Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Amplats betaal dividend te midde van pandemie

Anglo American Platinum (Amplats) beloon beleggers met ’n stewige tussentydse dividend.

Werkers in Amplats se Dishaba-myn. Foto: Verskaf

Natascha Viljoen, uitvoerende hoof van die platinumgroep, het Maandagoggend in ’n aanlyn voorlegging gesê ’n dividend van R10,23 per aandeel word vir die ses maande tot einde Junie verklaar.

Dis wel effens minder as die tussentydse dividend per aandeel van R11 ’n jaar tevore, maar kom terwyl tientalle maatskappye vanjaar half- en voljaardividende opgeskort het te midde van die onsekerheid wat die Covid-19-krisis op markte skep.

Viljoen sê hoewel die maatskappy se myne beduidend minder platinumgroepmetale (PGM’e) gedurende die halfjaar geproduseer en verwerk het, het die 80%-styging in die randprys van die edelmetaal gehelp dat inkomste uit verkope van R42,9 miljard ’n jaar gelede tot R54,8 miljard gestyg het.

Die mandjieprys vir PGM’e het van $1 255 per ons tot $1 956 per ons gestyg. In rand het die prys van R17 901 tot R32 166 per ons gestyg.

Produksie het met 25% tot 1,6 miljoen ons gedaal. Viljoen sê dis hoofsaaklik weens die staat van inperking in Suid-Afrika en Zimbabwe.

Probleme by die Waterval-smelter in Rustenburg het meegebring dat verwerkte platinum met 46% tot 1,24 miljoen ons gedaal het. Viljoen sê beurtkrag gedurende die eerste kwartaal van die jaar het ook ’n negatiewe invloed op sowel produksie as verwerking gehad.

Sy sê die smelter behoort teen die einde van die jaar herstel te wees.

Die laer produksie het bygedra dat die produksiekoste per ons met 26% van R9 951 per ons tot R12 555 per ons gestyg het.

Vir die ses maande het Amplats se basiese verdienste per aandeel met 8% van R27,88 tot R25,46 gedaal

Wesensverdienste per aandeel het met bykans 7% van R28,15 tot R26,27 gedaal.

Amplats het op 30 Junie R11,3 miljard in die bank gehad. Dit is teenoor die R6 miljard ’n jaar tevore.

Pandemie

Benewens laer produksie weens die staat van inperking, het die Covid-19-pandemie die maatskappy ’n verdere R1,45 miljard uit die sak gejaag.

R1,2 miljard hiervan is bestee om salarisse en byvoordele aan alle werknemers te betaal, selfs vir die tydperk wat hulle nie by die werk was nie.

Viljoen sê ’n groot deel van die bedrag is bestee aan salarisse van personeel wat om gesondheidsredes nog nie kon terugkom werk toe nie of aan werknemers wat in buurlande woon en weens die inperking nog nie kon terugkom werk toe nie.

Viljoen het bevestig dat die maatskappy sal voortgaan om hul salarisse ten volle te betaal totdat dit vir hulle veilig en moontlik is om terug te kom werk toe.

Die oorblywende R250 miljoen is bestee om te verseker dat myne aan die nodige maatreëls voldoen sodat werknemers veilig kan terugkeer werk toe.

Van die geld is ook in gemeenskappe naby die myne vir dieselfde doel gebruik.

Viljoen sê in dié stadium is die myne weer 85% in bedryf.

Die maatskappy het egter produksie van sowat 585 000 ons PGM’e weens die pandemie verloor.

Veiligheid

Gedurende die ses maande is geen mynwerkers aan diens dood in myne wat deur Amplats bedryf word nie.

Viljoen sê dit is die beste prestasie nóg, met 620 dae wat sonder enige sterftes verloop het.

Een mynwerker is wel in die Kroondal-myn dood. Hoewel Amplats ’n belang in Kroondal besit, word die myn deur Sibanye-Stillwater bedryf.

Amplats verhandel Maandagoggend net meer as 3% hoër teen R1 480,54 per aandeel op die JSE.

Meer oor:  Amplats  |  Koronavirus  |  Vlak 3  |  Inperking  |  Covid-19  |  Platinum  |  Staat Van Inperking  |  Mynbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.