SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Tot jou diens
Tot Jou Diens: Steeds met dooie getroud?

Tot Jou Diens is ’n kampvegter vir verbruikers. Stuur klagtes aan totudiens@beeld.com en onthou om die kontakbesonderhede van die betrokke onderneming in te sluit. 

   

Steeds met dooie getroud?

 
    

   

Jacobus Swart het ’n klagte oor die departement van binnelandse sake vir Tot Jou Diens gestuur.

“My eerste vrou is in 2008 oorlede.

Intussen is ek weer in Oktober verlede jaar getroud. Toe ek en my nuwe vrou ons huwelik wou registreer, het ons egter ’n verrassing gekry toe ons by die departement van binnelandse sake uitvind dat ek volgens hul stelsel nog met my eerste vrou getroud is.

“Ons het al verskeie navrae aan binnelandse sake gerig, maar steeds kan ons nie ons huwelik registreer nie.”

Ons het Swart se klagte vir die departement van binnelandse sake gestuur. Hulle het ’n aanpassing

gemaak en Swart se nuwe huwelik is nou geregistreer.

   

Sy wag lank vir skoene

   

Linda Prinsloo het vir ons geskryf oor Franella Footwear.

“Ek het in Desember 2016 ’n bestelling vir skoene by Franella Footwear geplaas.

“Volgens hulle sou dit sowat ses weke neem om die skoene aan my te lewer.

“Ná ses weke het ek dit steeds nie gekry nie en ek het hulle gevra wat aan die gang is.

“Franella het op my e-pos gereageer, maar bloot gesê hulle sal my laat weet wanneer hulle die skoene aanstuur.Deur verlede jaar het ek elke nou en dan navraag gedoen, maar steeds nie my skoene gekry nie.”

Tot Jou Diens het Franella Footwear gevra om kommentaar te lewer.

Hulle het Prinsloo vir die oponthoud om verskoning gevra. Hulle het met haar kontak gemaak om die bestelling te bevestig.

Franella het onderneem om so gou moontlik die skoene aan Prinsloo te lewer en om haar en Tot Jou Diens en Prinsloo op die hoogte te hou met vordering.

    

Punte verval kragtens

wet elke 12 maande

   

Lyzinda Kock sê haar Pick ’n Pay Smart Shopper-punte het op raaiselagtige wyse verdwyn.

“Ná my Desember-vakansie wou ek graag my Pick ’n Pay Smart Shopper-punte vir aankope in Januarie aanwend.

“Toe ek laas die krediet nagegaan het, was daar min of meer R2 000 se punte beskikbaar. Ek wou met dié punte vir my inkopies betaal, maar vind toe uit daar is ewe skielik nie veel meer as R200 beskikbaar nie.”

Kock het Pick ’n Pay oor die saak gekontak.

“Ek is ingelig dat Pick ’n Pay in Desember êrens op hul strokies in kleinskrif aangedui het dat punte voortaan net vir 12 maande geldig sal wees.

“My probleem is dat Pick ’n Pay baie moeite doen as hulle wil hê ons moet daar koop. Hulle lok ’n mens na die winkel met pamflette en advertensies op die TV.

“Ek sou verwag hulle kon ’n mens per SMS of met ’n e-pos van die nuwe reëls in kennis gestel het.

“As ek byvoorbeeld glad nie in Desember by Pick ’n Pay inkopies gedoen het nie, sou ek op geen manier van die nuwe reëls ingelig gewees het nie. Ek dink Pick ’n Pay moet my punte teruggee.”

Ons het Pick ’n Pay oor Kock se klagte gepols.

Hulle sê omdat hulle nie ’n verskaffer van finansiële dienste is nie, mag hulle klante se punte kragtens wet nie langer as 12 maande hou nie.

Pluimpies

Dina van Niekerk sê Specsavers in die Key­west-sentrum, Krugersdorp, se diens is net die beste.

“Ek moes my enkelvisiebril vervang deur een wat ek vir lees en ver sien kan aanwend.

