Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tot jou diens
Tot jou diens: WVF sloer met eis

Tot Jou Diens is ’n kampvegter vir verbruikers. Stuur klagtes aan totudiens@beeld.com  en onthou om die kontakbesonderhede van die betrokke onderneming in te sluit.


WVF sloer  met eis

Janita van Dyk het ’n brief ingestuur oor die probleme wat sy met die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) ondervind het.
“Ek het ’n eis om kraamvoordele by die WVF ingedien. Ek het die dokumente ingevul waarvoor hulle gevra het en ek is gevra om oor omtrent ’n maand terug te kom om alles te finaliseer.”
Op die datum wat die WVF aan haar verskaf het, is sy terug na die kantore in Bethal.
“Ek moes van 08:00 tot omstreeks 13:00 wag voordat ek gehelp is. Die konsultant het gesêmy slegte nuus gegee, want my eis is nog nie goedgekeur nie. Ek is meegedeel dat ek oor ’n paar dae telefonies navraag moet doen.
“Ek het toe geskakel en my eis was steeds nie afgehandel nie.
“Later het ek met ’n bestuurder gepraat, want ek was desperaat om ’n inkomste te kry om my baba te versorg. Dit het ook nie gehelp nie.
“Ek wag steeds op die WVF om my kraamvoordele te betaal.”
Tot Jou Diens het Van Dyk se klagte aan die WVF gestuur.
Sy het toe laat weet dat haar eis afgehandel is.

McDonald’s se kameras help niks

Ronel du Toit was nie gelukkig met McDonald’s se diens nadat sy voor die deur van een van hul eetplekke van haar selfoon beroof is nie.
“Ek is voor die deur van McDonald’s in Centurion aangeval en van my selfoon beroof. Ek was in daardie stadium besig om die deur oop te maak toe iemand my van agter af aanval.”
Du Toit het die voorval by McDonald’s aangemeld.
“Ek het hulle versoek om na hul sekuriteitskameras se opnames te kyk in die hoop dat ’n mens dalk die identiteit van die aanvaller kan bepaal. McDonald’s het egter gesê net die polisie mag na die beeldmateriaal kyk.
“Ek het die personeel by die Centurion-tak gevra om die saak na hul hoofkantoor te verwys. Ná verskeie oproepe en e-posse aan die hoofkantoor het ek nog nie weer van hulle gehoor nie.
“Na my mening kan McDonald’s meer doen om die sekuriteit van hul klante te verseker.”
Tot Jou Diens het McDonald’s gevra om ondersoek in te stel en terugvoering te gee. Hulle sê hulle was met Du Toit in gesprek oor die voorval. Voordat beeldmateriaal van sekuriteitskameras aan ’n klant beskikbaar gemaak kan word, moet ’n saaknommer van die polisie verkry word.
Du Toit het dié nommer aan McDonald’s voorsien, waarna die beeldmateriaal nagegaan is. Ongelukkig het die voorval buite die veld van hul kameras plaasgevind en kon hulle Du Toit nie verder van hulp wees nie.
McDonald’s het Du Toit egter aangemoedig om die saak met hul versekeraars op te neem.
Du Toit het ’n eis by die betrokke versekeraars ingedien, maar sy meen steeds McDonald’s kan iets doen om die sekuriteit by die plek waar sy beroof is op te skerp.

Departement van arbeid doodstil

Lehandra Kotze het by die departement van arbeid ’n bloutjie geloop.
“Ek het in Junie verlede jaar ’n versoek aan die departement van arbeid in Vanderbijlpark gerig om ’n sertifikaat aan my beskikbaar te stel waarmee ek vir sekere voordele sal kan aansoek doen. Ek het herhaaldelik met hulle opgevolg en moes al die nodige dokumentasie ’n tweede keer gaan indien sonder dat die sertifikaat uitgereik is.
“By geleentheid het ek met ene Petunia gepraat, maar ook sy was nie van veel hulp nie.
“Sy was al die derde mens waarmee ek oor die sertifikaat gepraat het. Ek het steeds geen idee wanneer ek die sertifikaat sal kry nie.”
Tot Jou Diens het Kotze se klagte verskeie kere onder die departement van arbeid se aandag gebring sonder om terugvoering te kry.
Haar probleem duur voort.

