Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tot jou diens
Tot Jou Diens: Sy kry nie skoene nie

Tot Jou Diens is ’n kampvegter vir verbruikers. Stuur klagtes aan totudiens@beeld.com en onthou om die kontakbesonderhede van die betrokke onderneming in te sluit.

Sy kry nie skoene nie

    

   

Linda Hattingh het by Franella Footwear ’n bloutjie geloop.

“Ek het twee pare skoene in Februarie 2017 by Franella bestel. Ek het ook vir die skoene betaal.”

Hattingh het ’n boodskap van Franella gekry waarin hulle sê sy behoort haar skoene binne 120 werksdae te kry.

“Ek moes my skoene teen die einde van Julie gekry het, maar dit het nie gekom nie.

In Augustus het ek begin navraag doen en hulle het aangebied om die een paar skoene gratis vir ’n beter paar op te gradeer.

Ek het hul aanbod van die hand gewys en gesê ek wil net hê wat ek bestel het.

Hierna het dit stil geword aan hulle kant en my e-posse bly steeds onbeantwoord.”

Tot Jou Diens het Hattingh se klagte onder Franella se aandag gebring. Hulle het belowe om ’n terugbetaling aan haar te maak, maar sy sê sy het meer as ’n maand later steeds nie haar geld gekry nie.

Betaal vir toe Woolworths-rekening

    

Sannie Grant het ons gevra om haar met ’n klagte oor Woolworths te help.

“Ek het by die plaaslike Woolworths navraag gedoen oor die uitstaande bedrag op my rekening.

“Ek het tot in daardie stadium al vir ’n rukkie nie rekenings van hulle ontvang nie. Hulle het my ’n aantal nommers gegee waar ek oor my rekening kan navraag doen.

“Ek het met vier verskillende persone gepraat en volgens hulle was my rekening al in 2016 gesluit.

“Niemand het my hiervan ingelig nie en ek het nog ’n jaar later elke maand R200 aan Woolworths betaal.

“Ek wil graag weet wat met my geld gebeur het.”

Tot Jou Diens het Woolworths se aandag op Grant se klagte gefokus.

Sy sê hulle het haar gekontak en haar probleem opgelos.

Betaling skielik per debietorder

    

Piet Visser wou ná ’n onderonsie met MultiChoice slange vang.

“Ek het ’n probleem met die debietorder-aftrekking van MultiChoice. Hulle het my verlede November ’n pakket met ’n nuwe dekodeerder aangebied.

“Ek sou in die proses ’n paar rand kon spaar. Ek het ingestem. Vroeg in Januarie het MultiChoice ’n debietorder van my rekening verhaal.”

Visser het MultiChoice gekontak om te kla.

“Ek betaal MultiChoice nog al die jare met ’n oorplasing uit my bankrekening en ek het hulle gevra om die debietorder terug te skryf. ’n Dag later het ek my geld teruggekry.

“’n Maand later het MultiChoice weer ’n aftrekking van my bankrekening gemaak.

“Weer het ek hulle gekontak en hulle het belowe om die geld binne vyf werksdae aan my terug te betaal. Dit het nie gebeur nie.

“Die volgende agent het belowe om ondersoek in te stel, en dat die debietorder wel gekanselleer sal word. Nou wag ek nog.”

Ons het MultiChoice gevra om kommentaar te lewer.

Hulle sê kliënte wat dieselfde pakket as dié van Visser het, betaal gewoonlik hul rekening met ’n debietorder.

Hulle het egter as ’n spesiale vergunning Visser toegelaat om steeds sy rekening met ’n elektroniese oorplasing te betaal.

Pluimpies

Pieter Engelbrecht het ’n pluimpie vir Wirquin, Somerset-Oos.

“Wirquin vervaardig onder meer plastiekonderdele vir toilette.

“In Desember het my nuwe toiletsitplek gebreek. Omdat dit in die vakansie was, kon ek hulle nie in die hande kry nie. Ek het wel wat gebeur het op Wirquin se webwerf aangemeld.

“Ek weet nie eens hoe hulle my adres in die hande gekry het nie, maar vroeg in Januarie het hulle, sonder om teen te stribbel of geld te vra, vir my ’n netjies verpakte nuwe deksel per spoedpos gestuur. Ek het hulle gebel om dankie te sê, maar diens van dié standaard verdien ook om met ander mense gedeel te word.”

Die debietorder is van sy profiel verwyder en die geld wat reeds met debietorders van sy bankrekening gevorder was, is aan hom terugbetaal.

Anton Claassen het ook ’n klagte oor MultiChoice vir ons gestuur.

“Isaac van MultiChoice het my gekontak en ’n Explora teen R759 per maand aangebied. Die aanbod was op die sogenaamde ‘price lock’, wat vir twee jaar geldig sou wees.

“Ek het Isaac gevra om my later weer te kontak. Ek is weer gekontak en ek het tot die aanbod ingestem.

“Die eerste paaiement was egter R959. Ek het MultiChoice hieroor gekontak en hulle het belowe om die fout reg te stel.

“Baie oproepe en e-posse later is dit nog nie gedoen nie.”

Ons het ook Claassen se klagte onder MultiChoice se aandag gebring.

Hulle erken ’n fout het op sy rekening ingesluip.

Dis intussen reggestel.

Sukkel met terugbetaling van Gems

     

Gabriel le Roux het gesukkel om ’n terugbetaling vir sekere rekenings by die mediese fonds vir staatswerkers (Gems) te kry.

