Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Amcu: Samancor moet miljarde terugbetaal

Die mynwerkersvakbond Amcu wil hê Samancor Chrome moet miljarde rande wat hy beweer dié maatskappy onwettig uit die land gesmokkel het, terugkry en aan minderheidsaandeelhouers betaal.

Die mynwerkersvakbond Amcu, onder leiding van Joseph Mathunjwa, beskuldig Samancor Chrome van grootskaalse bedrog.Foto: Twitter

Richard Spoor, die vakbond se regsverteenwoordiger, sê hoewel hulle nog nie heeltemal seker is van die totale bedrag wat deel van die beweerde korrupsie was nie, reken hulle dit beloop sowat $1,9 miljard oftewel R28 miljard in vandag se geld.

Die meeste van die oordragte na maatskappye wat in lande soos Malta en die Britse Maagde-eilande gevestig was, het tussen 2005 en 2010 plaasgevind.

Spoor het Woensdag saam met Joseph Mathunjwa, president van Amcu, en Dick Forslund, hoofekonoom van die Alternatiewe Inligtings- en Ontwikkelingsentrum (AIOS), die media in Rosebank, Johannesburg, oor die aangeleentheid toegespreek.

Amcu tree op namens ’n werkerstrust, Ndizani Workers ESOP Trust, wat ’n belang van 5,6% in Samancor besit.

Hulle het reeds op 2 Oktober ’n aansoek by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien om Samancor te dwing om sy boeke beskikbaar te stel.

Samancor is nie genoteer nie en hoef dus nie sy boeke aan buitestanders beskikbaar te stel nie.

Amcu beweer dat Danko Koncar, ’n Kroatiese miljardêr, miljarde rande na die buiteland gesmokkel het met behulp van ’n oordragprysskema, die verkoop van bates en geheime bestuursgelde.

Amcu beweer ook dat dié oordragte nie net daartoe gelei het dat Samancor hom aan belastingontduiking skuldig maak nie, maar ook dat die winste in die vorm van dividende aan die ESOP betaal kon word.

Die beweringe wat Amcu maak is:

  • $125 miljoen is in April 2007 na ’n Nedbank-rekening in Londen oorgeplaas tot voordeel van drie direkteure. ’n Maatskappy met die naam Kermas BVI was glo by dié transaksie betrokke. Kermas is in die Britse Maagde-eilande, ’n belastingtoevlugsoord, geregistreer.
  • Verkoopskommissie van 9% sonder enige betekenisvolle diens is aan Samchrome Malta betaal om alle internasionale verkope van Samancor se produkte te hanteer. Dit blyk dat dié maatskappy geen werknemers gehad het nie, maar tog miljoene dollars wins per jaar aangeteken het. Die 9%-kommissie was ook beduidend hoër as die 2,5% wat Samancor voorheen aan BHP Billiton vir dieselfde diens betaal het;
  • Bestuursgelde van $4 miljoen wat in 2008 betaal is; en
  • Omkoopgeld in die vorm van 14,1 miljoen aandele in die Australiese mynmaatskappy Sylvania. Dié maatskappy het die reg gekoop om Samancor se ou mynhope weer tussen 2006 en 2008 te verwerk.

Miodrag Kon, ’n voormalige direkteur van Samancor, is die fluitjieblaser wat Amcu en die AIOS van die gebeure ingelig het.

Forslund sê Kon het meer as 1 000 bladsye met bewyse aan hulle oorhandig.

Spoor sê die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is ingelig oor die beweringe van grootskaalse belastingontduiking.

“Ons het egter nog geen terugvoering ontvang nie. Ons sal die dokumente weer na die SAID stuur,” sê hy.

Hy sê hulle het nie die Valke in die ondersoek betrek nie.

Spoor sê Samancor het tyd tot 18 Oktober om aan te dui of hulle die aansoek gaan teenstaan. Hy sê indien Samancor dit teenstaan, het hy dan tyd om verklarings by die hof in te dien.

Samancor het die beweringe ten sterkste ontken in ’n verklaring wat aan Netwerk24 gestuur is.

Hy sê in die verklaring hy gaan gegee die beweringe ’n onafhanklike kommissie van ondersoek aanstel om al die bewerings te ondersoek. 

“Samancor het regsadvies ingewin oor die bewerings wat Amcu gemaak het met die hulp van die sogenaamde ‘dapper fluitjieblaser’ wat om skadevergoeding vra vir die inligting wat hy verskaf het.

“Samancor beskou dit as kwaadwillig en opportunisties.

“Die aangeleentheid sal op ’n gepaste tyd deur die toepaslike forum behandel word en die hofproses word gevolg,” sê hy in die verklaring.

Die SAID het nog nie op 'n versoek om kommentaar gereageer nie.

Meer oor:  Samancor  |  Richard Spoor  |  Joseph Mathunjwa  |  Chroom  |  Mynbou  |  Vakbonde  |  Amcu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.