Die vakbond Amcu gaan by Lonmin se platinummyne staak in solidariteit met hul kollegas wat by Sibanye-Stillwater werk.

Lonmin se Marikana-platinummyn.Foto: Verskaf
Sibanye-Stillwater is in die proses om Lonmin oor te neem.
Lonmin het Donderdag in ’n verklaring gesê die vakbond het hom Woensdag ingelig hy gaan van 28 Februarie tot 7 Maart staak.
Sibanye-Stillwater se Beatrix- en Driefontein-goudmyn het verlede week met ’n formele konsultasieproses begin wat tot die aflegging van duisende mynwerkers kan lei.
Die maatskappy het in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, gesê oorlegpleging met vakbonde het amptelik begin ingevolge art. 189 A van die Wet op Arbeidsverhoudinge.
Tot 5 870 mense – 9,6% van die maatskappy se arbeidsmag – en 800 kontrakteurs kan hiervolgens hul werk verloor.