Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Amsa veg voort teen taks op skroot
Die regering wil ’n stywe uitvoerbelasting op skrootmetaal hef van R1 000 per ton.

Die regering se voorgestelde uitvoerbelasting op skrootmetaal is ’n “groot fout” wat onherstelbare skade aan die Suid-Afrikaanse vervaardigingsektor kan aanrig.

Dít is die mening van die staalvervaardiger ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa).

As die belasting wel ingestel word, behoort dit hoogstens teen R50 per ton gehef te word pleks van die huidige voorstel van R1 000 per ton, wat buitensporig is, het Colin Hautz, bemarkingshoof van Amsa, in ’n voorlegging Woensdag aan die parlement se staande komitee oor finansies gesê.

Die komitee het ’n openbare sitting gehou oor die jongste konsepwysigingswetsontwerp oor belastingwette.

Volgens Amsa is daar nie ’n tekort aan skrootmetaal van goeie gehalte in Suid-Afrika nie, en ’n belasting op die uitvoer van skrootmetaal sal plaaslike pryse afdruk, wat negatief sal wees vir die informele insamelaars van afvalyster.

Suid-Afrika produseer al sedert 1934 staal, en daar is reeds ’n poel van sowat 140 miljoen ton se skrootmetaal wat teen ’n netto koers van sowat twee miljoen ton per jaar groei, sê Hautz. Dit is omdat sowat 4,5 miljoen ton se skrootmetaal jaarliks bykom van plaaslike en internasionale bronne, en sowat 2,5 miljoen hiervan dan in plaaslike staalproduksie gebruik word of uitgevoer word.

Amsa meen die klagtes dat daar te min skrootmetaal beskikbaar is, is omdat pryse te laag is om skroothandelaars te motiveer om genoeg skrootmetaal te gaan soek en dit te sorteer. As huidige pryse te laag is om meer skrootmetaal te versamel, sal ’n uitvoerbelasting nie die antwoord wees nie, want dit sal handelaars nog meer ontmoedig om skrootmetaal in te samel.

Amsa meen die belasting sal ’n regstreekse subsidie aan elektriese staalvervaardigers wees, tot nadeel van die vervaardigers wat ystererts gebruik, en dit sal die staalmark verwring.

Scaw Metals het op sy beurt gevra die regering behoort eerder alle uitvoer van skrootmetaal te verbied eerder as om ’n uitvoerbelasting daarop te hef.

Scaw Metals meen die voorgestelde R1 000 per ton moet andersins op alle lande van toepassing wees.

Die huidige voorstel is dat uitvoer na die lande in die Europese Unie net ’n heffing van R500 per ton kry, terwyl skrootmetaal tariefvry na buurlande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) uitgevoer mag word.

Lenn Swanepoel, hoof van Scaw Metals se skrootverwerkingsafdeling, sê in sy voorlegging uitvoerders sal dié skuiwergate bloot benut om skrootmetaal tariefvry via buurlande na Indië of China uit te voer. Mauritius is ’n lid van die SAOG en Scaw het verneem aluminiumafval word tans na Mauritius uitgevoer en daarvandaan na Indië.

Swanepoel het daarop gewys die pryse van skrootmetaal word internasionaal in dollar bepaal, en as die rand verswak, sal die voorgestelde belasting in rand nie toepaslik wees nie. Scaw is ook gekant daarteen dat skrootmetaal in vraghouers verpak word vir uitvoer. Dit moet as losmaat-vrag verskeep word sodat daar meer deursigtigheid is oor watter gehalte skrootmetaal uitgevoer word.

Die plaaslike tak van die internasionale sinkvereniging het op sy beurt gevra sink- en sinkallooi-afval, asook titaan-, lood- en wolfram-skroot, behoort ook ingesluit te word by die uitvoerbelasting. Hulle meen dit moet teen R3 000 per kilogram belas word omdat dit sulke skaars en hoogs herwinbare metale is.

Meer oor:  Amsa  |  Mynbou  |  Jan Taks  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.