Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Amcu: ‘Ons gaan nie staak, ons begin ’n revolusie’

Die mynwerkersvakbond Amcu sê Sibanye-Stillwater daag hom opsetlik uit met ’n loonverhoging wat minder as die helfte van ander platinummyne s’n is. Nou is Amcu reg vir “oorlog”.

Joseph Mathunjwa, president van die mynwerkersvakbond Amcu. Foto: Getty Images

Joseph Mathunjwa, president van Amcu, het Dinsdag op ’n mediakonferensie gesê die loononderhandelinge in die platinumbedryf, wat elke drie jaar plaasvind, het erg versuur.

Die drie groot platinummynmaatskappye het in die derde en voorlaaste ronde van onderhandelinge hul jongste aanbiedinge gedoen.

Amcu, wat eis dat die minimum loon in die mynbedryf tot R17 000 per maand verhoog moet word (bykomende toelae vir behuising en verlof uitgesluit), sê hy is nie tevrede nie.

Amcu voer aan hy is die vakbond met die grootste ledetal wanneer dit by werkers in die platinumbedryf kom. Dié vakbond skroom ook nie om te sê hy is ’n militante vakbond nie.

Impala Platinum (Implats) en Anglo American Platinum (Amplats) se aanbiedinge is volgens Mathunjwa “naby genoeg” om mee te werk.

Sibanye-Stillwater se aanbod, aan die ander kant, is deur Amcu verwerp as ’n “skokkende” syfer.

Sibanye-Stillwater het besluit om afsonderlik met vakbonde by die voormalige Lonmin-myne te onderhandel en het ’n verhoging van slegs R300 aangebied. Die groep het onlangs die sukkelende Lonmin gekoop.

Mathunjwa sê dis ’n verdere bewys van die polities gemotiveerde verkryging van Lonmin en dat dit ingerig word om vir Amcu ’n “boodskap te stuur”.

So lyk die stand van loonvoorstellings vanuit die drie groot platinummyne en Sibanye se afsonderlike voorstelle vir sy Lonmin-myne nou:

Amplats:

  • Verhoging in eerste jaar: R1 000 (5,5% vir ambagslui)
  • Verhoging in tweede jaar: R800 (5,5% vir ambagslui)
  • Verhoging in derde jaar: R800 (5,5% vir ambagslui)

Implats:

  • Verhoging in eerste jaar: R800 (5% vir ambagslui)
  • Verhoging in tweede jaar: R800 (5% vir ambagslui)
  • Verhoging in derde jaar: R800 (5% vir ambagslui)

Sibanye-Stillwater RPM:

  • Verhoging in eerste jaar: R700 (4,3% vir ambagslui)
  • Verhoging in tweede jaar: R800 (4,3% vir ambagslui)
  • Verhoging in derde jaar: R800 (4,3% vir ambagslui)

Sibanye-Stillwater Lonmin:

  • Verhoging in die eerste jaar: R300 (3,3% vir ambagslui)
  • Verhoging in die tweede jaar: R350 (3,3% vir ambagslui)
  • Verhoging in die derde jaar: R400 (3,3% vir ambagslui)

“Hulle tart ons uit om te staak,” sê Mathunjwa met verwysing na die aanbod vir sy Lonmin-werkers.

Toe onderhandelinge in Mei begin het, het Neal Froneman, uitvoerende hoof van Sibanye-Stillwater, gesê hy is gereed vir wat Amcu sal doen as daar te groot eise gestel word.

“Moet ons nie met ’n staking dreig nie, want om doodeerlik te wees, ons sal ’n staking hanteer,” het Froneman in ’n onderhoud met Bloomberg gewaarsku.

Mathunjwa het Dinsdag gelag en gesê Sibanye-Stillwater “vra hiervoor”, maar is nie gereed vir wat kom nie.

“Ek sê vir jou (Sibanye), maak jou gordel vas. Hierdie gaan nie ’n staking wees nie, dit is ’n revolusie.”

Mathunjwa het uitgevaar teen die ANC wat hy sê slegs die belange van “kapitaal” bevorder.

“Die land is op ‘autopilot’. Daar is geen leierskap meer nie.

“Die elite maak enorme winste en betaal hulself buitensporige salarisse terwyl die werkers veg vir die krummels van die tafel. Dit kan nie so aangaan nie.”

Hy het daarop gewys dat die salaris van slegs twee topbestuurders by Sibanye saam, sowat R59 miljoen, genoeg is om vir elk van hul 10 000 werkers ’n R9 800-verhoging te gee.

Die platinumsektor is in 2014 vyf maande lank lamgelê deur ’n staking.

Meer oor:  Sibanye-Stillwater  |  Lonmin  |  Amcu  |  Joseph Mathunjwa  |  Neal Froneman  |  Mynbou  |  Loonverhogings  |  Platinum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.