Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Ál meer druk op SA steenkoolsake

Suid-Afrika loop die gevaar om boetes en hoër belastings vir uitvoer te betaal omdat hy so traag is om van sy steenkool-gedrewe ekonomie weg te beweeg, waarsku kenners.

Steenkool is lankal nie meer die goedkoopste manier om krag op te wek nie, meen omgewingsaktiviste.

Robyn Hugo, direkteur van klimaatsbetrekkinge by die drukgroep Just Share, sê talle lande is besig met belastingaanpassings wat hoër tariewe sal hef op goedere van handelsvennote wat hul CO2-uitlaatgasse nie vinnig genoeg verminder nie.

“Suid-Afrika is baie kwesbaar, want ons ekonomie is hoogs afhanklik van steenkool, wat ons binnekort minder mededingend sal maak in handel en uitvoer,” sê Hugo.

Ook Intellidex het in ’n nota gesê Suid-Afrika sal in alle waarskynlikheid binnekort slaags raak met die Europese Unie en hom ’n hoë oorgrens-koolstofbelasting op die hals haal omdat die land so traag is om teikens te stel om sy skadelike uitlaatgasse te verminder.

Die Europese parlement het reeds ’n besluit goedgekeur om ’n oorgrens-koolstofbelasting te hef op handelsvennote wat nie erns daarmee het om koolstof-uitlaatgasse te verminder nie, het The Guardian berig. Die belastingaanpassings behoort reeds teen 2023 van krag te wees.

Die Europese Unie is een van Suid-Afrika se vernaamste handelsvennote en so ’n belasting kan uitvoer ’n gevoelige knou toedien.

Hugo sê dit is onwaarskynlik dat Suid-Afrika grasie sal kry om stadiger weg te beweeg van ’n steenkool-gedrewe ekonomie. Die Suid-Afrikaanse regering doen gereeld ’n beroep op die internasionale gemeenskap om hom toe te laat om geleidelik van sy steenkool-afhanklikheid afstand te doen, omdat die land toegelaat moet word om ekonomies te groei.

Suid-Afrika is baie kwesbaar, want ons ekonomie is hoogs afhanklik van steenkool, wat ons binnekort minder mededingend sal maak in handel en uitvoer.
Robyn Hugo van Just Share

“Suid-Afrika is ’n ontluikende ekonomie, maar het die status van ’n hoër-middelinkomste-land. Vrystellings van sulke belastings is laerinkomstelande beskore. In die lig van Suid-Afrika se internasionale status sal ons nie dieselfde toegewings as laerinkomstelande kry nie,” sê Hugo.

Intellidex sê Suid-Afrika sal baie meer ambisieuse teikens vir skoon-energie-opwekking by sy geïntegreerde hulpbronplan moet bywerk en ook moet begin om ’n groeneffektemark te vestig.

July Ndlovu, uitvoerende hoof van Thungela Resources, die steenkoolafdeling van Anglo American wat onlangs afsonderlik genoteer is.

Groeneffekte het ten doel om geld in te samel vir projekte wat tot ’n beter omgewing en die stryd teen klimaatsverandering bydra.

Daar is wêreldwyd toenemende druk op regerings om hul afhanklikheid van fossielbrandstof, waaronder olie en gas, drasties te verminder. ’n Groep van 457 beleggers wat bykans ’n derde van die wêreld se bates beheer, dring in ’n gesamentlike verklaring daarop aan dat regerings hul skadelike uitlaatgasse aansienlik vinniger sal moet verminder as die 2050-teiken vir zero uitlaatgasse, berig The Guardian.

Tracey Davies, uitvoerende direkteur van Just Share, het aan Rapport gesê selfs plaaslike maatskappye kom onder druk van buitelandse batebestuurders om ’n daadwerklike plan te hê om afhanklikheid van steenkool te te beëindig.

“Daar is ook druk van die burgerlike samelewing en verantwoordelike individuele beleggers wat maatskappydirekteure uitstem wat risiko’s wat met klimaatsverandering verband hou, nie behoorlik bestuur nie. Dis nie langer genoeg vir maatskappye om die klimaatsverwante risiko’s bloot in hul jaarverslae te vermeld nie.”

In dieselfde asem is daar ook steeds onwilligheid onder baie aandeelhouers om op te tree.

Die onlangse jaarvergadering van Anglo American dien as voorbeeld: 88% van sy aandeelhouers het gestem ten gunste van planne om die mynhuis se steenkoolmyne te ontknoop en afsonderlik te noteer.

’n Nuwe maatskappy, Thungela Resources, is gestig waarin die steenkoolmyne gehou word. Thungela het vroeg in Junie op die JSE genoteer.

“Pleks daarvan dat Anglo verantwoordelikheid aanvaar vir sy steenkoolmyne, dit heeltemal sluit en die omgewing rehabiliteer, maak hulle dit nou die las van ’n nuwe entiteit. Anglo is een van min mynhuise wat die kapitaal én die kundigheid het om hulle myne suksesvol te sluit. Maar hulle skuif die verantwoordelikheid af op iemand anders,” sê Davies.

Volgens haar moes institusionele beleggers Anglo verantwoordelik gehou en die transaksie verwerp het. “Maar nou beplan Thungela om selfs sy bedrywighede uit te brei. So, hierdie ontknoping gaan die vrystel van uitlaatgasse waarskynlik verder verhoog.”

Dit het tyd geword dat mense aanvaar steenkool behoort tot die verlede, aldus Davies. “Dit is lankal nie meer die goedkoopste manier van elektrisiteit opwek nie, want dit raak al hoe moeiliker om banke te kry wat steenkoolmyne wil finansier of ’n maatskappy te kry wat steenkoolmyne sal verseker.

“Die praatjies dat die vraag na steenkool vir die volgende 20 jaar nog sal groei, is net ’n front.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.