Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Amcu kyk op sy neus ná mislukte staking
Amcu-lede tydens ’n herdenking van die Marikana-slagting. Foto: getty images

Amcu is die groot verloorder ná sy mislukte staking van vyf maande by Sibanye-Stillwater se goudmyne. Sy lede sluit glo flink by Numsa aan nadat die staking, wat hulle derduisende rande aan verbeurde lone gekos het, hulle niks in die sak gebring het nie.

Amcu het dié week gedwee dieselfde loonooreenkoms onderteken wat in November reeds met Solidariteit, die NUM en Uasa onderteken is.

Nege mense is dood tydens die gewelddadige staking deur 14 000 Amcu-lede wat Sibanye sedert November R1,6 miljard gekos het.

Neal Froneman, uitvoerende hoof van Sibanye-Stillwater, sê aan Rapport dit stuur ’n sterk boodskap uit dat Sibanye nie geswig het onder druk van Amcu nie. “Dit sal hopelik konstruktiewe (platinum-)onderhandelinge aanmoedig eerder as dat werkers hulle tot ’n verkwistende staking wend.”

Sibanye neem nou van die platinumprodusent Lonmin se bedrywighede oor, en loononderhandelinge in die platinumsektor begin middel vanjaar.

Froneman word algemeen beskou as ’n man wat hom nie laat boelie nie.

’n Twitter-gebruiker het hom dié week bestempel as Suid-Afrika se Maggie Thatcher, wat as Britse premier in die 1980’s vakbonde daar se mag ingekort het.

Froneman sê Sibanye was bereid om “ ’n lang tyd” uit te hou, omdat hy die bedryfsrisiko’s by sy Suid-Afrikaanse bedrywighede uitgewys en die laaste paar jaar maatreëls ingestel het om hom daarvoor te posisioneer – sowel geografies as deur diversifikasie in kommoditeite.

Die goudmyn-afdeling maak ’n relatief klein deel van die onderneming uit en die groep is nie afhanklik van die inkomste uit goud nie, en kan staatmaak op die inkomste uit sy Suid-Afrikaanse eenheid vir die platinumgroepmetale en uit sy Amerikaanse beleggings.

“ ’n Staking is egter ’n vermorsing en vernietig waarde vir alle belangegroepe.”

Amcu verteenwoordig 40% van die werkers by Sibanye-Stillwater se goudmyne; die drie ander vakbonde 54%.

Neal Froneman van Sibanye-Stillwater.

Ingevolge die skikking kry Amcu-lede nou oor drie jaar verhogings van R700 per jaar oor drie jaar, presies dieselfde waarvoor die ander vakbonde reeds in November geskik het. Amcu het aangedring op R1 000 per jaar. As deel van die ooreenkoms met Amcu gee Sibanye wel ’n ex gratia-betaling van R4 000 per werker, maar alle werkers kry dit, nie net stakers of Amcu-lede nie.

Sibanye het ook ingestem tot ’n kontantvoorskot van R5 000 wat die werkers oor 12 maande kan terugbetaal. Die maatskappy sal betaal vir werkers se vervoer om terug te keer werk toe en hulle help met skuldkonsolidasie en -berading.

Froneman sê buiten dat die ooreengekome verhoging reeds verhogings bo inflasie beteken, het die gemiddelde basiese salaris vir werkers in laer kategorieë sedert 2013 met 65% gestyg. Dit beteken nie net ’n aansienlike verbetering vir werknemers se lewenspeil nie, maar neem ook die langtermyn-volhoubaarheid van die maatskappy se goudbedrywighede in ag.

Peter Leon, vennoot van die regsfirma Herbert Smith Freehills, meen die staking het Amcu se posisie vir die platinumonderhandelinge verswak omdat hy op sy sleuteleise gekapituleer het.

René Hochreiter, ’n mynontleder by Noah Capital Markets, stem saam, veral omdat dié onderhandelinge ná die verkiesing sal begin en die howe nie ’n simpatie-staking vir Amcu by die platinummyne toegelaat het nie.

Sowel Hochreiter as Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, sê dit kos Amcu-lede. Solidariteit verwelkom die ex gratia-betaling, maar sê sy lede het meer as dié bedrag aan inkomste verloor omdat hulle oortydbetaling, produksiebonusse en skoftoelaes verbeur het. Du Plessis sê hulle wil hê die maatskappy moet hulp gee aan mense wie se huise gedurende die staking afgebrand is, werkers wat beseer is of dié wie se motors beskadig is. 60 huise is afgebrand.

Die Mineraleraad van Suid-Afrika sê dié soort stakings is sleg vir mynmaatskappye én vir die staatskas, wat belasting en tantième verloor. Stakende werkers dra egter die swaarste las. Dit kan jare neem om die verlore lone en voordele in te haal.

Boonop kwel gewelddadige stakings internasionale beleggers, en hou kredietgraderingsagentskappe dit fyn dop.

Kenners bereken elk van die stakende werkers kon tot R59 000 verloor het as die gemiddelde maandelikse vergoeding van R14 000 in ag geneem word (minus die kontantbetaling van R4 000). Hochreiter sê skuld in die vyf maande aangegaan kan neerkom op terugbetalings van R75 000 plus rente van 20% aan mikroleners, dus tot R90 000. “Op ’n salaris van R15 000, as jy R1 000 per maand terugbetaal, kan 7,5 jaar neem.”

Meer oor:  Sibanye-Stillwater  |  Mynbou  |  Amcu  |  Staking  |  Mynboubedryf  |  Numsa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.