Game-webwerf lewer nie alles af

Hannetjie Liebenberg het lank gewag vir ’n yskas wat sy op Game se webwerf gekoop het.
“Ek het ’n wasmasjien en yskas op Game se webwerf gekoop. ’n Dag later het Game laat weet my bestelling is aan hul koeriers gegee.

Pluimpies
Erika Theron het ’n pluimpie vir Telkom ingestuur.
“Ek het ’n probleem met my telefoon by Telkom aangemeld. Ek het my besonderhede op hul outomatiese stelsel ingesleutel en nie juis veel verwag nie. Binne 40 minute het hulle my gekontak om meer by my uit te vind. ’n Dag later was hul tegnikus hier en die probleem is in ’n halfuur opgelos.”

“Die probleem is dat volgens die e-pos wat die aflewering bevestig, is daar net een artikel in die besending. Ek het ondersoek ingestel en die yskas is nie aan die koerier gelewer nie.”
Liebenberg het Game telefonies en per e-pos probeer bereik.
“Ek het met ’n paar mense by Game gepraat, maar daar kom nooit iets van hul beloftes om ’n mens terug te bel nie.
“Ek het wel later ’n e-pos van Game gekry, maar tot my verbasing het dit gelui die aflewering van sowel die wasmasjien as die yskas is afgehandel.
“Ek het beslis nie die yskas gekry nie.
“Intussen het ek hulle weer gebel en e-posse gestuur sonder om tot iemand deur te dring dat die aflewering onvolledig was.
“Uit desperaatheid het ek die plaaslike Game-winkel besoek en daar die hele storie aan die personeellede verduidelik, maar hulle sê bloot hulle neem nie verantwoordelikheid vir bestellings wat op die webwerf geplaas is nie.”
Ons het Liebenberg se klagte onder Game se aandag gebring.
Sy sê die koerier was intussen terug by haar huis en sy het nou haar yskas gekry.

DStv-tydskrif ‘nie meer gedruk’

Wimpie Glover het soos ’n paar ander Beeld-lesers probleme ondervind om sy DStv-tydskrif by MultiChoice te kry.
“Die afgelope jaar kry ek nie meer my DStv-tydskrif nie. Ek het daaroor navraag gedoen en daar is vir my gesê die tydskrif word nie meer gedruk nie.
“In hierdie omstandighede het ek besluit om die saak daar te laat, maar toe lees ek ’n paar weke gelede van ’n ander Beeld-leser wat dieselfde probleem ondervind het, maar wat toe wel weer sy tydskrif gekry het.
“Nou verstaan ek nie so mooi nie.”
Ons het MultiChoice oor Glover se klagte gepols. Hulle het ondersoek ingestel en gevind Glover se adres was verkeerd op hul databasis ingesleutel.
Sy adres is reggestel en die DStv-tydskrif sal voortaan weer aan Glover gelewer word.