Danksy die personeel van Specsavers in die Keywest-sentrum in Krugersdorp het ek in ’n japtrap my nuwe bril gehad.

“Vandat ek by hulle ingestap het, my oë getoets is en ek my nuwe bril gaan afhaal het, was ek beïndruk met die vriendelike en behulpsame optrede van die personeel.

“Voorts was daar geen probleem om ’n eis vir my nuwe bril by my mediese fonds ingedien te kry nie.

“My opregte dank aan Chandre, Patricia en al die ander personeel.”

Pick ’n Pay het as gebaar van welwillendheid besluit om Kock se punte vir haar terug te gee, maar haar aangemoedig om haar punte voortaan gereelder te gebruik om te verhoed dat dit weer in die toekoms verval.

Kock het Pick ’n Pay vir sy gebaar bedank.

Mart Somerset het ’n soortgelyke probleem as dié van Kock met Pick ’n Pay ondervind.

“Ek is bitter ontsteld nadat ek al byna R1 000 op my Pick ’n Pay Smart Shopper-kaart gespaar het.

“Voordat ek my oë kon uitvryf, was dit skielik net R4. Pick ’n Pay is nie my naaste winkel nie, maar ek gaan doen gereeld my inkopies daar om punte op my kaart te verdien.”

Somerset het Pick ’n Pay ook ’n verduideliking gevra en basies dieselfde antwoord as Kock gekry.

“Ek verstaan nie hoe ‘kontant’ verval nie. Daar was ook geen kennisgewing van Pick ’n Pay om te sê dat ek my punte gaan verloor nie.

“Ek onthou ook hoe die kassiere by Pick ’n Pay in Desember daarop gewys het dat ek baie krediet ek op my kaart het.

“Nie een van hulle het gesê my punte gaan binnekort verval nie. As hulle dit nie geweet het nie, hoe moes ek?

“Ek kry dikwels kennisgewings van Pick ’n Pay oor allerlei goed, maar oor die punte wat gaan verval, het hulle geswyg.”

Tot Jou Diens het ook Somerset se klagte aan Pick ’n Pay gestuur en die punte is ook in hierdie geval as gebaar van welwillendheid terug op die kaart.

   

Absa-eis nou afgehandel

    

Anna Vermaak het ons gevra om haar te help om ’n eis wat sy by Absa-versekering ingedien het, af te handel.

“Ons het in Oktober verlede jaar ’n eis by Absa ingedien vir ons swembadpomp wat die gees gegee het.”

Die saak het ’n ruk lank gesloer tot hulle in Desember ons ’n kontantuitbetaling vir die skade aangebied het. Dit is onderteken en aan Absa teruggegee.

“ ’n Paar weke later het daar nog niks gebeur nie en ons het dit weer met Absa opgevolg.

“Ene Charlene het gesê hulle het geen inligting dat ons die skikking onderteken en teruggestuur het nie. Ons het die dokument weer aan haar verskaf.

“Begin vanjaar was die saak steeds nie afgehandel nie en ons het weer vir Charlene in

die hande probeer kry. Ons kon haar nie bereik nie en het met iemand anders by Absa gepraat wat weer vir dieselfde dokument gevra het.

“Hoeveel keer moet ’n mens dieselfde dokument aan Absa verskaf voordat hulle tot aksie oorgaan?”

Tot Jou Diens het Absa gevra om ondersoek in te stel. Vermaak het laat weet Absa het haar gekontak en haar klagte is opgelos.

   

Geen "taal of tyding" vanaf MiWay-versekering 

   

Johan Richter het by MiWay-versekering ’n bloutjie geloop en gevra of Tot Jou Diens hom kan help om sy probleem te probeer oplos.

“Ek was begin November verlede jaar op pad na Boksburg toe ’n vroeëre ongeluk die verkeer in ’n mate laat opeenhoop het.

“Ek het stadiger gery, maar die motoris agter my het in my vasgery.

