Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Amcu-hoof: Daar ís geld vir gratis onderwys

Vanjaar se loononderhandelinge tussen die platinumsektor en die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) is soos ’n skietstilstand, wat veel beter is as die “Afganistan-styl”-onderhandelinge van 2014, beskryf Joseph Mathunjwa, president van dié vakbond, die huidige proses.

Hy het in ’n onderhoud op die Joburg Indaba in Sandton gesê Amcu kry die gevoel die mynmaatskappye besef mense moet as ’n bate en nie bloot as arbeid beskou word nie.

Die vakbond het in Julie met loononderhandelinge met Anglo American Platinum, Impala Platinum en Lonmin begin. Dit is steeds nie afgehandel nie.

Die vakbond eis ’n minimum loon van R12 500 vir sy laags besoldigde lede en ’n verhoging van 15% vir werknemers wat meer verdien. Daar is egter verskeie ander eise, soos maaltyd-, vervoer- en behuisingstoelaes.

Mathunjwa, wat ook aan ’n paneelbespreking deelgeneem het, sê vakbonde vertrou steeds nie die mynmaatskappye nie.

Hy meen die groot probleem in Suid-Afrika is nie die vrae oor pres. Jacob Zuma nie, maar eerder die ANC se ekonomiese beleid. Die “neoliberale stelsel” bevoordeel volgens hom net ’n klein deel van die bevolking.

Hoe kan ek jou vertrou as jy my R5 600 betaal om diep onder die grond te gaan werk terwyl die uitvoerende hoof R50 miljoen kry?
Joseph Mathunjwa van Amcu

Een probleem is hoe werkers vergoed word.

“Die huidige stelsel bepaal werkers se vergoeding gebaseer op vaardighede en ervaring. In ’n sektor waar die meeste mense trekarbeiders is, staan hulle nie ’n kans om beter salarisse te kry nie,” sê hy.

“Hoe kan ek jou vertrou as jy my R5 600 betaal om diep onder die grond te gaan werk terwyl die uitvoerende hoof R50 miljoen as ’n salaris kry uit al die geld wat ons maak?”

Gratis onderwys

Hy sê ’n gebrek aan onderwys is een van die groot probleme waardeur arbeiders in die gesig gestaar word.

“Ons ondersteun #FeesMustFall, maar nie die vernietiging van eiendom nie,” sê hy.

Volgens Mathunjwa het Suid-Afrika genoeg geld om vir gratis onderwys te betaal. Hy sê as Suid-Afrika die internasionale riglyn van sowat 2% van die bruto binnelandse produk (BBP) aan onderwys bestee, behoort daar sowat R88 miljard hiervoor beskikbaar te wees.

“Hulle gee egter net R16 miljard. Waar is die res? Gaan dit na Prasa, die Suid-Afrikaanse Lugdiens of SAUK-Hlaudi?”

Herstel vertroue

Op die vraag oor hoe vertroue herstel kan word, het hy gesê daar moet groter deursigtigheid wees en maatskappye moet die probleme van die verlede erken en daadwerklike stappe doen om dit op te los.

“Vertroue is nie om van werkers te verwag om 04:00 aan te meld vir werk nie. Gee ons ’n leefbare loon, nie net ’n minimum loon nie.”

Mathunjwa is oortuig arbeid en mynmaatskappye kan vreedsaam tot ’n vergelyk kom en het verwys na die onderhandelinge tussen die vakbond en Lonmin in 2015 toe 6 000 werkers uit diens gestel is.

“Dit was baie moeilik, maar dit is wat gedoen moes word en ons het dit vreedsaam afgehandel,” sê hy.

Oor die huidige ekonomiese omstandighede waar lae platinumpryse groot druk op die sektor plaas, meen hy daar moet groter fokus op plaaslike veredeling wees.

Meer oor:  Joburg Indaba  |  Joseph Mathunjwa  |  Platinum  |  Vakbonde  |  Amcu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.