FlySafair wil nie afsien van boete nie

Monica Cloete het haar klagte oor FlySafair aan Tot Jou Diens gestuur.
“Ek het in Augustus kaartjies by FlySafair bespreek. Ek het taamlik gesukkel omdat die webblad met daardie dag se uitverkoping baie besig was. In die proses het ek per ongeluk verkeerde roetes gekies.”
Cloete was aanvanklik onbewus van die fout wat sy gemaak het.
“Later het ek gekyk of ek spesifieke sitplekke kan bespreek en toe eers besef die kaartjies is op die verkeerde roete bespreek. Ons wou van Johannesburg Durban toe vlieg, maar ek het die vlugte van Durban Johannesburg toe bespreek.”
Cloete het FlySafair gekontak om te hoor of hulle kan help.
“Hulle het gesê ons sal die verskil in prys vir die kaartjies moet inbetaal, asook ’n boete van R300 per kaartjie. Ek kon die verskil in prys vir die kaartjies verstaan, maar die boete was vir my ’n bietjie rof. Dit was immers nog drie weke voor die reis. Dit was nogal ’n teleurstelling aangesien ons al baie van FlySafair gebruik gemaak het en nog altyd beïndruk was deur hul voortreflike diens. Ek het FlySafair gevra of hulle ons kan tegemoet kom, maar ek het nog nie weer van hulle gehoor nie.”
Tot Jou Diens het FlySafair gevra om kommentaar te lewer. Hulle sê Cloete se klagte is uiters ongewoon en dat die fout wat sy begaan het ’n groot impak op die koste van die kaartjies kan hê. Voorts sê hulle hul kliëntediensspan het ’n stel reëls waarvolgens hulle besluite neem, maar dat dít wat met die reëls bedoel word belangriker is as om dit letterlik op te neem.
FlySafair gee ’n mens 24 uur ná ’n bespreking grasie om gratis veranderings aan ’n kaartjie aan te bring. Só word ’n geleentheid gebied om foute wat per ongeluk met die bespreking ingesluip het, reg te stel.
In Cloete se geval meen FlySafair dié reël is korrek toegepas, maar dat die bedoeling van die reël dalk effens gemis is. Hoe dit ook al sy, FlySafair het as ’n gebaar van welwillendheid die boetes kwytgeskeld en die verandering aan die kaartjies aangebring.
Cloete het hulle hiervoor bedank.

Wenke wat werk

Floris Slabbert, ’n bestuurder by Ecsponent Financial Investment Services, het die volgende wenke om jou geldsake in 2018 beter te bestuur.

  • Stel ’n nuwe begroting op:
    “Gebruik jou bestaande begroting as ’n beginpunt om ’n nuwe een op te stel,” sê Slabbert.
    “Oorweeg hoe veranderende rentekoerse en inflasie jou finansies beïnvloed wanneer jy vir 2018 beplan. Sny onnodige uitgawes uit.
    “Onthou ook ’n begroting is van geen waarde as jy nie daarby hou nie.”
  • Spaar:
    “Dit is dalk ’n cliché, maar dit is belangrik om elke maand iets te spaar,” sê Slabbert. “Spaar vir noodgevalle en spesiale geleenthede.” Voorts sê hy ’n mens moet jou spaargeld in ’n rekening hou waar jy moet kennis gee om dit te kan onttrek. Só verminder jy die versoeking om dit uit te gee.
  • Verminder jou skuld:
    Slabbert meen jy neem reeds die eerste stap tot ’n gesonder finansiële posisie as jy nie in 2018 nuwe skuld maak nie.
    Wat bestaande skuld betref, sê Slabbert ’n mens moet nooit ’n betaling oorslaan nie. ’n Mens moet ook meer as die minimum paaiement betaal waar dit moontlik is.
  • Hoe gemaak met jou bonus?
    “Gebruik jou bonus of salarisverhoging om jou finansiële doelwitte vinniger te bereik,” sê Slabbert. “As jy ’n groot bonus kry, moet jy dalk ’n finansiële raadgewer vra om jou aanbevelings te gee oor hoe om die geld aan te wend.”
  • Beplan vir lang termyn:
    “Jou korttermynbegroting moet ook voorsiening maak vir jou langtermyn- finansiële doelwitte,” sê Slabbert.
    “Of jy spaar om jou eie onderneming op die been te bring, om jou kinders deur universiteit te sit of om genoeg te hê om gemaklik te kan aftree, vra jouself af of jou begroting hiervoor voorsiening maak.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1057,1 (1153)
  • Top 40 50272 (5224)
  • All Share 56445,57 (6428)
  • Resource 10 43624,93 (54914)
  • Financial and Industrial 30 74932,14 (-29412)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.