“Daar is drie rekenings wat ek per e-pos en faks aan Gems gestuur het wat steeds nie aan my terugbetaal is nie.

“Ek het selfs die rekenings self by een van hul inloopsentrums ingegee, maar steeds het die saak nie gevorder nie.”

Tot Jou Diens het Gems gevra om ondersoek in te stel.

Le Roux sê hulle het hom gekontak en hy het nou ’n terugbetaling ontvang.

Telkom, wat nou van die modem?

    

Johan van Deventer was nie gelukkig met die diens wat hy by Telkom gekry het nie.

“Ek het in Desember by Telkom oorgeskakel na ’n onbeperkte lyn.

“Die koste van die pakket is R599 per maand. Ingesluit hierby is die koste van die lyn, internet, ’n e-pos-rekening, gratis WiFi, gratis oproepe na ander Telkom-nommers en afslag op sommige ander nommers.

“Ek het egter op my rekening gemerk ek betaal vir oproepe na Telkom-nommers en nou wil hulle my ook vir die modem aanslaan.

“Ek het die saak met Telkom probeer uitklaar, maar as ’n mens hulle bel, kom jy nooit by iemand uit wat kan help nie.

“Ek verstaan nie hoekom ek nou ewe skielik moet betaal vir iets waarvoor ek reeds betaal het nie.”

Ons het Telkom gevra om Van Deventer te help.

Van Deventer sê hulle het hom gekontak en die saak is reggestel.

    

BMW lewer nie motorfiets af nie

   

Johan Kroep het ’n klagte oor Lynn Schroeder BMW vir Tot Jou Diens gestuur.

“Ek het in November verlede jaar ’n splinternuwe motorfiets by BMW bestel, wat steeds nie afgelewer is nie, en my ander motorfiets vir ’n diens na hulle toe geneem.

“Ek het twee items wat ek as kardinaal vir veiligheid beskou aan die tegnikus uitgewys en hom gevra om dit na te gaan. Die eerste was die handvatsels wat los is en die tweede ’n branderige reuk wanneer die motorfiets loop.

“Ek het BMW gevra om die oorsaak van die reuk op te spoor en ’n verslag daaroor op te stel. Tot op datum is die handvatsels nog los en ’n verslag oor die brandreuk het ek ook nog nie gekry nie.

Dit het later gevoel of die personeel by BMW my stief begin behandel.”

Kroep het oor bogenoemde gekla.

“Raymond Botha, die besturende direkteur, het belowe om moeite met my klagte te doen, maar ek het steeds nie verder nuus gekry nie. My motorfiets is nog onder waarborg so ek weet nie hoekom hulle so sloer nie.”

Ons het BMW gevra om kommentaar te lewer.

Hulle sê die motorfiets wat Kroep bestel het, is eers in Januarie vanjaar in Suid-Afrika beskikbaar gestel en dat daar ’n waglys was om hierdie motorfiets vir kliënte te bekom.

’n Motorfiets volgens Kroep se spesifieke voorkeure is reeds aan hom gelewer.

Wat die ander motorfiets aanbetref, was die handvatsels binne BMW se voorgeskrewe standaarde en nie los, soos Kroep dit noem nie.

Wat die brandreuk betref, sê BMW hulle kon niks van dié aard opspoor nie. Hulle het wel aangebied om weer ondersoek in te stel as Kroep sy motorfiets vir hulle sou bring.

Laastens sê Lynn Schroeder BMW hul personeel het Kroep beslis nie stief behandel nie.

Kroep sê Botha het tegniese hulp uit Duitsland ingewin en het hom met die vordering van die werk op die hoogte gehou.

Voorts het Kroep die verkoopsdame Debbie vir haar uitsonderlike diens bedank.

Sy het onder meer die nodige reëlings getref om Kroep se motorfiets by hom te gaan haal en weer af te lewer.


Wenke wat werk

As jy dit oorweeg om sekuriteitskameras by jou huis aan te bring, het Roy Bregman van Bregman-prokureurs die volgende te sê:

“Jou bure se privaatheid moet in gedagte gehou word.

“Die probleem ontstaan wanneer jou kameras ook ’n deel van jou bure se erf kan sien.

“Sekuriteitskameras word gewoonlik op openbare plekke verwelkom, maar dis nie noodwendig so waar kameras by ’n private woning aangebring word nie.”

Bregman sê Suid-Afrikaanse wetgewing maak in breë trekke voorsiening vir mense se privaatheid. Waar kameras iemand anders moontlik kan afloer, inbreuk maak waar ’n buurman kan verwag om privaatheid te hê of waar die kameras ’n oorlas word, meen Bregman daar kan gekla word.

Om bogenoemde probleme te probeer oorkom, het Bregman die volgende wenke:

Verduidelik aan jou bure dat jy kameras wil aanbring en dat dit net is om jou eie eiendom te beveilig.

Probeer jou kameras só opstel dat dit nie direk in ’n buurman se eiendom wys nie.

As jou kamera na die straat wys, maak seker daar is ’n kennisgewing wat voetgangers oor die kameras inlig.

Gebruik die beeldmateriaal net vir sekuriteitsdoeleindes en niks anders nie.

Wis die beeldmateriaal gereeld uit. Bêre wel beeldmateriaal van voorvalle wat die polisie met ’n ondersoek kan help.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1048,32 (-878)
  • Top 40 50397,19 (12519)
  • All Share 56546,8 (10123)
  • Resource 10 43602,83 (-2210)
  • Financial and Industrial 30 75238,63 (30649)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.