Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
DRDGold stryk sy tegniese probleme uit
Een van die kleiner goudmaatskappye in die land, DRD Gold, moet nog beleggers se guns wen.

DRDGold is oor die hond se rug met sy nuwe flottasie-tegnologie en het gewys dat dié tegnologie kan werk.

Hy sal egter nou sy volumes erts drasties moet verhoog as dié goudmaatskappy beleggers se guns wil wen.

DRD het sy fynstof-flottasie-aanleg by Boksburg in April verlede jaar tot stilstand gebring ná teleurstellende metallurgiese resultate.

In die halfjaar tot einde Desember het verstellings egter meegebring dat sy goudproduksie met soveel as 6% gestyg het tot 73 015 fynonse.

Dis behaal ondanks swaar reën en beurtkrag wat bedrywighede so ontwrig het dat die tonnemaat erts deur die aanleg 3% minder was as in die ooreenstemmende halfjaar in 2013.

Dié klein goudprodusent kry dit met baanbreker-tegnologie reg om winsgewende hoeveelhede goud uit ou mynafval te onttrek.

Niel Pretorius, uitvoerende hoof, het op ’n voorlegging oor die resultate gesê die opbrengskoers in die aanleg het met 9% verbeter tot 0,196 gram per ton van die ou mynafval.

“Dis vir ons ’n klein maar ’n baie belangrike ommeswaai,” sê hy.

Beurtkrag het in Desember verlede jaar tot gevolg gehad dat DRD altesame 67 uur aan produksietyd verloor het. Die beurtkrag-dilemma is vererger omdat sy bedrywighede oor vier verskillende roosterindelings strek.

Hy het darem nou ’n ooreenkoms met Eskom bereik waarvolgens sy elektrisiteitstoevoer nie meer tydens beurtkrag afgesny word nie, maar hy bloot sy vraag na elektrisiteit self sal verminder.

“Beurtkrag het in Januarie en Februarie baie meer gereeld plaasgevind, maar ons toets nou verskillende scenario’s om te bepaal hoe dit ons die minste sal ontwrig,” sê Pretorius.

DRD het ook in die halfjaar R31,6 miljoen aan noodkragopwekkers bestee.

Sy verdienste ná belasting en waardevermindering het met 44% gestyg tot R69,1 miljoen, maar dit het die mark nie beïndruk nie.

Die aandeelprys het kort ná die resultate met 6,1% gedaal tot R2,44, maar het die dag 3% laer afgesluit op R2,52.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.