“Die skade aan my kar was net meer as R16 000. Die agterste buffer en sleepstang het onder meer skade opgedoen.

“Skade aan die ander voertuig was groter as aan myne. Dié persoon is by MiWay verseker en ek by ’n ander maatskappy.”

Richter wou nie sy geeneisbonus in die gedrang bring nie en het besluit om ’n eis by MiWay in te dien.

“Ek het die ongeluk by die polisie aangemeld en toe ’n eis by MiWay ingedien. Hulle het vir my ’n vorm gestuur om in te vul en te onderteken.

“Ek het dit aan hulle teruggestuur. ’n Paar dae later het hul assessor na my motor kom kyk en sy verslag dieselfde dag ingedien.

“Toe het die lang wag begin. In November het ek gereeld e-pos aan MiWay gestuur om te hoor hoe my eis vorder.

“Dit was vir my belangrik om die skade teen einde November herstel te kry omdat ek met vakansie sou gaan en ’n waentjie wou sleep.

“Soms is my e-pos geïgnoreer en ander kere het hulle my ’n standaard-antwoord gegee dat dit volgens hul prosedures tot 60 dae kan neem om ’n derdepartyeis te finaliseer.

“Daar is nog geen taal of tyding oor wanneer die eis afgehandel word nie en ek sit nog met die skade aan my kar.”

Tot Jou Diens het Richter se klagte onder MiWay se aandag gebring en hulle gevra om ondersoek in te stel.

Hulle sê die nodige dokumente om sy eis af te handel is wel by hom gekry. Ongelukkig was daar ’n oponthoud omdat die eis in die Desembervakansie afgehandel moes word.

MiWay het Richter om verskoning gevra dat die eis nie gouer afgehandel is nie. Hulle het intussen met ’n skikkingsaanbod vorendag gekom wat hy aanvaar het. ’n Uitbetaling is reeds aan Richter gedoen.

  

Wenke wat werk

Die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) het die volgende wenke as jy moet skuld maak:

Leen so min as moontlik. Dis een ding om geld te leen om byvoorbeeld vir jou kinders se skoolgeld te betaal, maar heeltemal iets anders om geld te leen om luukshede te koop. Die NKR maan veral teen laasgenoemde.

Beplan terugbetalings voordat jy geld leen. Probeer om die geld oor die kortste moontlike tydperk terug te betaal. Hou ook in gedagte hoeveel rente jy sal moet betaal.

Moenie ’n blanko dokument onderteken nie.

Moenie jou identiteitsdokument of bankkaart by die kredietverskaffer los nie.

Onthou die afkoelperiode van vyf werkdae. Die afkoelperiode geld net waar jy die kredietkontrak op die perseel van die kredietverskaffer onderteken het.

As daar kredietversekering by die kontrak ingesluit word, maak seker wat dit behels.

Stel ’n maandelikse begroting op om te bepaal hoeveel jy op skuld kan terugbetaal. Behou strokies van aankope om jou te help om jou begroting op te stel.

Betaal jou skuldpaaiemente betyds. As jy nie jou skuld op die vasgestelde datums betaal nie of nie die volle paaiement betaal nie, kan jy boetes opgelê word.

Laat betalings sal ook ’n negatiewe invloed op jou kredietgeskiedenis hê.

As jy dit moeilik vind om elke maand jou skuld te betaal, probeer reëlings met kredietverskaffers tref om die terugbetalings bekostigbaarder te maak voordat jy by die punt kom waar jy ’n betaling moet oorslaan.

Maak ’n punt daarvan om jou kredietgeskiedenis gereeld na te gaan. Jy is geregtig op een gratis kredietverslag per jaar.

Meer oor:  Tot Jou Diens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1149,02 (538)
  • Top 40 45132,16 (28858)
  • All Share 51318,64 (25087)
  • Resource 10 39066,88 (-11539)
  • Financial and Industrial 30 67688,36 (65107)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.