Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
81 sterf in SA myne in 2018

’n Totaal van 81 mynwerkers is verlede jaar in Suid-Afrika se myne dood.

Dit is minder as die 90 wat in 2017 dood is, maar meer as die 73 werkers wat in 2016 in myne gesterf het.

David Msiza, hoof-myninspekteur van die departement van minerale bronne, het Vrydag dié syfers in Pretoria bekend gemaak.

Die syfers sluit nie syfers in van onwettige myners wat in myne sterf nie.

Msiza het spesifiek die platinumsektor geluk gewens met ’n verbetering, waar die sterftesyfer met 59% gedaal het. Daar is verlede jaar 29 mynwerkers by platinummyne dood.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne.Foto: Elvira Wood

Die sterftesyfer in die steenkoolsektor is 10% laer.

Wat wel kommer wek is die drie groot rampe wat die mynbousektor verlede jaar getref het, sê Msiza. ’n Ramp word beskryf as ’n gebeurtenis waar vyf of meer werkers op een slag sterf.

Twee van die rampe was by goudmyne. Die derde was by ’n kopermyn buite Phalaborwa in Limpopo.

  • Sewe werkers is in Mei 2018 by Sibanye-Stillwater se Driefontein-goudmyn dood ná ’n grondstorting, gevolg deur vyf wat in Junie by sy Kloof-goudmyn weens ’n hitteprobleem dood is.
  • Ses mynwerkers is dood in ontploffing en brand by die Palabora Mining Company se myn in Julie.

“Ondersoeke na die rampe is onderweg om uit te vind presies wat gebeur het, en wat die nodige stappe is wat gedoen moet word om ongelukke te vermy,” sê Msiza.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, sê 40 van die mynwerkers wat verlede jaar dood is, het by goudmyne gewerk.

“Ek wil nie hê die goudmynmaatskappye moet verskonings soos dat myne diep, oud en gevaarlik is gebruik om die sterftes te verduidelik nie.

“As dit steeds ekonomies is om ’n myn te bedryf, moet dit veilig gedoen word,” sê hy.

Vanjaar het myne reeds vyf sterftes by die departement aangemeld. Dit is beduidend laer as die 14 wat in die eerste twee maande van verlede jaar aangemeld is.

Die Mineraleraad van Suid-Afrika (MRSA) het saam met sy lede en verskeie ander belanghebbendes verlede jaar groot planne bekend gemaak hoe om te verseker myne word veilig bedryf.

Roger Baxter, uitvoerende hoof van die MRSA, het in Augustus met die bekendstelling van die raad se veiligheidsveldtog gesê die hoë sterftesyfers is onaanvaarbaar.

“Dié statistieke is onaanvaarbaar. Daar was ’n toename in sterftes weens rotsstortings en seismiese gebeure. Ons het ’n spesiale taakspan saamgestel om oplossings te vind.”

Meer oor:  Mynbou  |  Mynsterftes  |  Goudmyne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.