Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Amcu aan Sibanye oor afleggings: ‘Oorlog kom’

Die mynwerkersvakbond Amcu het Dinsdag ’n beroep op al sy lede in die land se goud- en platinummyne gedoen om in solidariteit saam te staak teen Sibanye-Stillwater.

Joseph Mathunjwa, president van Amcu, onlangs op ’n vergadering by een van Sibanye-Stillwater se goudmyne. Foto: Twitter

“Ons beheer dié myne,” het Joseph Mathunjwa, president van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) Dinsdag op ’n nuuskonferensie in Johannesburg gesê.

Sibanye-Stillwater se beleërde Beatrix- en Driefontein-goudmyn het laasweek met ’n formele konsultasieproses begin wat tot die aflegging van duisende mynwerkers kan lei.

Die maatskappy het Donderdag in ’n Sens-verklaring gesê oorlegpleging met vakbonde het amptelik begin ingevolge art. 189A van die Wet op Arbeidsverhoudinge.

Tot 5 870 mense – 9,6% van die maatskappy se arbeidsmag – en 800 kontrakteurs kan hiervolgens hul werk verloor.

Neal Froneman, uitvoerende hoof van Sibanye-Stillwater, het Donderdag in ’n klankopname gesê die maatskappy verstaan die pleidooi van sy werkers, maar herstrukturering raak nou noodsaaklik ook om die poste van werkers by die groep as geheel te beskerm.

Ons gaan hierdie oorlog reg tot vooraan Froneman se drumpel bring. Ons gaan mynbou in die land tot stilstand bring – Froneman kan nie ons lot bepaal nie.
Joseph Mathunjwa

Amcu-werkers by Sibanye se goudmyne het reeds in November oor salarisse begin staak, en in Januarie dié aksie ook tot Sibanye se platinummyne uitgebrei.

Nou dreig Mathunjwa met erger nywerheidsoptrede.

“Ons gaan hierdie oorlog reg tot vooraan Froneman se drumpel bring. Ons gaan mynbou in die land tot stilstand bring – Froneman kan nie ons lot bepaal nie,” het Mathunjwa Dinsdag op JakarandaFM gesê.

Mathunjwa het nie aangedui wanneer die sekondêre staking met lede van ander myne sal begin nie, maar sê dit sal verskeie myne betrek.

Onder meer sal Amcu-werkers by AngloGold Ashanti, Harmony Gold, Lonmin en Impala Platinum aan die staking deelneem.

Suid-Afrika se platinumprodusente sal ook vanjaar loononderhandelinge met vakbonde begin.

Die bestaande kontrakte is onderteken nadat Amcu die platinumbedryf in 2014 vir vyf maande tot stilstand gebring het met ’n staking van meer as 70 000 werkers oor die eis – wat nie toegestaan is nie – dat alle werkers R12 500 per maand verdien. Dié vernietigende staking het 1,2 miljoen fynonse produksie gekos wat toe nagenoeg R24 miljard werd was.

Meer oor:  Sibanye-Stillwater  |  Amcu  |  Joseph Mathunjwa  |  Neal Froneman  |  Platinum  |  Mynwerkers  |  Mynbou  |  Stakings  |  Vakbonde  |  Goudmyne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.