
Amplats se Tumela-myn in Noordwes. Foto: Amplats
Anglo American Platinum (Amplats) het ’n ervare lid van sy moedermaatskappy, Anglo American, se bestuurspan, Natascha Viljoen, as uitvoerende hoof aangestel.
Die aankondiging Woensdag kom net drie dae nadat die maatskappy bekend gemaak het Chris Griffith, wat die platinumprodusent sewe jaar lank gelei het, het bedank om ander loopbaangeleenthede na te streef.
Viljoen is die afgelope ses jaar hoof van Anglo se afdeling vir verwerking. Sy sal haar pos op 16 April, die dag van die maatskappy se jaarvergadering, inneem wanneer Griffith amptelik die tuig neerlê.
Norman Mbazima, voorsitter van die direksie, het Viljoen in haar nuwe rol verwelkom.
“Sy ken ons en ons onderneming goed en het die afgelope vyf jaar met ons bestuurspan saamgewerk om die veranderinge te lei wat vereis is om die prestasie – en handelswaarde – van ons verwerkingsbedrywighede te verbeter.”
Sy was vantevore by Lonmin. Sy het haar loopbaan as ingenieur by die destydse Iscor begin (deesdae ArcelorMittal Suid-Afrika se Vanderbijlpark-aanleg) en was ook al in bestuursposte by AngloGold Ashanti en BHP.
Amplats sê onder Viljoen se leiding het haar span tegnologie ontwikkel en ontplooi om die “volle potensiaal van mineraalneerslae deur verwerking te ontsluit, wat beduidende finansiële waarde en mededingende voordele opgelewer het”.

Natascha Viljoen
Viljoen en haar span het sogenaamde growwedeeltjie-herwinningstegnologie ontwikkel wat metale en rots skei teen ’n fraksie van die energie en water wat tradisionele metodes benodig.
Viljoen sê in ’n verklaring sy voel opgewonde oor haar nuwe rol.
“Ek is gelukkig om ’n onderneming in so ’n sterk posisie te erf. Chris Griffith het ons portefeulje platinumgroepmetale hervorm om gepas vir die toekoms te wees en ek glo ons het nou die geleentheid om nuut te dink oor hoe ons sake doen – in ons myne en gasheer-gemeenskappe,” sê sy.
“Dis ook ons verantwoordelikheid om die wye verskeidenheid toepassings uit te bou vir ons PGM’e (platinumgroepmetale) wat reeds so ’n deurslaggewende rol speel op so baie gebiede van die moderne lewe – van skoon vervoer en energie tot gesondheid en natuurlik juweliersware.”