Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Amcu kry nóg ’n dwarsklap in hof
Sibanye-Stillwater se Beatrix-goudmyn.

Die mynwerkersvakbond Amcu kan maar net nie sy sin by die howe kry nie.

Die arbeidshof het Maandag, net soos die geval was Vrydag, ’n aansoek van Amcu van die hand gewys.

Vrydag is Amcu se aansoek om ’n sekondêre staking te hou van die hand gewys.

Lees ook: Amcu wil stééds staak

Dié keer wou die vakbond ’n interdik bekom wat die mynmaatskappy Sibanye-Stillwater sou keer om voort te gaan met ’n art. 189-proses ingevolge die Arbeidswet.

Sibanye-Stillwater het op 14 Februarie aangekondig dat hy sy goudmynbedrywighede gaan herstruktureer.

Luidens die verklaring wat hy toe uitgereik het, kan nagenoeg 5 870 werknemers en 800 kontrakteurs deur dié proses beïnvloed word.

Die herstrukturering is spesifiek omdat Sibanye-Stillwater sy Beatrix 1-skagte en die skagte by Driefontein 2, 6, 7 en 8 in 2018 teen ’n verlies bedryf het.

“Om ’n herstrukturering van hierdie aard te oorweeg word nooit ligtelik opgeneem nie en ons is bewus van die moontlike invloed op ons werknemers.

“Soos ons gesê het toe ons die art. 189-proses aangekondig het, het ons konsekwent die operasionele en finansiële risiko’s wat met die geaffekteerde skagte geassosieer kan word, uitgelig op forumbyeenkomste, wat gereeld met belanghebbendes (insluitend die vakbonde) gehou is,” het Neal Froneman, uitvoerende hoof van Sibanye-Stillwater, Maandag in ’n verklaring gesê.

“Dit is gedoen in ’n poging om gesamentlik ’n oplossing te probeer vind vir hierdie probleme.

“Pogings om gesamentlike lewensvatbare alternatiewe te vind was egter tot dusver nie suksesvol nie. Die art. 189-proses het op 14 Februarie begin, en ons moedig Amcu en ander belanghebbendes aan om deel te neem aan hierdie proses, sodat ons gesamentlik maniere kan vind om moontlike werkverliese by die bedrywighede te verminder.”

Staking

Amcu staak reeds sedert 21 November 2018 by Sibanye-Stillwater se myne.

Hy het begin staak omdat hy nie tevrede is met die loonooreenkoms wat ander vakbonde met die mynmaatskappy gesluit het nie.

Hy het toe probeer om die staking na die res van die sektor uit te brei. Sy lede sou dan by die myne van 15 ander mynmaatskappye gestaak het.

Die arbeidshof het egter Vrydag sy aansoek om só ’n staking van stapel te stuur, van die hand gewys.

Amcu het reeds gesê hy gaan appèl aanteken teen dié uitspraak.

Meer oor:  Sibanye-Stillwater  |  Amcu  |  Neal Froneman  |  Afleggings  |  Staking  |  Arbeidshof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.