Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
ANC en DA dit eens: Handves moet waai
Mmusi Maimane, leier van die DA. Foto: JABU KUMALO

Die ANC en DA mag dalk oor baie dinge verskil, maar hulle stem saam dat die nuutste weergawe van die Mynbouhandves hersien moet word.

Dr. Zweli Mkhize, tesourier-generaal van die ANC, en Mmusi Maimane, leier van die DA, was Woensdag albei sprekers op die Joburg Indaba, ’n gespreksreeks oor die mynbousektor wat in Sandton, Johannesburg plaasvind.

Die derde weergawe van dié beleidsdokument is in Junie deur Mosebenzi Zwane, minister van minerale bronne, in die Staatskoerant gepubliseer.

Die Kamer van Mynwese is só heftig teen die inhoud van die dokument gekant dat hy hom onmiddellik op die hof beroep het om ’n interdik teen die toepassing daarvan te bekom.

Zwane het intussen onderneem om die nuwe handves nie in werking te stel voordat die hof besluit het oor die interpretasie van sekere elemente daarvan nie.

Die saak daaroor word eers in Desember hervat.

“Die beste manier om geskille oor die nuwe Mynbouhandves op te los, is om weer daaroor te onderhandel,” sê Mkhize.

“Die ANC is bewus van die Kamer van Mynwese se klagte dat die nuwe handves elemente bevat waaroor daar glo nooit onderhandel is nie.

“Hoewel ons besef dat daar tans ’n hofsaak oor die dokument aan die gang is, dink ons dit sal die beste wees om weer daaroor te onderhandel.”

Maimane stel voor die dokument moet saam met die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne (MPRDA) opgeskeur word en daar moet van voor af daarmee begin word.

“Wanneer ons na dokumente soos die handves en die MPRDA kyk, kan ons sien dit is deur ’n minister wat in ’n private Gupta-vliegtuig rondvlieg, geskryf,” sê Maimane.

“Zwane is ’n ambassadeur van Saxonwold. Hy verstaan nie die impak van die handves nie want hy doen met wat daar aan hom gesê word om te doen,” sê Maimane.

Afgevaardigdes wat die indaba bywoon is ook ontevrede oor die handves en die leierskap wat die minister aan die sektor bied.

Die afgevaardigdes is gevra om aan ’n informele peiling deel te neem voordat politici hul voordragte sou lewer. Op die vraag  wat die een ding is wat hulle sou wou sien die ANC vir mynbou moet doen, was die uitslag as volg:

  • Gee ons ’n nuwe minister: 41,7%
  • Onderhandel weer oor die handves: 26,6%
  • Los ons uit: 24,3%
  • Keur die voorgestelde MPRDA goed: 4,1%
  • Laat die sektor vir sy geskiedenis betaal: 3,2%
Meer oor:  Da  |  Anc  |  Zweli Mkhize  |  Joburg Indaba  |  Mynbou  |  Mynbouhandves
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.