SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Tot jou diens
Tot Jou Diens: Sy Renault word warm

Tot Jou Diens is ’n kampvegter vir verbruikers. Stuur klagtes aan totudiens@beeld.com en onthou om die kontakbesonderhede van die betrokke onderneming in te sluit.

   

  Hy meen die SAID boelie hom

   

   Etienne Allers het aan ons geskryf oor wat hy as die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se boelietaktiek beskryf.

“Dit wil voorkom of ek onder die SAID se boelietaktiek deurloop.

Hulle het my vir sekere mediese inligting gevra om my belastingopgawe af te handel.

Hierdie inligting met die nodige stawende dokumente het ek ’n dag later aan die SAID verskaf.

Hierna het ek ’n ruk vir terugvoering gewag en later ’n voorlopige dokument van hulle gekry wat aandui ek hoef nie ’n oudit te ondergaan nie.

Hieruit het ek afgelei die proses behoort redelik vinnig afgehandel te word, maar steeds het die SAID gesloer om my opgawe af te handel.

Van my kant af kan ek niks verder doen nie en hulle het al die mag om die ding so lank as wat hulle wil uit te rek.”

Ons het die SAID gevra om Allers te help. Hy sê die SAID het nou ’n terugbetaling aan hom gemaak en hy is dankbaar die proses is nou afgehandel.

Sy Renault word warm

Herman van Zyl het met sy Renault Duster probleme ondervind.

“In April vanjaar het ’n klip my voertuig se verkoeler getref en dit beskadig. Die verkoeler is by Renault in Boksburg vervang.

Toe my voertuig onlangs by die plaaslike Renault-handelaar gediens is, het ek aan hulle genoem dit lek water. Die waterbottel is vervang. Later het my voertuig warm geword waarna Renault Vanderbijlpark lug in die verkoelingstelsel gekry het. ’n Maand later het my voertuig weer warm geword en die keer het

Renault gesê die pakplaat (gasket) het seergekry. Met die aanleiding tot die probleem het ek gevoel Renault moet vir die herstelwerk betaal, maar hulle weier.”

Tot u Diens het Renault gevra of hulle Van Zyl kan tegemoet kom. Hulle het besluit om as gebaar van welwillendheid wel vir die herstelwerk aan Van Zyl se voertuig te betaal.

   

   Telkom sloer met installasie  

   

 Veronica Roach was teleurgesteld met Telkom se diens.

“Ek het aan die begin van September vir ’n internetlyn by Telkom aansoek gedoen.

Die Telkom-konsultant kon nie verstaan dat ek nie ’n foon wil hê nie, net die internetlyn. Voorts kon hy my nie sê hoeveel ek maandeliks vir die lyn moet betaal nie.

Hy wou egter nie met die kontrak voortgaan tot ons ’n bedrag op die kontrak kon aanbring nie en ek het uiteindelik my dogter gebel om te hoor wat sy vir ’n soortgelyke diens betaal en ek het hierdie bedrag wat sy betaal op die kontrak ingevul.”

Telkom se tegnici het Roach omtrent drie weke later besoek.

“Die nuwe lyn is geïnstalleer en ek het ’n nommer daarvoor gekry.

Hierna het die proses begin om Telkom sover te kry om die lyn na my internetverskaffer te migreer.

Ek het twee keer die nodige dokumente vir Telkom gestuur, maar niks het gebeur nie.

Sover ek kon sien, was Telkom onder die indruk ek probeer iets kanselleer wat nie die geval is nie.

Pluimpies

Jeannette Weyers was beïndruk met die diens van die personeel by die Life Faerie Glen-hospitaal, Pretoria.

“Ek is onlangs in die Life Faerie Glen-hospitaal opgeneem. Die behandeling wat ek daar ontvang het, was wonderlik. Ek wil graag die verpleegsters van saal een vir dank uitsonder vir hul vriendelike diens. As ek ooit weer in ’n hospitaal opgeneem moet word, sal ek definitief weer Life Faerie Glen kies.”

Koos van Zyl sê sy pluimpie van verlede week was meer spesifiek vir Mercedes kommersieel Centurion bedoel.

Intussen het ek ’n rekening vir meer as R1 000 by Telkom gekry.

Hulle het wel gesê dat my lyn nou na die ander diensverskaffer geskuif sal word.

Wonder bo wonder het ek wel teen die begin van November toegang tot die internet verkry en ook ’n belofte van Telkom dat my rekening met R500 verminder sou word.”

Roach was dolgelukkig, maar omtrent ’n week later het dinge weer verkeerd gegaan.

“Binne ’n week is my internetdiens opgeskort.

Ek het met my diensverskaffer kontak gemaak en hulle het gesê die probleem lê by die Telkom-lyn.

Hierna het Telkom gesê die fout sal binnekort aandag geniet, maar daar het nog niks van hul belofte gekom nie.”

Tot u Diens het Roach se klagte onder

Telkom se aandag gebring. Sy sê haar lyn is herstel, maar sy wag nog vir Telkom om haar rekening by te werk.

Sam van Wyk se klagte oor Telkom het nog nie ’n gelukkige einde gehad nie.

“Ek het vroeër vanjaar my Telkom-lyn gekanselleer.

Ek het die versoek om kansellasie in persoon by die plaaslike Telkom-winkel ingedien.

’n Paar maande later het ek ’n rekening van meer as R700 vir huurgeld vir die betrokke lyn van Telkom gekry. Hieroor het ek Telkom gekontak en volgens ene Thando is my foon nog aktief. Ek het hom gesê dis nie die geval nie. Hy het gesê hy sal dadelik die fout regstel, maar ’n maand later het ek weer ’n rekening van Telkom gekry wat sê ek skuld hulle nou al nagenoeg R1 000. Nou weet ek nie meer wat om te doen nie.”

