Die mynwerkersvakbond Amcu gaan sy beplande staking by 15 myne uitstel totdat ’n hof beslis of dié simpatie-staking wettig is.

Sibanye-Stillwater se Beatrix-goudmyn.
Laasweek het Amcu aan 15 myne landwyd kennis gegee dat die vakbond se werkers in solidariteit met lede by die beleërde Sibanye-Stillwater-goudmyne gaan staak. Die simpatiestaking sou Donderdag met die aanvang van die nagskof begin het.
Maar verskeie mynmaatskappye, insluitend Anglo American en Anglo American Platinum, het ’n dringende interdik vanaf die howe versoek op die staking te keer. Die maatskappye sê dat so ’n omvattende staking die reeds onderdrukte bedryf sal knou.
Manzini Zungu, Amcu-woordvoerder, het Donderdag gesê die staking “kan nie begin totdat daar ’n beslissing is vanuit die howe nie”. Die arbeidshof het Woensdag aand laat uitspraak voorbehou.
Amcu-werkers by Sibanye se goudmyne het reeds in November oor salarisse begin staak, en in Januarie dié
aksie ook na Sibanye se platinummyne uitgebrei.
Sibanye se Beatrix- en Driefontein-goudmyn het op 14 Februarie met ’n formele konsultasieproses begin wat tot die aflegging van duisende mynwerkers kan lei.
Nadat oorlegpleging met vakbonde amptelik begin het
ingevolge art. 189A van die Wet op Arbeidsverhoudinge, het Amcu besluit om sy staking voort te sit, terwyl ander vakbonde, soos Solidariteit, die National Union of Mineworkers en Uasa, ’n ooreenkoms oor salarisse gesluit het.
Tot 5 870 mense – 9,6% van die maatskappy se arbeidsmag – en 800 kontrakteurs kan in dié proses hul werk verloor. – Bloomberg, verwerk