Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Amcu: Ons sal staak as ons moet
Joseph Mathunjwa, president van Amcu. Foto: Daily Sun

Die mynwerkersvakbond Amcu sê sy lede sal staak as hulle moet. Dit is om hul sin te kry met loononderhandelinge in die platinumbedryf.

“Ons kan staak, óf ons kan ander stappe doen om ons misnoeë te toon,” sê Joseph Mathunjwa, president van Amcu.

Hy het Dinsdag die media in Rosebank, Johannesburg, toegespreek.

“Ons sal doen wat ons moet soos wat die wet ons toelaat. Ons kan enige tyd staak, maar ons kan ook besluit om vir ’n uur na die oppervlak te gaan en te gaan asem skep voordat ons weer ondergronds gaan om te werk,” sê hy.

Amcu het in Junie vanjaar aangekondig dat die vakbond aandring op ’n basiese salaris van R17 000 per maand vir sy lede.

Dit is ’n styging van R1 500. Hy wil hê dié verhoging moet elke jaar geld vir die tydperk van die loonooreenkoms. Die platinumbedryf kom gewoonlik ooreen oor lone vir ’n driejaartydperk.

Mathunjwa het Dinsdag bes gegee dat die vakbond nou bereid is om ’n maandelikse verhoging van R1 000 te aanvaar. Hy is egter nie bereid om vir enigiets minder te onderhandel nie.

“Ons wil egter steeds onderhandel om dié bedrag so na as moontlik aan R1 500 per maand te kry,” sê hy.

LEES OOK: Meer as 5 000 kan werk by Marikana-myn verloor

Mathunjwa sê dit is net Impala Platinum wat bereid is om dié bedrag ter tafel te lê.

Hy sê hy het reeds ’n geskil met ander produsente verklaar.

Dit is nou na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys. Die KVBA moet nou binne 30 dae ’n kommissaris aanstel om die dispuut tussen die groepe te bemiddel.

Mathunjwa sê hulle is egter baie bekommerd oor Sibanye-Stillwater se aanbod. “Die R300 per maand wat aangebied word is nie aanvaarbaar nie,” sê hy.

Hy het ook ’n geskil met Anglo American Platinum na die KVBA verwys.

Afleggings

Mathunjwa sê die vakbond is ook heftig gekant teen Sibanye-Stillwater se beplande herstrukturering by die Marikana-myn in Noordwes.

Sibanye-Stillwater het op 25 September aangekondig dat sowat 5 270 mense kan hul werk by dié myn verloor.

Die maatskappy het reeds met ’n art. 189-proses ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge begin. Die moontlike afleggings sluit in sowat 3 904 van Sibanye-Stillwater se eie werknemers en sowat 1 366 kontrakteurs.

Sibanye-Stillwater het die Marikana-myn bekom toe hy op 7 Junie die vorige eienaar, Lonmin, oorgeneem het.

Sibanye sê hy het geen ander keuse nie as om met ’n grootskaalse herstruktureringsproses by die myn te begin as hy dit volhoubaar wil bedryf.

Mathunjwa sê Lonmin se syfers wys dié maatskappy was winsgewend toe Sibanye-Stillwater dit oorgeneem het.

LEES OOK: Staking wag oor afleggings

“Ons het van die begin af die oorname van Lonmin teengestaan. Hierdie afleggings het niks te doen met winsgewendheid nie. Dit gaan alles oor die verwerkingsaanleg wat Lonmin gehad het en wat Sibanye-Stillwater wou hê.”

Mathunjwa sê deur Lonmin te bekom kan Sibanye-Stillwater nou platinum by sy ander myne produseer en dit dan verwerk by die aanleg wat aan Lonmin behoort het.

Hy het geen verdere besonderhede gegee oor wat die vakbond gaan doen om die beplande afleggings teen te staan nie.

Meer oor:  Sibanye-Stillwater  |  Mynbou  |  Amcu  |  Afleggings  |  Staking  |  Marikana
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.