer word nooit beantwoord nie en die ander een is altyd beset. Ek het dieselfde items intussen elders bekom en wil die bestelling by Animal Gear nou maar kanselleer, maar kom ook nie hiermee reg nie.”

Ons het Animal Gear oor Lourens se skrywe gevra. Hulle sê hulle het Lourens in die hande probeer kry, maar kon nie by hom uitkom nie.

Wat sy bestelling betref, was daar nie voorraad van die betrokke items beskikbaar nie en dit was so op hul webwerf aangedui voordat Lourens sy bestelling geplaas het.

Voorraad is intussen bekom, maar Lourens se versoek om die bestelling te kanselleer is toegestaan en hulle het hom vir sy bankbesonderhede gevra sodat hulle sy geld kan terugbetaal. 

   

Is die kabel wel die probleem?

    

Saar Taljaard het vir Tot Jou Diens ’n klagte oor Telkom gestuur.

“Ek het verskeie kere ’n probleem met my telefoon by Telkom se kliëntediensafdeling aangemeld. My telefoon is nou al vier weke buite werking. Verskeie Telkom-tegnici was al hier om die probleem te probeer regstel.

“Volgens hulle lê die probleem by ’n ondergrondse kabel, maar nog nie een het met ’n oplossing vorendag gekom nie.

“Wat ek wel by Telkom gekry het, is ’n aantal SMS’e wat sê my foon is herstel, maar dis beslis nog buite werking.

“Sover ek weet, het my bure nie ’n probleem met hul fone nie en dus is ek nie seker die ondergrondse kabels is wel die oorsaak van my probleme nie. Ek is al baie moedeloos met die hele storie.”

Ons het Taljaard se klagte onder Telkom se aandag gebring. Die probleem is opgespoor en herstel.

  

MFC kom nie beloftes na

   

Albert Langenhoven het ’n brief aan Tot Jou Diens gestuur waarin hy oor die dienslewering van The Motor Finance Corporation (MFC) kla.

“Ek het ’n tydjie gelede ’n voertuig gekoop. MFC het die finansiering daarvan behartig. Op 21 Oktober 2017 het ek MFC gebel om ’n aflos- bedrag op hierdie motor te kry. Neville Elie het gesê die uitstaande bedrag is net minder as R50 000.”

Langenhoven het die aflosbedrag dieselfde dag aan MFC betaal.

“Volgens Elie sou ek die motor se registrasiedokument binne sewe dae per koerier kry. Van hierdie belofte het niks gekom nie.”

Langenhoven wou weet hoekom die dokumente nie aan hom gelewer word nie. “MFC het gesê hulle het ’n fout met die aflosbedrag ge- maak en kan die voertuig dus nie op my naam oordra nie.

Ek het MFC gevra om die fout reg te stel sodat ons die saak kan afhandel. Verskeie persone by MFC was nie juis van hulp nie.

“Hierna het ek die plaaslike Nedbank-tak besoek in die hoop om hier hulp te kry. Ene Monica het gesê sy sal ondersoek instel en my op die hoogte van sake hou. Sy het ook genoem dat sy geen rede sien hoekom die dokumente nie aan my verskaf kan word nie.

“Monica het die saak met MFC se dienssentrum bespreek en nes ek moes sy met die onbeskofte personeel koppe stamp. Intussen het MFC se rede vir die oponthoud verander en nou weet ek nie meer wat om te glo nie.

“Ongelukkig is Monica onlangs na ’n ander Nedbank-tak verplaas en kan my nie verder probeer help nie.

“Wat my die meeste pla, is dat ek steeds in besit is van die dokument van MFC waarin hulle die aflosbedrag aanvanklik bevestig het. Hoe is dit moontlik dat die bedrag op dieselfde dag nie meer reg kon wees nie?”

Ons het MFC se aandag op Langenhoven se klagte gefokus. Hulle sê hulle bespreek nie kliënte se persoonlike besonderhede met ’n derde party nie, maar het die saak met Langenhoven bespreek om ’n oplossing te kry.

Hy het bevestig dat hulle hom gekontak het en dat hy nou die voertuig se registrasiedokument by hulle gekry het.


Wenke wat werk

Die Raad op Finansiële Dienste (FSB) het waarskuwings uitgereik oor twee ondernemings wat finansiële dienste lewer, maar nie by die FSB geregistreer is nie.

Volgens die FSB kontak Creative Investment Options voornemende kliënte en gebruik die nommer 16399 om voor te gee dat hulle by die FSB geregistreer is.

Kliënte word belowe hulle sal binne twee weke 50% van hul belegging terugkry. Maar Creative Investment is nie die maatskappy wat onder bogenoemde nommer geregistreer is nie.

Instant Group SA is volgens die FSB met ’n soortgelyke slenter aan die gang. Hulle gebruik die nommer 41456 om voornemende kliënte om die bos te lei.

Tara-Jane Metzler het hierdie nommer gebruik toe daar vir regte vir Metsure Financial Services aansoek gedoen is. Dié aansoek is afgekeur.

Om seker te maak of ’n onderneming waarmee jy sake wil doen wel by die FSB geregistreer is, besoek hul webwerf by www.fsb.co.za of bel hulle by 0800 110 443.

Meer oor:  Tot Jou Diens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1036,35 (-1197)
  • Top 40 50987,15 (58996)
  • All Share 57164,25 (61745)
  • Resource 10 43731,91 (12908)
  • Financial and Industrial 30 76406,35 (116772)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.