Die staking van Amcu-werkers by die mynmaatskappy Sibanye-Stillwater is ná vyf maande verby.
Die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) en die mynmaatskappy het Woensdag tot ’n vergelyk gekom.
Die vakbond se lede het in November begin staak weens ’n loongeskil met Suid-Afrika se grootste goudprodusent.
Amcu was nie tevrede met die loonooreenkoms wat ander vakbonde met die mynmaatskappy gesluit het nie.
Ander vakbonde het voorheen ’n salarisverhoging van R650 vir die eerste jaar, R700 vir die tweede jaar en R825 vir die derde jaar aanvaar.
Amcu wou egter salarisse tot ’n minimum van R12 500 verhoog met ’n verdere verhoging van R1 000 per jaar vir die volgende drie jaar.
James Wellstead, hoof van beleggersverhoudinge by Sibanye, het gesê werkers sal ná die Paasnaweek terugkeer werk toe. – Fin24