Altesame 85 Suid-Afrikaanse mynwerkers het al positief getoets vir die nuwe koronavirus en een is reeds aan Covid-19-siekte dood.

Mynwerkers wat in beknopte areas ondergronds werk, is ’n groot rede tot kommer wanneer dit by die verspreiding van die Covid-19-virus kom. Foto: Reuters
Dr. Thuthula Balfour, hoof van gesondheid van die Mineraleraad van Suid-Afrika, het Vrydag dié syfers bekendgemaak op ’n gespreksessie met die media oor die pandemie.
Limpopo is die brandpunt van koronavirusgevalle in myne, waar daar reeds 56 mynwerkers met die virus gediagnoseer is.
Hiervan is 19 verbonde aan Impala Platinum (Implats) se Marula-platinummyn. Implats stel dit duidelik dat die werkers gediagnoseer is nog voordat hulle by die myn opgedaag het vir werk.
Implats het die werkers in ’n siftingsproses geïdentifiseer om getoets te word. Vyf van die 19 werkers is verbonde aan ’n kliniek by die myn. Dié kliniek is gesluit sodat dit ontsmet kan word.
LEES OOK: 19 toets positief vir korona-virus by platinummyn
Assore se Dwarsrivier-chroommyn is vroeër in Mei gesluit nadat ’n werker daar positief getoets is vir die koronavirus.
Tebello Chabana, hoofbestuurder van openbare betrekkinge en transformasie van die Mineraleraad, sê daar is geen twyfel by die raad dat die mynbousektor baie goed na die gesondheid van werkers omsien nie.
“Dit is duidelik dat werkers nie minder veilig by die werk is as by hul huis nie. Inteendeel, hier word hulle ondersoek en getoets indien nodig,” sê hy.
Chabana en Balfour sê dit sal onmoontlik wees om alle werkers in die sektor vir die virus te toets.
“Dit is alom bekend dat daar wêreldwyd ’n groot tekort aan toetseenhede vir die virus is. Daar is sowat 450 000 mynwerkers in Suid-Afrika. Ons kan nie almal toets nie,” sê Balfour.
Alle mynwerkers gaan egter daagliks deur ’n siftingsproses om te bepaal wie getoets behoort te word.
LEES OOK: Covid-19 in myne: Voorkoming enigste oplossing
Mynwerkers word ook gevra om ’n app op hul slimfone af te laai waarmee hulself kan help met dié proses.
Op die vraag of die raad enige voorspelling kan maak oor hoeveel werkers moontlik die virus kan opdoen, sê Chabana en Balfour dit is onmoontlik.
Hulle maak staat op die syfers wat die regering verskaf.
Chabana en Balfour sê die raad en sy lede verwelkom die publikasie van die gedragskode wat die sektor moet volg.
Die departement van minerale bronne en energie het dié dokument op 19 Mei in die Staatskoerant gepubliseer.
Balfour sê daar is ’n paar duisend beddens by verskillende myne en hospitale beskikbaar vir kwarantyn-doeleindes of om siek werkers in isolasie te plaas.
Chabana sê hoewel die pandemie ’n bron van kommer is, is dit nodig dat die ekonomie so gou as moontlik oopgemaak word – en dit geld veral myne.
Hy sê dit maak glad nie sin om te vra dat myne voor die voet gesluit moet word bloot omdat daar ’n risiko is dat die virus daar versprei kan word nie.
Hy sê al die nodige maatreëls word getref om te verseker dat werkers veilig is.
Luidens die huidige regulasies mag 50% van myne se arbeidsmag weer werk.
Steenkoolmyne – van wie se produk Eskom afhanklik is – kon egter dwarsdeur die staat van inperking teen 100% van hul vermoë werk. Hier is tot dusver altesame sewe werkers positief getoets.