Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Amcu gaan nêrens heen nie, sê sy president
Joseph Mathunjwa, president van Amcu.Foto: Elvira Wood

Die vakbond Amcu gaan nêrens heen nie.

Hy is hier om te bly, al het hy kennis gekry dat sy registrasie as vakbond moontlik deur die departement van arbeid gekanselleer kan word.

Joseph Mathunjwa, president van Amcu, het Vrydag op ’n mediakonferensie in Kempton Park, Johannesburg, gesê die dreigende deregistrasie is polities en die “hand van witmonopoliekapitaal” is duidelik te sien in die tydsberekening van die kennisgewing hieroor.

Amcu en ander vakbonde begin oor twee maande met mynmaatskappye in die platinumsektor oor lone onderhandel.

Mathunjwa het spesifiek na Neal Froneman, uitvoerende hoof van Sibanye-Stillwater, verwys as iemand wat “waarskynlik ’n hand daarin het dat hy die regime in die mynbousektor” wil verander. Hy het gesê Froneman is net een voorbeeld, maar wou nie meer inligting gee nie.

Daniel Molefe, registrateur van arbeidsverhoudinge, het Dinsdag ’n kennisgewing in die Staatskoerant gepubliseer oor Amcu se moontlike deregistrasie.

Die redes wat hy hiervoor aanvoer, is:

  • Amcu het opgehou om te funksioneer ingevolge sy eie grondwet; en
  • Dit is nie ’n vakbond soos in die Wet op Arbeidsverhoudinge omskryf word nie.

Amcu het nou 60 dae om redes by die departement in te handig oor hoekom hy nie gederegistreer moet word nie.

Mathunjwa ontken heftig dat Amcu nie werklik ’n vakbond is nie. “Amcu is ’n vakbond en is geregistreer.

“Amcu het sedert sy stigting in 1998 aanhou groei en word ingevolge sy grondwet bedryf.

“Ons hou vergaderings en neem besluite saam met ons lede en nie in raadsale nie. Dit is hoekom ons ’n ware vakbond is. Ons tree op kragtens die vereistes van die Arbeidswet. Ons boeke is in orde. Ons hou ons vergaderings soos wat ons moet.”

Mathunjwa sê die verskoning wat nou gebruik word, is dat hy nie sy vyfjaarlikse nasionale kongres in 2018 gehou het nie. Maar Amcu hét die registrateur van arbeidsverhoudinge lankal reeds ingelig dat sy kongres tot Mei vanjaar uitgestel is. Dit is intussen verder uitgestel tot laat September vanjaar.

Mathunjwa sê omdat die vakbond vyf maande lank by Sibanye-Stillwater se goudmyne gestaak het, was van sy takke te besig om vir die kongres voor te berei.

Dié staking is vroeër vandeesmaand afgelas nadat Amcu en Sibanye-Stillwater ’n ooreenkoms bereik het.

Mathunjwa sê hy is baie seker daarvan dat Amcu se registrasie nie gekanselleer sal word nie. “Die vakbond sal aanhou funksioneer.”

Amcu vergader op 30 April met die registrateur.

Die vakbond het ook reeds regsadvies oor die kwessie ingewin.

Meer oor:  Joseph Mathunjwa  |  Mynbou  |  Amcu  |  Vakbond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.