Ons het ook Van Wyk se klagte vir Telkom gestuur, maar ná verskeie pogings nog nie

terugvoering by hulle gekry nie. Van Wyk se probleme duur voort.

   

Sy DStv-tydskrif is soek

   Chris Opperman was ongelukkig nadat hy nie meer sy DStv-tydskrif by MultiChoice gekry het nie.

“Ek het al vir 17 jaar DStv en kry elke maand hul tydskrif. Dit word gestuur na my posadres waar ek dit dan gaan afhaal. Die aflewerings het nog altyd soos klokslag verloop. Onlangs het hulle sonder om my in kennis te stel die adres vir aflewerings op hul stelsel na my straatadres verander.

Ek kry egter geen pos by hierdie adres nie en ek wil dit so hou.”

Opperman het aan MultiChoice geskryf om hulle te versoek om soos in die verlede die DStv-tydskrif na sy posadres te stuur.

“Ek het al ’n paar keer vir MultiChoice geskryf, maar dit lyk nie of hulle verstaan wat ek wil hê nie, want ek merk op my kontrak met hulle my straatadres word steeds as die adres waar aflewerings gedoen moet word aangedui.”

Tot u Diens het MultiChoice oor Opperman se klagte gepols. Hulle het met hom kontak gemaak en vir die misverstand om verskoning gevra. Hulle het onderneem om voortaan die DStv-tydskrif na die adres wat hy verkies te stuur.

Opperman sê hy sal ons op hoogte hou van of dit wel gebeur.

   

Vodacom skuld haar meer as R2000

   

Cecile Louw het ’n klagte oor Vodacom vir ons gestuur.

“In Augustus het ek ’n oproep van Vodacom ontvang waarin ek ’n opgradering aangebied is. Ek sou maandeliks minder moes betaal as ek die nuwe pakket aanvaar. Hierdie kontrak sou my selfoon en data dek. Die maandelikse paaiement is op R477 vasgemaak.”

’n Pakkie van Vodacom is ’n paar dae later by Louw afgelewer. “In die pakkie was daar twee selfone en twee internettoestelle. Daar moes net een van elk wees.

Ek het Vodacom onmiddellik in kennis gestel en gereël dat die ekstra foon en toestel by my afgehaal word. Tien dae later moes ek Vodacom weer vra om die pakkie te kom haal.

Intussen het hulle amper R900 van my bankrekening verhaal. Hul verskoning was dat die pakkie hulle te laat bereik het om die krediet daardie maand reeds aan my toe te staan, maar dat dit wel die volgende maand gedoen sou word.

Die volgende maand was daar nog niks aan die saak gedoen nie en ek het gedink hulle sal seker binnekort ’n plan maak en het dit vir nog ’n maand gelos. Dit was egter steeds nie teen die tyd van my volgende rekening reggemaak nie.”

Louw het ’n e-posboodskap vir Vodacom gestuur om te kla.

“Ek het telkens ontvangserkennings op my e-posboodskappe aan Vodacom gekry, maar niks meer as dit nie. Ek het Vodacom gebel om te hoor wat aan die gang is en verskeie persone daar het erken ek het te veel betaal.

Ongelukkig kon hulle niks doen om my rekening by te werk nie. Ek is ’n ander nommer gegee om te bel om vir hulp te vra, maar dit was aan ’n masjien gekoppel met opsies wat my nie gehelp het nie.

By ’n ander geleentheid het ek gewag om met ’n konsultant te praat toe die oproep sonder waarskuwing beëindig is. Ek het somme gemaak en Vodacom skuld my al meer as R2 000 vir die verkeerde aftrekkings wat sover van my rekening verhaal is.”

Tot Jou Diens het Louw se klagte onder Vodacom se aandag gebring en hulle gevra om ondersoek in te stel. Louw sê Vodacom het gevind sy betaal per abuis ook vir iemand anders se kontrak. Hierdie fout is reggestel en ’n krediet is aan Louw toegestaan

Wenke wat werk

Marina Constas, ’n direkteur van BBM Attorneys, sê dis nie ’n maklike taak om ’n trustee van ’n deeltitelkompleks te wees nie, maar dat trustees steeds in hul optrede die wet moet gehoorsaam.

“Daar is baie druk op die trustees van ’n kompleks wat daartoe kan lei dat hulle soms die wet oortree,” sê Constas.

Daar is verskeie voorbeelde van trustees wat op een of ander manier die wet oortree. Hier volg van die vernaamste voorbeelde van wat trustees doen om hul regte te oorskry:

Trustees mag nie ’n eenheid se krag afsny wanneer die betaling van heffings agterstallig geraak het nie. “Die trustees is nie die verskaffer van die elektrisiteit nie en word dus nie toegelaat om dit af te sny nie,” sê Constas.

“Voorts mag die trustees nie aan die kompleks se besturende agent opdrag gee om iemand se krag af te sny nie.” ’n Inwoner se afstandbeheer of ander vorm van toegang tot die kompleks mag nie geblok word waar heffings agterstallig geraak het nie.

“Die trustees kan nie ’n inwoner dwing om soos ’n besoeker by die hek in te teken nie,” sê Constas;

Boetes mag nie voor die voet op eienaars se rekenings bygevoeg word nie; en

Die kompleks se reëls mag nie teenstrydig met die deeltitelwet wees nie.

Meer oor:  Tot Jou Diens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1143,64 (202)
  • Top 40 44843,58 (-134525)
  • All Share 51067,77 (-135575)
  • Resource 10 39182,27 (-76408)
  • Financial and Industrial 30 67037,29 (-230941)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.