Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Amplats daal met 2% ten spyte van stewige dividend

Nie eens ’n tussentydse dividend van R11 per aandeel kon aandeelhouers Maandag opgewonde maak oor Anglo American Platinum (Amplats) se resultate nie.

Amplats se Tumela-platinummyn. Foto: Amplats

Amplats het in ’n stadium meer as 2% tot R813,94 op die JSE geval nadat die maatskappy sy syfers vir die halfjaar tot einde Junie bekend gemaak het.

Amplats sê in ’n verklaring op Sens, die JSE se nuusdiens, sy wesensverdienste het met 120% tot R7,4 miljard gestyg teenoor die vorige vergelykende tydperk. Sy wesensverdienste per aandeel was 120% hoër op R28,15.

Sy inkomste het met 28% tot R42,9 miljard  gestyg, hoofsaaklik danksy ’n beter mandjieprys vir die platinumgroepmetale (PGM’e) asook ’n aanpassing van R1 miljard ten opsigte van sy voorraad.

Die maatskappy het aan die einde van die tydperk onder oorsig sowat R6 miljard kontant in die bank gehad teenoor R2,9 miljard teen die einde van die vorige 12 maande op 31 Desember.

Die gemiddelde mandjieprys van PGM’e het met 16% tot $2 685 per ons gestyg gedurende die eerste helfte van die 2019-boekjaar, vergelyke met die ooreenstemmende 12 maande in die vorige jaar.

Chris Griffith, uitvoerende hoof van Amplats, waarsku egter dat belanghebbendes nie die maatskappy se uitdagings uit die oog moet verloor ná die afgelope goeie halfjaar nie. Dit is onder meer probleme met elektrisiteitsverskaffing en die staking by sy Mototolo-myn.

Lone

Griffith sê vakbonde moenie in loononderhandelinge onrealistiese eise stel nie. Amplats beplan om ’n inflasieverwante loonverhoging ter tafel te lê.

Luidens Statistieke Suid-Afrika was inflasie in Mei 4,5%.

Die vakbond Amcu het in Junie aangekondig dat sy lede ’n basiese salaris van R17 000 per maand gaan eis.

In die 2016-onderhandelinge het die vakbond op R12 500 as basiese salaris aangedring, maar uiteindelik op ’n laer bedrag geskik.

As Amcu vanjaar suksesvol is, sal sy lede, wanneer byvoordele soos vir reis, behuising, medies of pensioen bygereken word, uiteindelik tot R30 000 per maand kan verdien.

Meer oor:  Amplats  |  Platinum  |  Mynbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.