Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
19 toets positief vir korona-virus by platinummyn
Impala Platinum se Marula-myn in Limpopo.Foto: Implats

Die Marula-platinummyn in Limpopo is tydelik gesluit nadat 19 werkers daar positief getoets is vir die koronavirus.

Die myn behoort aan Impala Platinum (Implats).

Dit was juis Implats wat een van die eerste mynmaatskappye was wat bedrywighede hervat het nadat Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, in April goedkeuring daarvoor gegee het.

Myne is toegelaat om tot 50% van hul werkers terug te bring.

LEES OOK: Diep myne mag oopmaak, maar daar’s voorwaardes

Implats sê in ’n verklaring al 19 die werkers wat positief getoets is, was asimptomaties. Hulle het dus geen simptome van die virus getoon nie.

Die maatskappy sê 14 van die werkers is positief getoets vanweë die proaktiewe proses om werkers te toets voordat hulle terugkeer werk toe.

Implats sê die werkers is positief getoets vir die virus nog voordat hulle teruggekeer het werk toe.

Van die oorblywende vyf is een geïdentifiseer as ’n primêre kontak, terwyl die ander vier gediagnoseer is nadat daar proaktief na hulle gesoek is omdat hulle in kontak was met dié persoon.

Twee van mense wat positief getoets is, het onlangs van die Oos-Kaap af teruggekeer na Limpopo.

Die maatskappy sê omdat 17 van die werkers wat positief getoets is in die plaaslike gemeenskap woonagtig is, is hy bekommerd dat daar veel meer mense is wat die virus onder lede het as waarop hy voorheen gereken het.

Vyf van die werkers is verbonde aan die myn se kliniek. Implats het dié kliniek tydelik gesluit terwyl dit ontsmet word. Alle werkers by dié kliniek word nou vir die virus getoets.

Sahlulele Luzipo, voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee vir minerale bronne en energie, en Tebogo Modise, voorsitter van die gekose komitee vir grondhervorming, omgewing en minerale bronne en energie, sê hulle is geskok om van dié infeksies te hoor.

Hulle wens Implats geluk in ’n verklaring omdat hy werkers proaktief getoets het vir die virus, selfs nog voordat hulle teruggekeer het werk toe.

Hulle sê hulle het reeds terugvoering van Mantashe ontvang, wat sê hy sal nie skroom om die myn te sluit as werkers nie voordat hulle ondergronds gaan, getoets word vir die virus nie.

Mantashe het die myn oor die naweek besoek om stappe met die bestuur en Stanley Mathabatha, premier van Limpopo, te bespreek oor wat gedoen kan word om verdere infeksies te keer.

Mantashe het juis verlede week konsep-riglyne vir die samestelling van ’n verpligte gedragskode vir myne vir die versagting en bestuur van die invloed van die koronavirus-pandemie in die land beskikbaar gestel vir kommentaar.

LEES OOK: Riglyne oor gedragskode vir myne beskikbaar

Dit kom nadat die hooggeregshof in Johannesburg op 1 Mei beslis het dat mynmaatskappye aan ’n gedragskode moet voldoen wanneer hul bedrywighede hervat word.

Die mynwerkersvakbond Amcu het dié aansoek ingedien.

Joseph Mathunjwa, president van Amcu, het Maandagoggend in 'n onderhoud op eNCA gesê die vakbond is baie bekommerd oor die positiewe toetse. 

Mathunjwa sê nuwe regulasies wat betref veiligheid wat volgens hom vandag (18 Mei) in die Staatskoerant gepubliseer gaan word, moet streng toegepas word.

Mathunjwa sê Amcu glo dat mynmaatskappye nie gaan skroom om nou werkers af te lê en die virus vir verliese te blameer nie.



Meer oor:  Implats  |  Impala Platinum  |  Gwede Mantashe  |  Joseph Mathunjwa  |  Limpopo  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.